Advokaat vurig in verdediging van Henri van Breda

Henri van Breda in die hof 12 Februarie). Foto: ANA.

Adv. Piet Botha het Dinsdag ʼn vurige verweer in die Wes-Kaapse hooggeregshof gelewer vir sy kliënt, die moordbeskuldigde Henri van Breda en regter Siraj Desai moes hom in ʼn stadium versoek om te “bedaar”.

Botha het aan die hof gesê die staat se bewyse is van “swak gehalte” en dat die saak nie bo redelike twyfel bewys is nie.

Die verdediging moet nou, in die laaste fase van die 23-jarige Van Breda se hofsaak, die hof oortuig dat die beskuldigde se weergawe van die gebeure op 27 Januarie 2015 redelik moontlik waar is.

Van Breda het skuld ontken op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en een van dwarsboming van die gereg. Hy voer aan sy ma Teresa, pa Martin en ouer broer Rudi is deur ʼn laggende bylmoordenaar, wat ʼn klapmus, handskoene en donker klere aangehad het, aangeval. Sy sussie Marli, wat in daardie stadium 16 jaar oud was, het die aanval oorleef – nie as gevolg van ʼn ligter aanval nie, maar eerder ʼn wonderwerk, het die staat aangevoer.

Die staat glo Van Breda is verantwoordelik vir die aanvalle, het met die misdaadtoneel gepeuter en het sy beserings self toegedien om dit te laat lyk of hy ook ʼn slagoffer was. Die staat voer aan dit is hoogs onwaarskynlik dat ʼn oortreder ongesiens by die veiligheidslandgoed, De Zalze, sou kon inbreek.

Botha het egter volgehou sy kliënt was ʼn goeie getuie en hy het nog nie van sy weergawe afgewyk nie. Hy het gesê die staatsaanklaer maak staat op spekulasie.

Hy het ook gesê ʼn buurvrou se getuienis, dat sy manstemme die aand tussen 22:00 en 00:00, vir twee ure lank onophoudelik op 26 Januarie gehoor het, is onmoontlik.

Regter Desai het egter gesê daar is geen rede waarom ʼn objektiewe ooggetuie, wat nie die familie geken het nie, vir die hof sou lieg.

Botha hou egter vol dat Stephanie Opt’hof onder ʼn wanindruk is en sy het eintlik die dramatiese klanke van ʼn aksiefliek gehoor wat Martin en sy twee seuns dié aand gekyk het.

WhatsApp-boodskappe tussen Marli en haar kêrel, en Henri en sy meisie, dui nie op ʼn bakleiery tussen die gesinslede nie. Die enigste bewyse van “ʼn ligte woordewisseling was twee weke tevore”.

Hy het aan die hof gesê die landgoed is nie veilig nie en slegs 35% van die grensdraad het kameras gehad ten tyde van die voorval. Hy het bygevoeg daar was “openlike kwesbaarhede” in die stelsel en die vensters van die Van Breda-huis op die grondvlak was nie gesluit nie.

“Die verdediging het omvattend tydens die in loco-inspeksie gewys dat die voetgangerhekkie aan die oostekant van die huis en die grensmuur van die Locke-huis aan die westekant, geen beduidende hindernis vir oortreders sou bied nie – en dat daar ook geen teken sou wees indien enigiemand dit as ingang of uitgang sou gebruik het nie.”

Volgens hom bevestig ʼn bloedvlek op die kombuisdeur Van Breda se weergawe. “Die bewyse van ʼn bloedvlek op die kombuisdeur stem ooreen met die beskuldigde se weergawe dat die oortreders die toneel ná die aanval deur die agterdeur verlaat het, en hulle sou deur die kombuisdeur moes beweeg waar die bloedvlek gevind is.”

Hy het ook verwys na die getuienis van DNS-analis dr. Antonel Olckers wat getuig het dat die standaard prosedure nie by die polisie se forensiese laboratorium gevolg is nie. “Versuim om aan dié standaarde te voldoen, benadeel die uitslag wat in die proses bekom word. Die bevindings is dus onwetenskaplik en ongeldig.”

