Affies-seun vertel van wonderwerk ná gru-ongeluk

Lian Taljaard. Foto: Verskaf

Lian Taljaard kan niks onthou van die gru-ongeluk waarin hy in September vanjaar was nie.

Die enigste tekens van die ongeluk en die ernstige beserings wat hy opgedoen het, is ʼn paar letsels en sy linkeroor wat geamputeer is. “Ek kan ook niks onthou van omtrent twee weke voor die ongeluk nie. Ek kon eers so twee of drie weke nadat ek uit die koma gehaal is, begin onthou,” het die 18-jarige Pretorianer aan Maroela Media vertel. Hy en sy ouers en suster hou tans vakansie op Stilbaai.

Lian en ʼn vriend, Shaun Goedhals, was op 23 September van Bela-Bela na Pretoria op pad toe die ongeluk gebeur het. Hulle het saam met Lian se gesin die langnaweek op hul familieplaas buite die dorp deurgebring. Albei seuns was ten tyde van die ongeluk matriekleerders aan die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria.

“Shaun wil nie regtig oor die ongeluk praat nie. Hy meen ek het so goed herstel omdat ek nie die ongeluk kan onthou nie. Hy wil net die beste vir my hê en voel dis sy plig om nie daaroor te praat nie.”

Lian het intussen verneem dat hy uit die motor geval het nadat dit gerol het. Lian, wat bestuur het, het glo uitgeswaai vir ʼn motor wat in die pad gestaan het toe hul motor gerol het. Lian het ernstige beserings opgedoen en was vir twee weke in ʼn geïnduseerde koma in die Life Groenkloof-hospitaal.

“My gesig is vergruis, ek het bloeding op die brein gehad, my bokaak was gekraak, my skedel was gekraak, ek het ʼn groot wond in my kuit gehad en my oor is afgeskeur.” Daar is ook ʼn plaat in sy voorkop ingeplant.

Lian Taljaard

Volgens Lian het hy eers sowat ʼn week nadat hy uit die koma ontwaak het, besef sy linkeroor is geamputeer. “Die dokters het baie goeie werk gedoen. Dit pla my nie regtig dat ek nie meer ʼn oor het nie en ek is glad nie selfbewus daaroor nie. Ek weet dit was die beste ding om te doen.”

Lian is vol lof vir die dokters en mediese personeel van die hospitaal. “Die dokters was fantasties en ek glo daar is nie ʼn beter span dokters nie. Die spraak- en arbeidsterapeute was net so geduldig met my terwyl ek nog ʼn bietjie gesukkel het om te loop.”

Ná ʼn maand in die hospitaal is Lian ontslaan. “Dit is regtig ʼn wonderwerk. Die dokters sê hulle kan nie glo dat ek in daai toestand so vinnig herstel het nie.” Lian ontvang nog terapie en sal volgende jaar plastiese chirurgie aan sy voorkop en kuit ondergaan. Hy sal ook ʼn dokter gaan spreek wat moontlik sy oor kan heropbou.

Lian het intussen sowat drie weke terug met matriekwerk begin. Hy wil in Junie volgende jaar sy matriekeksamen skryf en daarna BCom(Rek) gaan studeer. Hy het in sport uitgeblink voor die ongeluk. “Ek mag nie nou kontaksport doen nie, maar ek mag draf en swem. Ek verkies egter om nog nie een van die twee te doen nie en vir eers speel ek net gholf.”

Lian span egter net eers rustig saam met sy gesin uit. “My ouers en suster is deur baie meer as ek. Hulle kan alles onthou en ek niks nie.” Volgens Lian is hy nie bang om in ʼn motor te klim nie. “Ek klim egter nie in ʼn motor as ek nie ʼn veiligheidsgordel kan aansit of as die bestuurder net een drankie gedrink het nie.”

Lian het sy dank uitgespreek teenoor almal wat vir hom gebid en hom in hul gedagtes gehou het. “Ek glo dit is wat my so vinnig laat herstel het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.