Afgedankte Rustenburg-mynwerkers krepeer, eet katte en rotte

Tapiwa Marima van Gift of the Givers en Neo Nong hou 'n wilde dier, wat deur die inwoners geëet is, se vel vas. Foto: Verskaf.

Tapiwa Marima van Gift of the Givers en Neo Nong hou ‘n wilde dier, wat deur die inwoners geëet is, se vel vas. Foto: Verskaf.

Talle voormalige mynwerkers van Kroondal buite Rustenburg in Noordwes leef in haglike omstandighede sedert hulle in 2009 afgedank is, en oorleef skaars deur katte, rotte, wilde diere en groente te eet.

Neo Nong, van die Legal Resource Centre, het die mense se lot onder die publiek se aandag gebring en vir dringende ingryping van die humanitêre organisasie, Gift of the Givers, gevra.

Nong het gesê die situasie kan teruggevoer word na 2009 toe 3 921 kontrakmynwerkers van Murray and Roberts Cementation aan ʼn onbeskermde staking by die Aquarius-myn deelgeneem het.

“Ná aanvanklike regstappe is sowat 1 000 mynwerkers die trekpas gegee. Talle is in hegtenis geneem weens openbare geweld en die mynwerkers se name is op ʼn swartlys geplaas,” het Nong gesê. “Verskeie werkers kon sedertdien nie weer werk vind nie. Hulle is met geweld deur die polisie uit hul oorspronklike hostels verjaag en baie van hulle het hul besittings en nodige dokumente in die proses verloor.”

Volgens Nong is daar tans 203 oudmynwerkers wat in die Circle and Labour-hostel woon. Van die getal is 145 mense van Lesotho, Swaziland en Mosambiek, en 58 van Suid-Afrika.

“Hulle sukkel om na hulself om te sien en oorleef deur katte, rotte, muise, wilde diere en groente, asook kos wat deur barmhartige Samaritane geskenk word, te eet.”

Hy het gesê 158 mense het tot dusver gesterf. “Die mense het verskeie siektes en is ondervoed. Hulle gebruik tradisionele medisyne om siektes soos MIV en vigs en tuberkulose te behandel aangesien hulle nie die nodige dokumente het om behoorlike behandeling te ontvang nie.”

Imtiaz Sooliman, hoof van Gift of the Givers, het gesê die organisasie gaan Donderdag sorg vir voedselhulp.

“Ons versoek die ingryping van die betrokke owerhede om ʼn einde te bring aan hierdie onaanvaarbare menslike lyding,” het hy gesê. “Buitelandse burgers moet bygestaan word met dokumentasie en gerepatrieer word om met hul families herenig te word. Praktiese oplossings moet spoedig gevind word. Vingerwysings en politieke propaganda gaan hier geen doel dien nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Jakoos ·

Stuur hul terug na hul lande, ons het genoeg probleme en kan nie nog sulkes bekostig/onderhou nie.

Marlene ·

Dis geen kat daardie nie. Meer ‘n domestic hond! Sulke barbare. Eet gras, jy wou gestaak het!

Jakoba ·

Marlene dit is ook nie ‘n hond nie dit is ‘ n jakkals se pels daardie. Lees weer hulle se wilde dier en jy kan duidelik sien dit is ‘n jakkals. Ek het geen simpatie met hulle nie, hulle het dit op hulle self gebring. Het mos gedink hulle kan maak wat hulle wil en geweld maak alles reg, nou betaal hulle die prys. Konsekwente vir jou optrede is hard.

Martin ·

Nie ‘n probleem met die hulp nie. Wie het dit oor hulle gebring – hulle self. Hulle het ‘n werk gehad. Hoekom het hulle gaan staak. Om nou Gift of the givers se goedheid te misbruik is om iets van oor te kom. Toe hulle gestaak en die land en sy mense baie groot skade aangedoen het,het hulle nie’n m@@r omgegee nie. Gee hulle kos dan gaan daar ook fout mee wees, gee hulle ‘n job, dan staak hulle weer. Hoe lank gaan Gift off the givers vir hulle kan voorsien? Sterkte vir hulle, maar Gift of the givers is baie beter mense as wat ek ooit sal wees. Glo my ek help ook waar ek kan, maar daar is perke.

Gerhard Bezuidenhout ·

Stem saam stuur hulle terug vanwaar hulle kom . Hulle het hul eie bed opgemaak omdat hulle getaak en verwoes het, en dit is van hulle wat betrokke is by alle onwettighede .

Andrea ·

Was hulle nie gewaarsku dat juis hierdie situasie kan ontstaan nie? Ek het geen simpatie nie, gaan soek kos by daardie vet, blink uniebase.

MM ·

Dit gebeur as jy nooit wil werk nie. Om te staak bring nie geld in nie, maar daardie een verstaan hulle mos nie. Jy moet geld maak om jou werkers te kan betaal.

Bruno Stef ·

Volgens eerstehandse kennis op myne wat ek in my leeftyd ervaar het was daar onder andere veral Sotho hostel bewoners mense wat katte as n lekkerny beskou het.Dit was volgens hulle lekkerder as n hoender en daarom het hulle met katte geteel en hulle ook gevoer en oor n tydperk geslag en die vel as n kopdoek gebruik.

JWK ·

Stem saam met almal hierbo. Waar kry Gift of the givers geld hiervoor?

