Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria is Maandag in rou gedompel ná die onverwagse dood van ʼn gr. 10-leerder aan dié skool.
Volgens Peregrine Joynt, hoof van die skool, is Johann Iske (16) in die vroeë oggendure by sy ouerhuis in Pretoria dood. Meer inligting is nie bekend gemaak nie.
“Sy ouers is totaal en al platgeslaan en onkant gevang. Dit was heeltemal onverwags en vir almal ʼn baie groot skok.”
Johann was ʼn welwillende en hardwerkende seun wat deur talle onderwysers by die skool beskryf word as iemand wat altyd sy kant gebring het. Johann het ook die skool in jukskei en hokkie verteenwoordig.
“Ek het met sy onderwysers gesels en almal het saamgestem dat hy ʼn ordentlike en goedhartige kind was,” het Joynt gesê.
Die skool het ʼn boek en ʼn kers ter nagedagtenis van Johann in die voorportaal geplaas sodat leerders ʼn laaste huldeblyk kan skryf.
“Een van sy maats het ʼn hartroerende boodskap daarin geskryf, dit lees: ‘Dankie dat jy vir my ʼn vriend was toe ek nie een gehad het nie.’ Dié boodskap som hom presies op,” sê Joynt.
Johann se skoolvriende en mede- gr. 10-leerders is Maandagoggend van sy dood in kennis gestel en berading is aan dié leerders beskikbaar gestel.
Joynt het weer eens sy innige meegevoel met Johann se ouers, naasbestaandes en vriende betuig.
“Dit is ʼn reusetragedie om ʼn jong man soos dié te verloor.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
8 Kommentare
So ‘n pragtige jong seun. Innige simpatie en sterkte aan sy ouers, familie en vriende.
Dit is niks minder as tragies nie! Ek het ook so gevoel : “Sy ouers is totaal en al platgeslaan en onkant gevang. Dit was heeltemal onverwags en vir almal ʼn baie groot skok.”
Een maal ‘n Affie, Altyd ‘n Affie. My gebede gaan uit na sy ouers, familie en vriende!
Hartverskeurend! Sterkte aan die ouers en familie….
Bitter tragies