Administrateur by Lekwa-munisipaliteit aangestel

Die Lekwa-munisipaliteitsgebou in Standerton. (Foto: Lekwa Local Muncipality/Facebook)

ʼn Administrateur is Maandag by die Lekwa-munisipaliteit in Mpumalanga aangestel om die funksies van die munisipale raad oor te neem nadat die kabinet verlede maand besluit het om dié raad te ontbind. Dié munisipaliteit bedien hoofsaaklik die dorp Standerton.

Dit volg kort nadat die hoendervleisprodusent Astral ʼn hofbevel teen die regering bekom het weens ʼn gebrek aan dienslewering aan ondernemings en gemeenskappe in dié munisipaliteit.

Volgens ʼn verklaring van Mashudu Masutha Rammutle, woordvoerder van die departement van finansies, ervaar die munisipaliteit reeds jare lank politieke, finansiële en administratiewe uitdagings wat die doeltreffendheid van sy dienslewering beïnvloed het.

“Pogings van die provinsiale bestuur om die Lekwa-munisipaliteit aan ʼn verpligte ingryping te onderwerp het geen vrugte afgewerp nie, aangesien daar geen tasbare bewyse is dat die munisipaliteit finansieel of met dienslewering verbeter het nie.”

Gevolglik is Johann Mettler, ʼn prokureur met ervaring in die plaaslike regering, aangestel om die munisipaliteit reg te ruk. Mettler het voorheen die Nelson Mandelabaai-metro bestuur en het as administrateur van die Msunduzi-munisipaliteit in 2009 gedien.

Mettler sal toesien dat die hooggeregshof (Pretoria) se bevel om ʼn finansiële herstelplan ingevolge die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies in werking gestel word sodat die munisipaliteit weer goed op dreef kan kom.

“Die herstelplan sal verseker dat die munisipaliteit se finansiële sake in orde is en dat basiese dienste soos die voorsiening van elektrisiteit en water op ʼn volhoubare wyse aan die gemeenskap gelewer word.”

Volgens Lungi Mtshali, woordvoerder van die departement van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), het die munisipale infrastruktuurondersteuningsagent (MISA) gehelp om munisipale toelaes te bestuur wat daartoe gelei het dat die munisipaliteit se uitgawes verminder het.

“Voorts koördineer MISA met die privaat sektor om finansiering te bekom vir water en sanitasie. MISA voer ook samesprekings met Eskom om die vraag na elektrisiteit te bestuur en skuldkwessies op te los en daar is sprake van ʼn inkopiesentrum in Sakhile.

“Die regering is vol vertroue dat die herstelplan die gewenste resultate sal lewer sodat vertroue in die Lekwa-munisipaliteit herstel kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ovelia ·

Hoop dt gaan beter daar as in vdbp. Hier is bedrog no 1 op hul stelsel

tweeling ·

Dit sal nie beter gaan nie, die kans dat die administrateur ook onbevoeg is is goed. Hoeveel munisipaliteite in noordwes is al onder administrasie en niks het verbeter nie. Hulle het nie die wil of bevoegdheid nie maar sal ook nie erken dat dit skort nie, die arrogansie vier hoogty

Suzette ·

Good luck – Bloemfontein trek al by sy tweede administrateur en niks word beter nie …

koos10 ·

De Ruiter word aangestel om Eskom reg te ruk.
Mettler nou om ‘n munisipaliteit reg te ruk.
Barnes was by die SAPO.
Dis ‘n openlike erkenning van die ANC dat hulle nie die vermoëe het om op te bou nie, maar net af te breek.

Sarel ·

Onbevoegde amptenare…gaan hulke vervolg of bevorder
Of anders gestel herontplooi word na Provinsiale Regering

Sarel ·

Goeie voorbeeld in NW. Die Hof het teen Rehabilitasie besluit tot voordeel van onbevoegde amptenare

Pieter ·

Administrateur wat vir die anc regering werk hoe lekker lag ek nou.

Antjiepat ·

wens die hele land se munisipaliteite kan onder administrasie geplaas word

Joggie ·

“Die regering is vol vertroue dat die herstelplan die gewenste resultate sal lewer sodat vertroue in die Lekwa-munisipaliteit herstel kan word.” Hulle is ook seker vol vertroue die paashaas bring paaseiers!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.