Afgetrede onderwysers praat oor nag van angs

Hennie en Hanlie Kotze (Foto: Verskaf)

“Dit het onwerklik gevoel. Só asof ons droom.”

Só vertel oudhekkiesatleet Hennie Kotze (62) en sy vrou, Hanlie (61), wat verlede Sondag in hul huis in George in die Wes-Kaap deur twee mans aangeval en beroof is.

Dié twee afgetrede onderwysers is erg getraumatiseerd deur die voorval en probeer alles nog verwerk. Tog is hulle nie van plan om die huis te verkoop waarvoor hulle so lank gespaar het nie.

“Ons kon dood gewees het, maar is gespaar,” sê Hennie.

Die egpaar vertel Hanlie het die oggend omstreeks 04:30 wakker geword om die egpaar se hond uit te vat.

“Toe ek die slaapkamerdeur oopmaak, het daar twee mans by die deur gestaan. Ek het geskreeu,” vertel Hanlie.

Die egpaar vermoed die mans het by ’n venster in die leefvertrek die huis betree. Die een man was met ’n mes gewapen en die ander een het ’n breekyster in die hand gehad.

“Die mans het my met ’n breekyster begin aanrand en een van my gewrigte in die proses vergruis.”

Volgens Hennie het hy uit die bed gespring en ’n struweling het tussen hom en die een man ontstaan. Hy is ’n paar keer met ’n mes gesteek en ook met die breekyster geslaan.

Die mans het die egpaar se hond uit die kamer geboender.

“Die mans het ons vasgebind en ’n koningsgroottebed se matras bo-oor ons gegooi. Hulle het ook goed in ons monde gedruk,” vertel Hennie.

“Ons het hulle gesmeek om gou te maak, sodat ons by ’n dokter kan uitkom voordat ons doodbloei,” sê Hanlie.

Die mans het die egpaar se selfone, skootrekenaars, kontant, een van Hennie se kameras en van Hanlie se juwele gebuit.

“Hulle het my gedwing om my wagwoord van my banktoepassing te gee, waarna hulle toe die meeste van my geld uit my bankrekening onttrek het. Met die res van die geld wat hulle nie kon onttrek nie, het hulle lugtyd gekoop.”

Die mans het in die egpaar se motor gevlug. Die motor is later verlate naby Pacaltsdorp gevind.

Nadat die verdagtes weg is, het Hennie daarin geslaag om sy een hand te bevry en hy het vir Hanlie losgemaak. Hulle het die paniekknoppie in die kombuis geaktiveer.

“Ons het buite op die stoep gaan staan en ’n drawwer wat verbygehardloop het, voorgekeer en gevra om die ambulans en polisie te bel. Hulp was binne twee minute op die toneel,” vertel die egpaar.

Die egpaar is daarna na die Mediclinic George geneem vir verdere mediese behandeling.

Hanlie se hande is dieselfde aand geopereer. Een hand is vergruis en die ander ernstig beseer met snywonde. Sy het ook ’n kapwond op haar kop gehad. Hennie het ’n paar meswonde, skedelbreuk en ʼn gesigfraktuur opgedoen.

Die egpaar is ná drie dae uit die hospitaal ontslaan. Hul dogter van Pretoria het ’n week by hulle gaan bly om na hulle om te sien.

Die verdagtes is steeds op vrye voet en die egpaar hoop dat hulle binnekort in hegtenis geneem geneem sal word.

Die egpaar is skrikkerig, maar ook meer paraat ná die aanval. “Dít was ’n wekroep dat ons versigtiger moet wees en ons veiligheid by die huis moet opskerp.”

Volgens die egpaar is dit ongewoon dat ’n aanval van só ʼn gewelddadige aard in George afspeel.

“Ons het nie gedink só iets kan in George gebeur nie. Maar ons sal nie ons droomhuis prysgee en weghardloop nie. Ons het ons hele lewe lank vir hierdie huis gespaar. Ons sal nie toelaat dat hierdie mense ons drome vernietig nie. Ons plaas ons hoop op die Here dat Hy ons sal beskerm.”

Die egpaar het vyf jaar gelede ná hul aftrede van Pretoria na George verhuis.