Johan ·

Ken party mense so wragtag nie die verskil tussen ‘n hond en ‘n Rooi Jakkals nie?????!!!!!

Gerhard Bezuidenhout ·

Die vel wat hulle daar vashou is die van n blourugjakkals . Ek mag hom nie op my plaas skiet nie want daar is n wet daarteen al vang hulle my pasgebore kalwers.

Martin ·

Silwerrug Jakkals. Sal kleiner diertjies soos Lammers en voels vang, maar is in die meeste gevalle ‘n aasdier.

HB ·

Kry die arme diere meer jammer as wat ek enige simpatie vir sulke suurstof diewe het. En wat n moewiese straf om groente te eet…….. belaglik. Hulle weet hulle kry hul sin as hulle betoog en weet iemand sal altyd help. Hoe vinniger mense in die land ophou om net te voorsien hoe vinniger sal hier tipe barbare hulle les leer!!!

Thys ·

Dit is net ongelooflik dat hierdie mense wat krimineel opgetree en nou die gevolge dra, gehelp word. Wat van die mense wat hul werke verloor het en in plakkerskampe opge eindig het? Gift of the givers moet liewer hier help. En stuur die buitelanders terug. Hul eie regerings kan vir hulle sorg.

SKAAM JULLE ·

“SIES” Skaam julle jul nie self nie, Wat het geword van die mensdom se morele waardes. Dit kon ieder en elk van julle gewees het wat so kon leef. Is daar nog goedheid in die wereld oor ?

Griet ·

Waar was HULLE morele waardes toe hulle gestaak het, mense vermoor het en eiendom (Nie HULLE eiendom) vernietig het?!?!?!?!?!?!?!

Anne ·

Hulle het dit doodeenvoudig oor hulle self gebring, geen simpatie nie. As jy nie wil hoor nie voel maar.

Lolla ·

As hulle, soos ons ander hardwerkende mense elke dag gaan werk om kos op die tafel te sit in plaas van te toi toi, dan het hulle vandag nog werk gehad en dan was dit nie nodig dat die arme diere daar onder lei nie. Party mense wil net demand, en as dit by werk en dienslewering kom wil hulle nie hulle kant bring nie. SO KRY VIR JULLE

Gideon ·

Wie kan nog na al die wanorde in die land sê ons moet ons skaam!! Ek wens ek kan so persoon in die oë kyk en sien wie is so dom om te dink ons moet ons skaam!!
Die land gaan ten gronde omrede hier geen orde is nie, hoe gouer die stakers hulle laaste asems uitblaas hoe beter!!

Martin ·

Skaam Julle. Daar is nog baie goedheid in die wereld oor, maar dit moet darem nou ook nie misbruik word nie.

Ida ·

nou waar is cosatu, num en al die ander vakbonde dan nou? Hulle is di ondergang van die myne en baie is nog oppad. Ek sê nie hulle moet goeie salarisse kry nie, maar jy kan nie n ingenieur se salaris met graad 8 en selfs minder verwag nie!!!!! Die werkers kry soveel voordele maar is nog steeds nie tevrede nie. So ja. Ek verstaan die myne se punt om toe te maak en te verminder, selfs di staat het iets teen die myne en wurg hule met elke ding waaraan hule kan dink.

Ben ☺☺☺ ·

2009 tot 2015 – was daar nie probleme nie, wat het nou gebeur ?

Marlene ·

Johan, weereens vra ek verskoning. Ek het aanvanklik net die helfte vd pic gesien. Nadat ek die foto enlarge het het ek gesien dis ‘n jakkals.
Jammer ek ontstel julle so.

Deon ·

Ja kan sien daai staking was n groot sukses, kyk net hoe goed gaan dit nou met hulle. Die R4500 per maand lyk nie nou meer so sleg nie

neelsie ·

Ek plant SELF ook ons eie groente , dis gesond en lekker.

SKAAM JULLE ·

MARTIN/GRIET : GOEDHEID IS OM MENSLIK TE WEES. EN JULLE KWALIFISEER GLAD NIE………………..Dink julself in gaan werk jy 1.5km ondergrond in n myn en dan moet jy gelukkig wees met die BROODKRUMMELS. Gaan op jul kniee en se dankie vir wat jul het…………………

Winston ·

Dis n Rooijakkals. Ook bekend as swartrug jakkals. Enige skaap boer is bly as hy so n pels sien hang. Die diere het aansienlik aangewas en is bekend dat hulle lammers van 30 kg kan platrek en uitvreet asook bees kalfies. Twee van hulle eet elke tweede nag n maand oud lam heel op. Dis goed as hulle bietjie uitgedun word. So iets goeds het darm voorgespruit uit die staking. Al is dit een rooijakkals….

Antonie van den Berg ·

Ek weet nie wil nie probeer om my familie met minder as R12000 per maand te onderhou nie. Dis slawe arbeid. En moet gestop word. Een top bestuurspos kan n duisend mense betaal en Suid Afrikaanse myne is ernstig “top-heavy”

Bielie ·

Waar is hulle unies nou? Wie het die staking gereël. Al die groot Cosatu bestuur het geteer aan die arme werkers toe hulle gewerk het, maar nou dat hulle werkloos is, kan hulle nie meer die unies se luukse leefstyl betaal nie, en moet vir hulself sorg. Viva cANCer Viva!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.