Advokaat vra dat SAID-ondersoek eers gestaak word

Adv. Dali Mpofu

Die regsverteenwoordiger van Tom Moyane, die geskorste hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het Vrydag daarop aangedring dat ʼn ondersoek na bedrywighede by die inkomstediens gestaak word hangende die finalisering van ʼn dissiplinêre verhoor teen sy kliënt.

ʼn Kommissie, gelei deur regter Robert Nugent, is opdrag gegee om bewerings van swak belastingadministrasie en bestuurskwessies sedert 2014 by die SAID te ondersoek.

Adv. Dali Mpofu, Moyane se regsverteenwoordiger, het aan die kommissie gesê ʼn saak kan nie “twee keer voorkom vir dieselfde oortreding nie”.

Vyf SAID-beamptes het Woensdag voor die kommissie getuig – een van hulle werk steeds vir die inkomstediens, terwyl die ander vier by verskillende geleenthede gedurende Moyane se termyn bedank het. Al vyf getuies het ʼn donker prentjie geskets van Moyane se leierskap by die belastinginstansie.

Mpofu het egter aangevoer die mense wat getuig het, is net ontevrede werknemers en sommige was deel van die sogenaamde geheime eenheid wat glo onwettig binne die SAID bedryf is.

“Almal wat in hierdie stoel gesit het, het aangegaan oor die vreeslike Moyane,” het Mpofu gesê. Hy het die kommissie gekap omdat Moyane nie genooi is om homself te verdedig nie. “Dit is die grofste en mees onregverdige proses in die demokrasie.”

Hy het gesê die kommissie kan nie vir Moyane anders behandel net omdat hy geskors is nie. “Hy is nie afgedank nie. Hy is nie skuldig totdat dit andersins bewys word nie.” Hy het bygevoeg Moyane kan heel moontlik weer in sy amp aangestel word.

Tom Moyane (Foto: ANA)

Mpofu het ook daarop aangedring dat Michael Katz as lid van die ondersoekkommissie verwyder word. Hy het aangevoer Katz is bevriend met pres. Cyril Ramaphosa, wat vir Moyane geskors het, en het voorheen vir Ramaphosa in ʼn saak verteenwoordig.

Nugent het hierop gereageer deur te sê hy is die enigste een wat verantwoordelik is vir die ondersoek. “Ek weet nie hoekom daar twee verskillende tribunale is nie en ek stel ook nie belang nie. Ek het die opdrag om hierdie werk te doen aanvaar en dit moet teen November gedoen word,” het Nugent gesê.

Hy was ooglopend omgekrap en het geweier om ʼn geheuestokkie by Mpofu te aanvaar waarop daar glo bewyse is wat teenstrydig is met die getuienis wat voor die kommissie gelewer is.

Nugent het beklemtoon dat die ondersoek nie ʼn verhoor is nie en dat geen bevindinge teen enigeen gemaak gaan word nie. “Ons stel feite vas waaroor ons aan die president verslag sal lewer. Wat hy kies om met hierdie feite te doen, hang van hom af,” het hy gesê.

ʼn Voorlopige verslag oor die ondersoek sal na verwagting in September gelewer word en die finale verslag moet teen November gereed wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Irma ·

Dit wil nou regtig vir my lyk of die geagte geskorste hoof vd Inkomste Diens niks, net mooi niks daarvan hou as die skoen aan die ander voet us nie. Ai, siestog

Jordaan ·

Moet asb nie ingee nie – kom nou vir een slag by die wortel van die kwaad en hopelik sien ons binnekort vervolgings (maar seker nie terwyl ons huidige NVG leierskap daar is nie)

FPVZ ·

Dan moet die advokaat ook ontrek oor hy deel is van EFF se anr lede en amp beklee in die EDF

TLC ·

Nugent I love the way you talk foreign Haha jy hy hom lekker op sy plek gesit Tom jy en Zuma moet n plaas soek want julle gaan saai wat jul gemaai het

Mimi ·

Dali het ook nie sy feite reg gehad oor die feit dat Tom nie gevra was om te getuig nie, waarop regter Nugent hom flink + vinnig daarop gewys het dat Tom se span Dinsdag moes kom met hul verklarings MAAR dat di regter in kennis gestel is dat Tom se regsspan op n ander plek besig is. Toe sê die regter dis nie sy skuld as Tom se span ander kliënte belangriker ag nie. Dali lekker op sy plek gesit.

Elsa ·

Shame. Nou het die skoene do rings in né Tom… Niks lekker. Dis nie n mespunt van hoe jy mense se lewens verwoes het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.