Afgedankte weermaglede nou hof toe

Afgedankte weermaglede wend hulle nou tot die hooggeregshof om weer aangestel te word.

Die groep van 36 lede van die Suid-Afrikaanse Weermag wat afgedank is omdat hulle nie in Kuba by ʼn ongeakkrediteerde instelling medies wou studeer nie, het ʼn dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria gebring waarin hulle vra dat hulle afdankings ter syde gestel word.

Hulle sleep die hoof van die weermag, genl. Solly Shoke, die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die geneesheer-generaal, lt.genl. Aubrey Sedibe, en die sekretaris van verdediging, dr. Sam Gulube, hof toe oor hulle “onwettige en onregverdige afdanking” in Februarie vanjaar.

Hulle vra onder meer om met volle voordele heraangestel word. Die herinstelling is ook nodig sodat die groep ingevolge die weermag se militêre dissiplinêre kode in ʼn militêre hof verhoor kan word. “Die applikante wil nie die behoorlike dissiplinêre proses ontduik nie. Inteendeel, hulle dring daarop aan dat die korrekte proses gevolg word”, lui die hofstukke.

Die groep is afgedank omdat hulle kwansuis geweier het om klasse vir hulle mediese studie by te woon.

Hulle voer onder meer aan die besluit was onwettig en ongeldig omdat die hoof van die weermag nie by magte is om ʼn weermaglid af te dank ingevolge ʼn oortreding van die weermag se dissiplinêre kode nie. Dit was volgens hulle ook prosedureel onregverdig.

Luidens die hofstukke het die respondente gekies om nie formele klagte in ʼn militêre hof – en ingevolge die weermag se dissiplinêre kode – teen die groep aanhangig te maak nie. “Pleks daarvan het die hoof van die weermag die lede afgedank ná ʼn ad hoc-prosedure omdat die lede se optrede grens aan muitery, of omdat hulle alternatiewelik langer as 30 dae afwesig was van amptelike diens sonder die toestemming van hulle bevelvoerder.”

Die groep studente, wat reeds in die weermag gedien het as kliniese assistente, verpleërs, mediese ordonnanse en tandheelkundige tegnici, het in 2017 in Kuba met hulle studie begin. Die meeste van hulle is al langer as ʼn dekade in die weermag. Hulle het van Augustus 2017 tot Julie 2018 ʼn kursus in Spaans ondergaan en ingeskryf vir ʼn pre-mediese kursus aan die mediese universiteit in Santiago in Kuba.

Hulle gee sedert April verlede jaar reeds hulle kommer oor hulle studie in Kuba te kenne en het onder meer kapsie gemaak omdat hulle by ʼn infanterieskool wat nié geakkrediteer is om medies aan te bied nie, moes studeer. Hulle het geen bewys van registrasie gekry nie en kon dus ook nie by die SA Raad op Gesondheidsberoepe registreer nie. Dosente aan die universiteit waar hulle studeer het, het hulle telkens ingelig dat hulle nié as studente geregistreer is nie en al hulle uitslae is in potlood ingeskryf.

Hoewel die groep die eerste semester by die universiteit begin en die eksamen daar afgelê het, is hulle in Februarie vanjaar ingelig dat hulle voortaan by die infanterieskool moet studeer. Dit is nie ʼn mediese fakulteit nie.

In hulle hofstukke voer die groep aan dat hulle ten spyte van hul kommer en korrespondensie daaroor, beveel is om klasse by die infanterieskool by te woon. Hulle is aangesê om die weermag se top-bestuur oor die situasie “te vertrou”. Hulle sou glo voor Junie vanjaar as studente geregistreer word, maar “as dit nie gebeur nie, moes hulle geduldig wees”. Dié onderneming is egter nie op skrif gestel nie.

Die groep het aangedui dat hulle in dié geval eerder na Suid-Afrika wil terugkeer. Op 25 Februarie is hulle summier afgedank.

Die groep voer aan die hoof van die weermag mag nie ʼn lid afdank wat ingevolge die weermag se dissiplinêre kode ʼn beweerde misdaad begaan het nie, maar dat ʼn militêre hof daaroor moet besluit. Die hofstukke verwys ook na ʼn vorige hofuitspraak waarin die weermag tereg gewys is weens sy pogings om militêre howe te ontduik.