Regter Desai het egter haar bevindings bevraagteken. “Sy kon die staat se saak flenters geslaan het as sy die monsters self getoets het.”

Botha het benadruk daar is nie aan die standaard prosedure voldoen nie en die polisie se DNS-analise is ongeldig.

In sy finale betoë het Botha ook aan die hof gesê indien Van Breda die aanvaller was, “sou mens verwag dat hy vol bloed moes wees”. Daar was geen bloed op sy bors of arms nie en volgens hom klop dit met sy kliënt se weergawe dat hy naby aan sy broer en pa was tydens die aanval, maar nie die aanvalle op sy sussie of ma gesien het nie.

“Die DNS-ondersoek het nie enige bewyse gelewer van ʼn enkele profiel van Marli of sy ma op die beskuldigde se broek nie. Daar was verskeie bloedvlekke van Martin en Rudi. Dit is ook in ooreenstemming met sy weergawe dat hy naby aan hulle was, maar nie naby aan Marli of sy ma nie.”

Hy glo sy kliënt moet vrygespreek word op alle aanklagte, aangesien die omstandigheidsgetuienis wat die staat voorgehou het, die beskuldigde se weergawe ondersteun, en nie die staat sʼn nie.

Die verdediging sal na verwagting Woensdag die slotbetoë afhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Cherokee ·

Julle sal opmerk Cherokee is versigtig met kommentaar in betrokke saak.

Chekoree ·

Stadig oor die klippers en moenie klippe gooi as jy in ‘n glashuis bly nie!

Sterkte Regter Desai en mag jy Salomo se wysheid kry in jou uitspraak.

Koos ·

Salomo se wysheid? Die regter is waarskynlik ‘n Moslem…

Hoe dit ookal sy, Henri se weergawe is so onwaarskynlik dis so te sê onmoontlik.

Geen uitsonderlike wysheid hier benodig nie – sy eie weergawe het hom gesink.

Die arme advokaat doen maar net sy werk en hopelik het hy ‘n vet fooi daarvoor gekry.

Ons dag sal kom. ·

Wil net se ons mense van die publiek weet niks. Maar daar is iemand wat weet wat gebeur het. Hierdie regter van wie ek praat is reg en regverdig. Ons moet onthou dat die vermoorders wag in die hemel vir die moordenaar en daar kan niemand lieg en bedrieg nie.

Weegskaal ·

Wat is ‘n VERMOORDER? Help ‘n bietjie hier met al jou wyshede ! Dit is nie IEMAND nie, dis GOD wat weet wat het gebeur, en natuurlik van BREDA ook, so dit is nie heeltemal waar dat jy se niemand weet wat gebeur het nie .. HY WEET, en weet jy wat .. hy moet boet vir sy dade MAAR daar is ook iets soos vergifnis .. dit is iets wat al die sogenaamde gelowiges vergeet . NATUURLIK moet hy tronktoe gaan as hy die moorde gepleeg het soos enige ander moordenaar (wat ek nie jammer kry nie) en ek dink dit is iets verskrikliks as jy jou eie gesin vermoor het .. maar net so min soos EK of jy daarvan hou kan hulle ook hulle lewens verander en om vergifnis voor God smeek, dan word ek en jy en hy met dieselfde oordeel eendag as ons doodgaan ‘geoordeel’.

Domvraag ·

Adv Botha dit moet seker vreeslik wees om so naby jou pa en broer te staan dat hulle bloed op jou spat toe hulle dood gekap word en net te staan en kyk en die moordenaars doen niks aan van Breda nie want hulle kon sien hy is te geskok. Wonder of dit die rede is dat hy vir amper 3uur bewusteloos was, die skok was te groot en oja wonder wat was die fliek wat Stephanie verwar het. Wonder net hoe u wat nie daar was kan aanvoer dat sy verkeerd was of is dit hoorsê, dit wat van Breda vir u gesê het en u moet hom glo. Lyk eerder vir my of regter Desai dalk nie die storie gaan glo nie.

