Advokaat van rol geskrap

Argieffoto (Foto: succo/Pixabay)

Hassan Ebrahim Kajee, ʼn advokaat wat daarvan aangekla word dat hy die staatsprokureur uit miljoene rande bedrieg het, is deur die Gautengse hooggeregshof van die rol geskrap.

Die aansoek teen Kajee is vroeër deur die Johannesburgse Prokureursvereniging gebring, nadat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) Kajee na dié vereniging verwys het vir die beweerde uitermatige verhoging van fakture, die uitreik van fakture vir dienste wat nooit gelewer is nie en dat daar boonop té veel gevra is vir dié dienste wat kwansuis aan die kantoor van die staatsprokureur gelewer is.

Kajee het na bewering ook fakture uitgereik waarvolgens hy daagliks meer ure gewerk het as wat daar ure in ʼn dag is.

Hy is voorheen in verskeie sake aangestel om die staat te verteenwoordig. Hy is in 1995 as advokaat toegelaat deur die hooggeregshof in KwaZulu-Natal, en het in 2006 ʼn lid van die Johannesburgse Prokureursvereniging geword.

In sy uitspraak het die hof ook gesê dat dié aansoek in belang van die hof, die beroep en die publiek gebring is. Kajee is ook beveel om die vereniging se regskoste te betaal.

Maroela Media het vroeër berig dat Kajee op 1 April vanjaar deur die Valke in hegtenis geneem is op verskeie aanklagte van bedrog.

Sowetan Live en GroundUp berig dat die hof tydens die verrigtinge gehoor het dat die beweerde bedrog die staat eindelik meer as R34 miljoen gekos het. Dit nadat Kajee die staatsprokureur glo meer as R66 000 per dag vir 511 dae gefaktureer het.

Dit is in die hof uitgewys dat dit onmoontlik is om só ʼn tarief te hef, aangesien die hoogste uurlikse fooi in daardie stadium R2 500 per uur was, en R25 000 per dag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Shoshan ·

Sjoe, ek was beslis in die verkeerde beroep, met of sonder die bedrog.
Dankie aan elke persoon wat die korrupsie bloot stel en deurdruk vir reg en verkeerd.
Ek dink dat SA so vuisvoos is van alles, dat voorbeelde soos die ons weer moed gee. Dit gaan nog lank neem, maar daar is hoop!

Eugene ·

Ja nee bedrog is diep in die wortels van die land ingeplant. Geen wonder ons regsstelsel begin al hoe meer na ESKOM, PARLEMENT, POLITIEK en die res van die staat lyk nie……

Lillian ·

Maar oral word almal mos verplig om BBBEEEEE aan te stel selfs in die Regsveld en dan rook dié lot ook almal met hul fooie

John ·

Wys jou net..mense wat veronderstel is om ons mense te help is die skelmste van almal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.