Affies-seun in ongeluk: ‘Wonderwerke gebeur’

Lian Taljaard

Dit gaan onder die omstandighede baie goed met die 18-jarige Lian Taljaard wat net meer as twee weke gelede ernstige beserings tydens ʼn motorongeluk opgedoen het.

Cornel Taljaard, Lian se ma, het gesê haar seun is gister, presies twee weke ná die ongeluk op 23 September, na ʼn algemene saal van ʼn Pretoriase hospitaal oorgeplaas. Hy is eers in die gespesialiseerde hoësorgeenheid behandel voordat hy na die hoësorgeenheid en uiteindelik ʼn algemene saal oorgeplaas is.

Lian is verlede Sondag uit sy koma begin bring. Volgens Taljaard is haar seun wakker en praat hy met hulle. Hy het ook al opgestaan en kan ʼn paar treë stap. Lian se vriende het hom al in die hospitaal besoek.

Volgens Cornel kan Lian niks van die ongeluk onthou nie. “Dit is maar ʼn emosionele ding en hy moet nog vrede maak met dit wat gebeur het en waar hy nou is. Daar lê nog ʼn lang pad van rehabilitasie voor en ons vat dit dag vir dag.”

Lian het intussen reeds twee operasies, rekonstruktiewe chirurgie en wondbehandeling ondergaan. Intussen wag die dokters vir die swelling om te sak en sal daar dan bepaal kan word of hy later nog operasies moet ondergaan.

“Wonderwerke bestaan regtig. Selfs Lian se dokters staan verstom oor wat hier gebeur. Lian het ʼn ongelooflike span dokters en versorgers en ons wil vir hulle en elke liewe persoon wat vir hom gebid het dankie sê. Dit is wat hom deurgetrek het.

“Ek kan nie glo dat soveel duisende mense saamgestaan en vir hom gebid het nie. Hulle het vir my kind krag en die wit lig gestuur om wakker te word en met ons te kan praat. Dit is nou klein treetjies vorentoe maar ons sal dit oorwin.”

Lian en ʼn vriend, Shaun Goedhals, was die Sondag van die ongeluk van Bela-Bela na Pretoria op pad. Hulle het die langnaweek saam met Lian se gesin op hul familieplaas buite die dorp deurgebring.

Die twee het alleen teruggery toe die motor waarin hulle was op die R101 gerol het. Daar was nie ʼn ander motor betrokke nie. Lian het ernstige beserings opgedoen en Shaun is nie so ernstig beseer nie en is vinnig uit die hospitaal ontslaan.

Die presiese omstandighede rondom die ongeluk is nog nie duidelik nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nelia van Zyl ·

So bly en so dankbaar. Weer eens weet ons net dat God groot en Teenwoordig is. Baie sterkte Lian. Geduldig wees, want die herstelpad is nie maklik of vinnig nie. Ons bid ook vir krag vir Leon en Cornel.

Ek ·

Julle kind herstel so wonderbaarlik omdat daar geen verwyte is nie.

God seen julle verder met die herstel van julle pragtige kind.

Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.