Administratiewe sanksies op Nedbank toegepas

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) het administratiewe sanksies op Nedbank toegepas en die bank opdrag gegee om regstellende optrede te neem ná ʼn inspeksie in 2019 kragtens die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum (Fica).

Ziyanda Mtshali, woordvoerder van die Reserwebank, sê artikel 45 van die wet bepaal dat die omsigtigheidsowerheid binne die SARB die mandaat het om nakoming aan die wet te verseker. Die omsigtigheidsowerheid stel ondersoek in of verantwoordingspligtige instellings voldoende en behoorlike maatreëls in plek het om seker te maak dat hulle voldoen aan Fica.

“Die administratiewe sanksies word ingestel weens Nedbank se versuim om aan sekere administratiewe maatreëls van Fica te voldoen. Dit is belangrik om uit te lig dat daar nie enige bewyse is dat Nedbank hoegenaamd betrokke was by transaksies wat met geldwassery of die finansiering van terrorisme betrokke was nie.”

Die administratiewe sanksies kragtens artikel 45C(3) van Fica sluit onder andere waarskuwings en ʼn algehele finansiële boete van R35 miljoen in, waarvan R15 miljoen voorwaardelik opgeskort is.

Die administratiewe sanksies spruit uit nienakoming aan vereistes van Fica deur Nedbank se versuim om te voldoen aan verpligtings binne sy risikobestuur- en nakomingsprogram. Nedbank het versuim om ʼn risikogebaseerde benadering in sy sakeklusters te volg; verhoogde behoorlike omsigtigheidskontroles in te stel; sy kliënte se risiko te bepaal; bewyse te verskaf dat hy eindpunt prosedures en metodes vir sy stelsels en prosesse ontwikkel het; en bewyse te verskaf dat sy beheer en/of oorsigmaatreëls die korrekte data kan onttrek wat die bank in staat sou stel om sy kliënte se risiko akkuraat te bepaal.

“Die omsigtigheidsowerheid het ʼn waarskuwing uitgereik met ʼn boete van R5 miljoen, waarvan R2 miljoen voorwaardelik vir 12 maande opgeskort is,” sê Mtshali.

Nedbank het ook versuim om te voldoen aan sy rekordhoudingverpligtinge kragtens artikel 22, 23 en 24 van Fica. Hiervoor het die omsigtigheidsowerheid ʼn waarskuwing uitgereik met ʼn boete van R5 miljoen, waarvan R3 miljoen voorwaardelik vir 24 maande opgeskort is.

Nedbank het ook versuim om te voldoen aan sy kontantdrumpel-verslagdoeningsverpligting kragtens artikel 28 van Fica. Die bank het versuim om ʼn groot aantal kontanttransaksies wat die drumpel van R24 999,99 oorskry het, aan te meld. Die omsigtigheidsowerheid het hiervoor ʼn waarskuwing uitgereik met ʼn boete van R25 miljoen, waarvan R10 miljoen voorwaardelik vir 12 maande opgeskort is.

Nedbank het ook versuim om te voldoen aan artikel 42(2)(o) van Fica en het nie betyds bepaal wanneer ʼn transaksie kragtens artikel 29 van Fica aangemeld moet word nie. Die omsigtigheidsowerheid het ʼn waarskuwing uitgereik en opdrag om dadelik regstellende optrede te neem.

Nedbank het ook versuim om te voldoen aan sy teen-geldwasseryverpligtinge en verpligtinge rondom finansiering van terrorisme kragtens artikels 42A(1), 42A(2), 42A(3), 42(2)(b), 42(2)(d) en 42(2)(f) van Fica deurdat hy nie bewyse kon lewer dat senior bestuur se goedkeuring bekom is vir kliënte se omsigtigheidsvereistes voor implementering nie. Die omsigtigheidsowerheid het ʼn waarskuwing uitgereik om seker te maak dat dié optrede nie herhaal sal word wat tot nienakoming gelei het nie.

“Nedbank werk saam met die omsigtigheidsowerheid en doen die nodige stappe om die tekortkominge aan te spreek en swakhede te beheer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

Werklik? Hierdie klink na die ANC se laaste stuiptrekkings om geld by die privaatsektor te bekom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.