Affies-seun deur bus getref: ‘Kritieke 72 uur verby’

Schalk Viljoen. Foto: Affies

Schalk Viljoen. Foto: Affies

Schalk Viljoen, die gr. 11-leerling aan die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria wat Vrydagoggend op pad skool toe deur ʼn bus raakgery is, se toestand is stabiel.

Die skool het Dinsdag op sy Facebook-blad geskryf: “Schalk het ʼn goeie nagrus gehad. Die kritieke 72 uur ná Vrydag se operasie is verby, en daar is baie stof tot dankbaarheid.”

Marianne van der Laarse, woordvoerder van die familie, het aan Maroela Media gesê dit gaan goed met Schalk en dat hy stabiel is. “Spesialiste het hom vandag besoek en nóg toetse en skanderings gedoen. Sodra die uitslae ontvang word, sal daar oor sy verdere behandeling besluit word. Dit uitslae sal na verwagting Woensdag bekend wees,” het Van der Laarse gesê.

Maroela Media het vroeër berig Schalk moes Vrydagaand geopereer word om die drukking op sy brein te verlig. Hy is onder verdowing geplaas en sy organe funksioneer normaal. Die drukking op sy brein het oor die naweek aansienlik afgeneem en sy neurochirurg is tevrede met sy vordering.

Dirk Taljard, die skool se woordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê Schalk is in die buslaan in Lynnwoodweg tussen Afrikaans Hoër Seuns- en Afrikaans Hoër Meisieskool getref toe hy die straat wou oorsteek. “Die bus het hom gestamp en hy is deur die trefslag op ʼn ander voertuig geslinger.” Schalk is hierna in die Muelmed-hospitaal opgeneem.

Van der Laarse het gesê Schalk se ouers, Deon en Karen, ontvang ongelooflike ondersteuning. “Die Afrikaans Hoër Seuns- sowel as die Afrikaans Hoër Meisieskool en die publiek ondersteun die gesin oneindig baie. Hulle is baie dankbaar en wil hê almal moet dit weet.”

Lees alle vorige berigte oor Schalk Viljoen op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Susan ·

SJOE, DIE OUTJIE IS NIE OORLEDE NIE MAAR STABIEL!!!!!!!!!!
LEES WEER ASB.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.