Adjunkpresident op verkeerde voet betrap oor Reserwebank

Pres. Cyril Ramaphosa en adjunkpres. David Mabuza (Foto: GCIS)

Adjunkpresident David Mabuza het gister verskeie kere sy rieme styfgeloop in die Nasionale Vergadering, onder meer oor die Guptas en die Reserwebank.

Sy eerste misstap was toe hy verkeerdelike bewerings oor die bevindings van die graderingsagentskap Moody’s rakende die land se ekonomiese stabiliteit gemaak het.

Mabuza was tydens vraetyd vanmiddag heel windmakerig oor die verbetering in die land se ekonomiese vooruitsigte tot hy hom in die DA-LP David Maynier vasgeloop het.

Maynier het hom gevra waar hy staan oor die nasionalisering en die opsegging van die Reserwebank se onafhanklikheid. Die ANC as party het hom reeds in die verlede ten gunste van die nasionalisering van die Reserwebank uitgespreek.

Mabuza het beweer dat Maynier se vraag buite orde is omdat Moody’s glad nie na die Reserwebank verwys het nie. Die adjunkpresident is toe aan die verleentheid blootgestel dat Maynier uit die Moody’s-verslag aangehaal het dat die onafhanklikheid van die Reserwebank ‘n groot bydraende faktor was wat tot die verbetering in die land se gradering gelewer het.

Op daardie punt het die speaker, Baleka Mbete van die ANC, aan Mabuza se kant ingegryp en beslis dat hy nie op Maynier se vraag hoef te reageer nie.

Dit het daartoe gelei dat verskeie LP’s van sowel die DA as die EFF vir Mabuza as ‘n leuenaar uitgekryt het. Hoewel ANC-LP’s aangevoer het dit is teen die parlementêre reëls om ‘n LP ‘n leuenaar te noem, het Mbete, wat teen hierdie tyd nogmaals beheer oor die gebeure verloor het, nie die lede van die opposisie beveel om die stellings oor Mabuza as ‘n leuenaar terug te trek nie.

Kort daarna het die EFF se adjunkhoofsweep, Hlengiwe Mkhaliphi, vir Mabuza daaraan herinner dat die Guptas en Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, vir hom ‘n vliegtuig verskaf het om Rusland te besoek toe hy nog premier van Mpumalanga was.

Mkhaliphi het Mabuza daaraan herinner dat sowel Duduzane Zuma as die Guptas tans weier om voor die parlementêre ondersoek na staatskaping van Eskom te verskyn en trouens voortvlugtig is. Sy wou dus weet waar Mabuza se kennisse, die Guptas en Duduzane Zuma, hulle tans bevind.

Mabuza het geantwoord dat dit nie sy werk is om voortvlugtiges op te spoor nie, en het dieselfde antwoord herhaal toe die DA-LP Natasha Mazzone hom gevra het om sy invloed te gebruik om die Guptas, Duduzane Zuma en die voormalige SAL-voorsitter Dudu Myeni so ver te kry om voor die parlement te verskyn soos die wet vereis.

Toe die DA-LP dr. Michael Cardo vir Mabuza vra of hy saamstem met die pas uitgetrede statistikus-generaal, Pali Lehohla, dat die beroepsgerigte onderrig van swart jeugdiges agteruitgegaan het sedert 1994,  en indien wel, wat die redes daarvoor is, het Mabuza saamgestem met die stelling, maar die apartheidsjare daarvoor geblameer.

Volgende aan die beurt was die EFF-LP Philip Mhlongo, wat gevra het hoe die voormalige minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane, in die kabinet kan aanbly as minister van kommunikasie na haar rekord as minister van water en sanitasie, het Mabuza gesê as Mokonyane iets verkeerd gedoen het, moet die parlement haar aanspreeklik hou deur die staande komitee oor openbare rekeninge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Alta van Zyl ·

Hie hie hieeee Willem…..dis baie snaaks! Ek het lekker gelag (netsowel, anders bars ons dalk in trane uit oor die onbevoegdheid van ons Adjunk President…ai, siestog!)

PJC ·

Een of ander tyd gaan Mabuza sy rieme styf loop soos wat al meer en meer van sy doen en late op die lappe kom.

Joshua ·

n Klomp onbevoegde en korrupte ANC narre in hul eie tragiese sirkus.

Jack Klok ·

Nog ‘n man wat ver bokant sy vermoë bevorder is nie op grond van sy vermoë nie maar op grond van sy party verbintenis en velkleur.

Pragtige voorbeeld van hoe BBBEE werk.

Johan ·

Hierdie berig (ek aanvaar dit is feitelik korrek) bevestig net weereens die onbevoegdheid en onkunde van sommige van ons leiers. Kan ons net asseblief nou met ons nuwe en seer sekerlik bekwame president sorg dat die regte persone in die regte pos geplaas word.

Reguit ·

Maar net nóg ‘n opwindende daggie in die Azaniese Sirkus…………..

Janneman ·

Die hekkie is tragies laag in land. Ongeletterde gepeupel wat in plek gehou word deur ewe ongeletterde kiesers wat dan alles wil afbrand as hulle krepeer en die rassekaart speel om hul onbevoegtheid te verbloem.

Ek sien swarigheid vir die land as mense soos mabuza, mahumapelo en magushula nog in die kabinet is teen die einde van die jaar. Laat ons hoop CR het n plan.

Colleen ·

Weer ‘n onbevoegde in ‘n amp aangestel. Mooi ANC, doen so voort en maak verder ‘n krater van julle. ‘n Salaris wat maandeliks betaal word aan iemand wat nie die werk kan doen nie. Hy is duidelik net daar vir die geld.

SjN ·

Onbevoegde persone in poste, dit is ook die rede tot rommelstaus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.