Affies-busongeluk: ‘Ons was getuies van ʼn wonderwerk’

Schalk Viljoen voor die ongeluk. Foto: Facebook

Schalk Viljoen voor die ongeluk. Foto: Facebook

“Ons was getuies van ʼn wonderwerk.” Só sê die pa van Schalk Viljoen, die gr. 11-leerder aan die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria wat 22 Januarie voor die skool deur ʼn bus raakgery is.

Schalk se pa, Deon, kon Sondagaand aan mense die goeie nuus meedeel dat hy, sy vrou, Karen, en Schalk se ousus, Marissa, in die hospitaal was toe Schalk met hulle gekommunikeer het.

“Hy vorm woorde met sy lippe. Ons weet nie elke keer wat hy probeer sê nie. Hy weet hy is in die hospitaal, hy het gevra hoe die ongeluk gebeur het. Hy het gesê hy is lief vir ons. Hy dank God dat hy met ons kan kommunikeer. Ons beker loop oor,” het Deon gesê.

Marianne van der Laarse, die familie se woordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê dit is vir die familie ʼn wonderwerk dat Schalk kan kommunikeer. “Sy dokters het Sondagoggend begin om hom geleidelik van die medikasie te speen wat hom in ʼn geïnduseerde koma hou. Hy kan nie praat nie weens die pyp in sy keel, maar hy kan sy kop knik om ‘ja’ te wys, en skud om ‘nee’ te wys. Wat ʼn ongelooflike goeie teken is, is dat hy goed soos vorige vakansies kan onthou,” het Van der Laarse gesê.

Sy het gesê die wakkermaakproses kan nog ʼn ruk lank duur. Eers daarna sal bepaal kan word of daar moontlik permanente breinskade is.

“Sy ouers bedank steeds almal vir hulle volgehoue gebede, ondersteuning en omgee,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Schalk is in die buslaan in Lynnwoodweg tussen Afrikaans Hoër Seuns- en Afrikaans Hoër Meisieskool getref toe hy die straat wou oorsteek. Die bus het hom gestamp en hy is deur die trefslag op ʼn ander voertuig geslinger. Hy is met ʼn erge kopwond na die Muelmed-hospitaal gehaas vir behandeling.

Schalk is dieselfde dag geopereer om die drukking op sy brein te verlig. Hy is daarna onder verdowing geplaas. Sy organe funksioneer normaal.

Lees alle vorige berigte oor Schalk Viljoen op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

DPJ ·

Dankie dat hy so goed herstel. Hy vra hoe die ongeluk plaas gevind het maar die lesers wonder almal saam met hom.
Stekte met die volkome herstel.

Suzie ·

Die dae van Wonderwerke is nog nie verby nie
Ons dien ‘n Almagtige God!
Sterkte aan die familie

Suzie ·

Die dae van Wonderwerke is nig nie verby nie…ons dien ‘n Almagtige God en pleit Sy Wil
Sterkte aan die familie

Johann ·

Schalk, jy sál gesond word ou maat! Kyk net hoe goed is jou vordering. Die Groot Geneser sal jou nie in die steek laat nie. Baie sterkte aan jou en jou gesin. Ons bly bid vir julle.

JP ·

Baie sterkte vir julle seun , Ek is in dieselfde situasie net myne was nuwejaarsdag oggend, Toe die dokter my seun gesien het , het hy gese daar is nie kans nie, vandag na 2 operasies is my kind deur die Wonderwerk gered. hy weet wat om hom aangaan maar kan nie sy vriende onthou nie. Hy gesels volstoom, kyk videos en ons dank aan die Hemelse Vader. sterkte vir julle as gesin en baie geduld

Esther ·

So bly vir julle. Sterkte vir die pad vorentoe. Ons glo in gebed en vasbyt.

Elinette ·

Schalk en familie – baie bly dat jy soveel goeie vordering toon! Sterkte vorentoe aan almal, Ons as gesin het dit nie so gelukkig getref nie. Ons liefling seun is Vrydag, 29 Januarie 2016 oorlede nadat hy op 18 Januarie 2016 beide sy bene in ‘n motorfietsongeluk buite die Paarl verloor het. Hy het 11 dae moedig gestry – ongelukkig het hy nie ‘n mediese fonds gehad nie en is hy ‘versorg’ in die “ICU” van Tygerberg Provinsiale Hospitaal (ek noem dit nie ‘n “Intensive Care Unit” nie – eerder ‘n “I C U dead”-eenheid). Só vuil het ek nog geen hospitaal saal gesien nie. Die “ICU” se dakteëls val uit, in een kamer staan daar vuil gebruikte en gebreekte instrumente; die skoonmaker is besig om die vloere te was met behulp van vuil water en die “ICU” se deure word nooit toegemaak nie. Mense kom en gaan in die ICU sonder om hande te was, die pasiënte was vuil en om van die mediese sorg nie eens te praat nie …

Om soveel hartseer te beleef en te sien hoe ‘n dierbare van jou al hoe meer agteruit gaan en te weet dat jy nie die geld het vir privaat mediese sorg nie, breek mens se hart. Ek glo dat ons seun sou oorleef het as ons net privaat mediese sorg kon bekostig. Weer eens ons regering wat ons faal, met beloftes van voorspoed vir almal, wat nooit bewaarheid sal word nie.

mariaan ·

Sjoe jul berig oor jul seun is so hartseer…mag die liewe Vader vir julle vertroosting bring….ai as daar net beter mediese sorg was…maar mens se hande afgekap in so geval…so jammer…sterkte vir julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.