Wat gemaak ·

Ek sê weer. Doen verdere ondersoek op Marli en julle sal agter die kap van die byl kom. Ek weet van iemand wat baie spraaksaam was in haar jonger dae, maar nou dat sy oud is en sy teegesit word, nou praat sy geen woord met niemand nie en dit is al oor die 10 jaar. Sy (die vrou) hou haar moedswilliglik stom maar praat kan sy beslis nog. Dit is my mening.

Huh ·

Hoe nou? Marli het “geheueverlies”. Niemand het ooit gese sy is stom nie.

Regtig ·

Regtig swak smaak. Gaan deur wat Marli deurgegaan het dan praat ons weer. Advokaat Botha, 1ste tekens van n verloorder is om jou cool te verloor. Net omdat jy hoorse glo beteken nie almal moet dit glo. Olckers grootste verleentheid nog vir ons vroulike geslag, om van te huil.

GM ·

@ Huh, ‘Wat gemaak’ probeer sê dat hy ‘n vrou ken wat KAN praat, maar nie WIL praat nie. Hy het nie gesê dat Marli stom is nie, net dat hy dink sy wil dalk nie oor die gebeure praat nie, maar weet moontlik wat gebeur het.
So hoekom iemand aanval as jy nie die dieper betekenis van sy/haar woorde insien nie?

John ·

Miskien was nog iemand betrokke en/of nog ‘n wapen wat nie gevind is nie. Henry sit in die hof so asof by ‘n ander beskuldigde verhoor. Die saak duur te lank. Kry klaar. Breek die huis af en maak daar tuin.

Moontlik ·

“Wat gemaak” het dalk ‘n punt beet. Onder hipno terapie sal beslis antwoorde wees en sy sal nie daardeur getraumatiseer word nie. Dit wat verborge lê in die brein sal na die oppervlak kom. Die spesialiste en medici weet hoe om met sulke gevalle te werk sonder dat die persoon agterna weer in skok gaan. Var my ek weet….

Elisabeth Kruger ·

Ons ken die Van Breda Gesin en weet dat Henri nog altyd n probleem kind was, niks het deur die jare verander. Ons vertrou dat geregtigheid sal deur die Regter se besluit vrede bring vir n wonderlike Gesin.

Weegskaal ·

AG WHATEVER< julle kan nou maar kerm oor ander mense oordeel en judge en watookal . lyk my niemand het die FEITE behalwe van BREDA self nie, nie eers sy prokureur, die advokaat of regter nie, so WIE maak julle wat ander se menings afskiet so spesiaal? NIEMAND HET DIE FEITE NIE, die mense kan net met die feite (of gebrek daaraan) werk wat aan hulle voorgelê word of het een van julle die FEITE?? .. so los maar dat elkeen sy mening gee, dit is hoekom kommentaarkolomme hier is . AL WAT EK WEET of hy skuldig is of nie.. sy ADVOKAAT het ten minste sy beste gegee en nie soos die doodskis ouens wat eers bedrieg is deur regsgeleerdes nie .. As van Breda gaan sit, is dit omdat daar regtig GEEN kans was dat hulle hom kon vryspreek nie.

Jacques Venter ·

Ek vra eenkeer vir n advokaat. Hoe voel jy as jy iemand los kry wat jy voor jou siel weer skuldig is

Sy antwoord. Dis maar my job. Daarna gaan ek kroeg toe vir n lekker stywe dop.

Alida ·

Advokate word betaal om hulle werk te doen al weet hulle die kliënt is skuldig. Veral in die hoë profiel sake maak hulle miljoene.

Hans ·

Daar is ook van hulle wat glad nie belangstel of sy klient skuldig is of nie vra nie eers die vraag en as dit aangebied word stop hul die klient. Dit is beter vir hul dat hul net met die feite wat voor hul is kan werk en nie in sy agterkop weet maar die persoon is skuldig. Werk beter vir hul gewete wat dit aanbetref.

Cassie ·

As Van Breda kon sien die aanvaller het ‘n mes gehad was die huis dan verlig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.