Hennie was tussen 1989 en 2007 ’n onderwyser aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hy rig ook met tussenposes sedert 2008 atletiek in Saoedi-Arabië af. Hy rig tans atletiek in Katar af en was self ook ’n Springbok-hekkiesatleet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Blom ·

Wreedaardig verby!!! Hoop die wetters word gou gevang. Sterkte aan Hennie en Hanlie.

Harley Davidson ·

So word ordentlike belasting betaler mense geterroriseer deur suurstofdiewe die weskaap moet afstig van Suid-Afrika sodat die nuwe regering die misdaad kan vasvat .

Republikein in die Wes Kaap ·

Net ‘n gedeelte van die Wes Kaap. Sowat 20 000 vierkante km. is voldoende om ‘n nuwe staat te vestig. Amper so groot soos Israel. Jonges word opgeroep vir diensplig en patrolleer state 24/7. Die DA kan die res hou en steeds verslag doen aan Pretoria.

Koen ·

Jy is snaaks om te dink “jonges” kan opgeroep word vir diensplig. Hulle sal jou ‘n pit druk.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy is seker nog jonk of het vergeet hoe dinge voor 1994 hier gewerk het. Enige respektabele land het ‘n verdedingswet wat voorsiening maak vir diensplig. Indien jy weier om aan te meld gaan jy tronk toe. Vir rugryers is daar nie plek nie.

Hennie ·

Dit verstom my dat mense eers wakker wil skrik nadat so iets gebeur het, en dat hulle dink so iets kan nie met hulle gebeur of in ‘n plek soos George nie.

ES ·

Ek stem Hennie, hoewel dit nie so algemeen is soos bv hier in Gauteng nie, moet mense nogsteeds paraat en veiligheidsbewus wees. Hierdie kon baie leliker uitgedraai het.

Republikein in die Wes Kaap ·

George en Mosselbaai is vinnig besig om hul glans te verloor.

Marius ·

Hennie – saam met die plus/minus 150 families per maand moet die gemors ook seker saam kom na ons eens mooie dorp (George)?

Koen ·

Die 150 families gaan nie daarvan hou dat jy na hulle uitgebreide bedienaars verwys as gemors nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Koen, hulle gee nie om nie, solank hulle net kan aas.

Frank ·

Lugtyd gekoop???? En hoekom is hulle dan nog nie gevang nie, Cele????

SjN ·

Die rekords kan mos nagespoor word, die lugtyd fone en gebruikers moet mos gefica wees.

Lourens CFG ·

My seun het vir ons ‘n goeie alarm sisteem met CCTV kameras én “beams” buite om die huis ingesit (sodat ons gewaarsku word nog vóór daar ingebreek word), en ons hou dit alles altyd aan. Deur die dag “bypass” ons sekere gedeeltes om rond te beweeg.
Sterkte aan julle.

Snowball ·

Saam met die droomhuis vir aftrede in SA, moet jy begroot vir diefwering, ‘n alarm, veiligheidshekke, ‘n sekuriteitsfirma of buurtwag en ‘n elektriese heining en as jy daarvoor kans sien, ‘n vuurwapen. En dan moet jy nog steeds 24/7 op jou hoede bly om te verseker dat hierdie kriminele uitvaagsels jou nie kan bykom nie. Wat ‘n hool van ‘n land!

Anna-marie ·

En sit jy jou voet buite hierdie sekuriteitseiland van jou, soos om te gaan kos koop, is jy maar weer net so kwesbaar.

Waarnemer ·

Julle “hoop” dat hulle gevang gaan word sal kngelukkig net by hoop bly….jsmner vir die seer maar julle is in SA.Hulle boeties werk vir die polisie.

Marius ·

Ek hoop net dat saps nie ook op die toneel bewyse mis gekyk het soos met my ma n paar huise weg nie.
Dit is nou al meer as n jaar later en saps laat weet mens niks oor wat aangaan met die saak nie.
Nie dat ek beter verwag het nie , nadat die hoe saps lede ook daar was.

Strandloper ·

Sjoe klink soos n movie. Sterkte daar. Onthou om altyd een stap voor te wees. Ons is nou amptelik in oorlewing.

Oosieoos ·

Moet nou maar jou wapen byderhand hou. George is a rustige dorp so misdaad ruk handuit en Cele wil ons ontwapen hy kan vlieg

Jr ·

JA maar ramapawpaw prys die mini star van die polisie crêche en sê hy is reg. Heh heh heh

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.