Advokaat in hof oor diefstal

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Adv. Azwitamisi Abraham Mulaudzi (54) het Dinsdag in die Palm Ridge-streekhof verskyn op aanklag van diefstal.

Die vereniging vir staatsadvokate en aanklaers in Suid-Afrika (Ssapsa) het Mulaudzi in Mei 2017 aangestel as ʼn tesourier waar een van sy verpligtinge behels het om jaarlikse finansiële verslae in te dien, sê kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

“Tydens die algemene jaarlikse vergaderings in 2018 en 2019 het adv. Mulaudzi glo versuim om die geouditeerde finansiële verslae in te dien, soos vereis deur Ssapsa. ʼn Departementele ondersoek is van stapel gestuur en 397 ongemagtigde kontantontrekkings en transaksies tussen Junie 2017 en Oktober 2019 is gevind.”

Die saak is na die Valke se eenheid in Johannesburg, wat ernstige korrupsie ondersoek, verwys vir verdere ondersoek.

“Die ondersoek het onthul dat adv. Mulaudzi, wat intussen in Desember 2020 uit die nasionale vervolgingsgesag bedank het as ʼn seniorstaatsadvokaat, na bewering die ondertekenaars verander het en aansoek gedoen het vir internetbankdienste. Hy het glo sowat R316 000 van Ssapsa se bankrekening gebruik by vulstasies, restaurante en drank- en ander winkels.”

ʼn Lasbrief is uitgereik vir sy inhegtenisneming en hy het homself vanoggend by die Johannesburgse polisiestasie oorgegee. Hy is aangekla van diefstal en het in die hof verskyn. Hy is vrygelaat op borgtog van R3 000. Die saak is tot 14 Oktober uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hennie J ·

Ja swaer, dis swaar swaer! Ongelooflik maar waar. Uitstekende kandidaat vir burgemeester of parlementslid.

Pieter ·

Goeie nuus dat geregtigheid geskied, maar dis maar ‘n klein vissie…… Wanneer word die GROOT visse ingekatrol?

Menan ·

Pieter want die dammetjie is te vol van die klein vissies, nie genoeg plek vir die groot visse nie …..

marius ·

SC van NVG met ‘n vet pensioen . Wat ‘n pragtige voorbeeld .

Deon ·

Hoe kan n persoon van hierdie kaliber dink dat hy gaan wegkom met so iets en dit nogals vir so skamele bedrag?

Leon ·

R3 000 borg vir diefstal van R316 000? Dit is minder as 1%!!! Belaglik!

Antonk ·

Dis lekker.Hy word vandag inhegtenis geneem en gaan dadelik hof toe,maar as dit met iemand anders gebeur het sou hy eers ʼn maar dae daar in die tronk moes sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.