Afgedankte amptenaar kry groot betaaldag ondanks korrupsiebewerings

Argieffoto

Argieffoto

Die afgedankte finansiële hoof van die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid het ʼn uitbetaling van R203 000 van die Gautengse departement van gesondheid ontvang en is nooit aangekla nie al is hy geskors.

Dit het aan die lig gekom tydens ʼn geskrewe antwoord deur Qedani Mahlangu, Gautengse LUR vir gesondheid, op ʼn vraag deur die DA se Jack Bloom.

Brian Ndoda Biyela het intussen regstappe gedoen teen sy afdanking deur die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid. Hy het vroeër vir die Gautengse departement van gesondheid gewerk.

Biyela is in Augustus geskors te midde van bewerings van tenderongerymdhede. Hy het in Desember sy bedanking by die Gautengse departement van gesondheid ingedien.

Mahlangu het in haar geskrewe antwoord, wat in News24 se besit is, gesê Biyela het bedank voordat hy aangekla kon word. Mahlangu het ook gesê Biyela staan nie op enige strafregtelike klagtes tereg nie en is R203 650 betaal toe hy die Gautengse departement van gesondheid verlaat het.

Biyela is in Februarie as die hoof van finansies van die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid aangestel. Nadat sy aanstelling in Maart aan die lig gekom het, het Sibongiseni Dhlomo, KwaZulu-Natalse LUR vir gesondheid, hom van die aanstelling gedistansieer en gesê dit is onwettig en dat hy nooit oor die aanstelling geraadpleeg is nie.

Biyela het vroeër vandeesmaand aansoek gedoen om ʼn interdik om die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid te dwing om hom weer aan te stel. Dit was onsuksesvol. Sy aansoek om sy afdanking teen te staan sal later vandeesmaand aangehoor word.

Die Gautengse departement van gesondheid het nooit die aard van die bewerings teen Biyela bekend gemaak nie. “Ek is verbaas dat Mahlangu weier om te sê waarvan Biyela aangekla is en dat geen strafregtelike klagte teen hom aanhangig gemaak is nie aangesien dit blyk dat hy oor korrupsie geskors is,” het Bloom gesê.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.