Die applikante voer aan dat hulle afgedank is 15 dae nadat hulle hul bevelvoerders ingelig het dat hulle nie meer klasse gaan bywoon nie. Dit is boonop gedoen sonder dat ʼn raad van ondersoek oor die saak byeengeroep is.

Die groep voer ook aan dat hul afdanking prosedureel onregverdig was. Dis gedoen terwyl hulle nog op ʼn militêre basis in Kuba was én sonder dat hulle daarvan geweet het.

Die groep het op 15 Maart vanjaar die laaste keer ʼn salaris verdien. Luidens die hofstukke is die meeste van hulle broodwinners wat hulle gesinne agtergelaat het om verder te gaan studeer. Sedert hulle afdanking is die groep hul mediese fonds, behuisings- en ander voordele kwyt.

Hulle voer aan dat hulle brandarm gelaat gaan word mits die saak nie dringend aangehoor word nie.

Die respondente het tot 17 Mei om aan te dui of hulle die aansoek gaan teenstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Veritas ·

Geen wonder dat die SANW in so’n gemors is nie. Daar bestaan nie meer iets soos disipline in die weermag nie. Hoe verlang ek nie na my dae in die SAW nie.

Boesman ·

Duidelik het die SANDF generaals nie ‘n benul wat aangaan nie. Die mense sou medies studeer om dokters te word. Nou kry hul opdrag om aan ‘n Infanterie skool te studeer. Dan word van die studente verwag om die generaals te vertrou. Die saak moet in ‘n militêre hof aangehoor word soos versoek deur die studente.

wraggies ·

Hoekom kon hulle nie ‘n pre-mediese kursus of verder medies studeer het in Engels in SA nie, wat is die behepteid met Kuba.

Daan Erasmus ·

Presies wat ek ook sê. Die Kuba storie is net geldmors. En dit is my en jou geld.

Hanna Hoekom ·

Ek dink die meeste van hulle sou nie kwalifiseer om in n eerste wereld land te gaan studeer nie. Ek mag verkeerd wees…

My Jinne! ·

Ek het vermoed daar is ‘n storie agter die storie wat MM so rukkie gelede gepubliseer het dat hulle “vermis” is. Wys jou, you can fool some of the people some of the time ….

Elsa ·

Maar die dokters grade word nêrens erken nie. So die “graad” beteken niks

Koos de Meyer. ·

Kubane het gehelp met die bevryding teen ons in Angola dis daarom. Hulle het ook pak gekry by brug 14 teen ons troepe.

Alida ·

Hoekom kan hulle nie in SA medies studeer nie? Teminste hoef mens nie jou begrafnis te reel voor jy in n staatshospitaal opgeneem word nie.

Gert van Wierdapark ·

Quanta Costa??? My beste Spaans = wat de hel het dit en gaan dit nog die Belastingbetalers kos? Die Kaster-olie studiereis in Kuba was en is Katastrofies. Vraag:was was die uitslae van hul eksamen by die betrokke universiteit? Lyk my hul is toe “ge-demote” om Elders hul potensiele dokters-passies te gaan probeer uitsorteer. Die hele Kuba storie is maar bietjie Grieks vir my = ‘n Traag-edie!!

Anel ·

Vroëer jare kon militêre lede medies aan 1Mil gestudeer het. Dit was ook ‘n opleidingshospitaal vir weermag lede. Hoekom nie nou meer nie? Wie wil nou deur ‘n kubaan behandel word? Hulle grade beyeken in elke geval niks. Net geld mors. Ai tog.

Stoffel ·

Die weermaglede het steeds by Tukkies studeer, maar van hul kliniese werk by 1Mil gedoen.

Hb ·

Ek hoop hulle slaag met di aansoek. Weermag mors met hulle en hulle toekoms en tyd.

Dries du Toit ·

Hoekom moet hulle medies studeer om dokters te word ???? Dit is die nuwe SA. Maak hulle dokters

Hanna Hoekom ·

Ek het saam met Kubane in n staatshospitaal in Limpopo gewerk. Taal is maar een van die probleme. Kom ons los dit maar daar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.