Adjunkpresident ontwyk parlementêre vrae

Adjunkpres. David Mabuza (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Adjunkpresident David Mabuza het Woensdagmiddag tydens vraetyd in die Nasionale Vergadering vrae oor die uitkringende Bosassa-skandaal ontwyk.

Mabuza, wat dieselfde vermoë as oudpres. Jacob Zuma openbaar om in reaksie op vrae deur lede van die opposisie baie te praat sonder om hom enigsins aan die gestelde vraag te steur, het gewoon glad nie gereageer op ‘n vraag van die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, oor wanneer die regering op die Bosassa-skandaal gaan reageer nie.

Steenhuisen het uitgewys dat die ANC-LP Vincent Smith en die adjunkminister van justisie, Thabang Makwetla (‘n voormalige premier van Mpumalanga) reeds deur dokumentêre bewyse aan omvattende bevoordeling deur Bosassa (‘n veiligheidsmaatskappy) gekoppel word. Steenhuisen het voorspel dat ministers wat ook bevoordeel is, binne die volgende week aan die kaak gestel sal word.

Mabuza het geheel en al glad nie gereageer nie, behalwe om te sê as daar oortredings was moet klagtes gelê word.

Op ‘n vraag van die Agang-LP Andries Plouamma oor wanbestuur in Mpumalanga terwyl Mabuza die provinsiale premier was, het Mabuza aangevoer dat daar die afgelope paar jaar verbeterings in Mpumalanga se ouditbevindings was. Hy het erken dat die provinsie onder sy leierskap probleme gehad het wat kundigheid, bestuursvaardigheid en betalings vir dienste gelewer betref. Nietemin het hy gekonsentreer op die paar opmerkings wat die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu, oor die stadige verbetering in Mpumalanga se ouditbevindings gemaak het

Plouamma se opvolgvraag was of Mabuza sal bedank siende hy net so ‘n slegte premier as Supra Mahumapelo in Noordwes was, maar die speaker (en ANC-LP) Baleka Mbete het haar posisie gebruik om alle opvolgvrae oor Mabuza se ampstermyn buite orde te reël, insluitend ‘n DA-vraag oor die wanbesteding van R100 miljoen op die skoolvoedingskema toe hy premier was.

Mabuza se enigste opmerking was dat hy nie meer premier is nie en dat die huidige regering van Mpumalanga die vrae oor sy ampstyd moet antwoord. Hierdie opmerkings is gemaak terwyl hy geglimlag het soos ‘n kat met room en die ANC-koukus hom ewe luidrugtig toegejuig het as wat hulle eens met Zuma gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Paul ·

Nou vra ek hoe polities korrek moet ons dan nog wees? Afrikaners en Afriforum mag nie die waarheid besig nie of hulle word aangeval deur die linkse pers. En ek praat nie van die Engelse pers nie.

Paul ·

Herman Toerien het vandag oor Morele Kompas geskryf. I rest my case.

Koos ·

David Mabuza is ‘n gladde, slinkse kalant. So sk–m soos die houtjie van die galg!!!
Met Ace Magashule as deel van die top kaders in die ANC, is Cyril Ramaphosa met dié twee hier genoem in sy nes, genoodsaak om of so gou moontlik op te tree en aksie te neem teen die soort “leiers” of dan maar uitgeskop te word deur die vrot kol in die skuim van die ANC!

Hennie ·

En die wat in Nelspruit woon weet mos waar die National Lottey sit, dis in Mabuza House.

Hennie ·

Mabuza is duidelik een van Zuma se kaders. ‘n Uiters swak keuse deur Ramaphosa, daardeur stel hy sy eie motief bloot.

Judge Dredd ·

Die top 6 is deur die ANC se nasionale konvensie verkies – nie deur Ramaphosa – ek se maar net.

Grassie ·

Daar is ‘n moontlikheid dat hy nog vorentoe vir CR gaan opvolg as president. En dan is sy geheue ook nog swak. Hy kon mos ‘n paar dae gelede nie onthou hoe hy op die Guptas se vliegtuig beland het en wat hy saam met hulle in Rusland gaan doen het nie. Hy het seker maar net vergeet van Bosassa en al die onheile tydens sy bewind in Mpumalanga. En die ANC juig hom toe. Mag die Skepper hierdie droewe land behoed.

Sp ·

Elke arrogante en skelm bedrieër kry sy dag. Dit staan in ons Bybel.
Sy val gaan kom, wanneer hy dit die minste wil hê.
Sy nagte is nie so rustig nie. Maskers is bedrieglik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.