Advokaat in Meyiwa-saak se inhegtenisneming ‘verdag’

Adv. Malesela Teffo word in hegtenis geneem. (Foto: Skermgreep via eNCA)

Die Algemene Balieraad (ABR) sê die plek, wyse en tydsbereking van adv. Malesela Teffo se inhegtenisneming het die indruk geskep dat dit gedoen is om hom óf te verneder óf, erger nog, om hom te intimideer en te teister.

Die raad vra nou dat ’n onafhanklike ondersoek na Teffo se inhegtenisneming gelas word en dat die uitkoms van só ’n ondersoek so gou moontlik bekend gemaak word.

Teffo is Donderdag, nog geklee in sy toga, in die Pretoriase hooggeregshof in boeie geplaas, kort nadat hy vier van die beskuldigdes in die opspraakwekkende Senzo Meyiwa-moordverhoor verdedig het.

Die verhoor word die afgelope paar weke op televisie uitgesaai. Teffo se inhegtenisneming het dus  ook in die oog van televisiekameras plaasgevind.

“Dit is moeilik om te dink wat kan regverdig dat ʼn verdedigingsadvokaat in die hooggeregshofgebou en ten aansjoue van die media in hegtenis geneem en geboei moet word terwyl hy sy professionele plig uitgevoer het om kriminele beskuldigdes te verteenwoordig,” sê Craig Watt-Pringle SC, voorsitter van die ABR.

Watt-Pringle glo die polisie het ʼn “diepgaande disrespek” vir die waardigheid van die hof en “onsensitiwiteit vir die indruk wat dit skep” getoon deur ʼn advokaat te “verneder en te intimideer” wat toevallig teen die staat namens sy kliënte optree.

Volgens Watt-Pringle is dit hoogs onwaarskynlik dat Teffo nie bereid sou wees om homself by ʼn polisiestasie oor te gee, sou hy vooraf gevra was om dit te doen nie.

Of daar gronde vir Teffo se inhegtenisneming is, moet nog bekend gemaak word. Sou daar gronde wees, moes hy soos enige ander persoon inhegtenis geneem word.

Die Balieraad glo egter dit sal ’n groot probleem wees sou die inhegtenisneming bloot intimidasietaktiek blyk te wees.

“Sou dit die geval wees, is dit inderdaad ʼn uiters ernstige saak. Dit sal veral ʼn ernstige ondermyning van die oppergesag van die reg wees as ʼn beampte van die hof geïntimideer word om sy kliënte te verdedig.

“Daar sal ook ernstige implikasies wees met betrekking tot sy reg op regsverteenwoordiging en ʼn regverdige verhoor,” sê Watt-Pringle.

Die polisie het tot op hede nie ’n rede vir die inhegtenisneming verskaf nie, maar wel bevestig dat die polisiebeamptes ingevolge ’n lasbrief vir Teffo se inhegtenisneming opgetree het.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het intussen gesê hy het die Gautengse polisiehoof, lt.genl. Elias Mawela, versoek om ’n verslag oor die saak in te dien.

Teffo is in Maart as regsverteenwoordiger van Muzikawukhulelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube en Mthokoziseni Maphisa aangestel.

Dié vier staan saam met SifikuhleNkani Ntuli Sifiso tereg op aanklag van moord, poging tot moord, gewapende roof, die besit van vuurwapens sonder ’n lisensie en die besit van ammunisie.

Teffo het ook ’n waaksaamheidsopdrag in die saak namens Meyiwa se broer, Sifiso Meyiwa.

Meyiwa is op die aand van 26 Oktober 2014 by sy vriendin, die sangeres Kelly Khumalo, se ma se huis in Vosloorus doodgeskiet.

  • Lees al Maroela Media se berigte oor die moord op Meyiwa hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Perdeby

Ek sien ‘n baaaaie groot eis teen Cele en sy span

Misky

Dalk het die ou teveel vrae begin vra en te diep begin krap. Die meesterbrein wil hom dalk stilmaak en intimideer. Baie verdag beslis.

Daleen

Kry die springmielies hierdie gaan BAIE interessant raak.

Johannes_64

Die mense moet onthou die regstelsel is omtrent nou reg deur die RA proses, en die interpretasie van die teks in die reg is moontlik ook besig om aan te pas. Suid Afrika is ‘n demokrasie en die kultuur van die meerderheid regeer, aanpassings sal moontlik moet plaasvind om in te pas.

SjN

SA Se Jerry Springer show begin, kry solank popcorn ????