Afgetrede professor kry 18de graad, maar is glo nou klaar

Boelie Wessels en dr. Khotso Mokhele.

Boelie Wessels en dr. Khotso Mokhele.

’n Uitnemende akademikus, kollega en lewenslange student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), prof. Hermanus (Boelie) Wessels, het vanjaar sy 18de graad ontvang.

In die ouderdom van 85, en weens swak gesondheid, het die UV se kanselier, dr. Khotso Mokhele, sy laaste graad tuis aan hom oorhandig. Wat net ’n kort besoek sou wees, het uiteindelik in ’n onvergeetlike middag vir sowel dr. Mokhele as die Wessels-gesin verander.

Wessels was van 1974 af lank hoof van die Departement Romeinse Reg aan die UV waar hy in 1990 formeel afgetree het, maar steeds voortgegaan het om in verskeie vakke klas te gee. Hy is een van die min mense ter wêreld wat werklik vlot in Latyn is, maar vir Latyn 1 het hy destyds maar “ongeveer 15 % gekry”. In 1983 het hy sy doktorsgraad in Latyn behaal, ’n volle 33 jaar nadat sy ma vir hom spesiale Latynklasse gereël het.

Tien jaar voordat hy die doktorsgraad in Latyn behaal het, het hy ook sy doktorsgraad in staatsleer (deesdae politieke wetenskap) behaal. Hy het meestersgrade in onder meer strafreg, Grieks, Hebreeus, Bybelkunde, kerkgeskiedenis en nabye Oosterse studies.

Hy het nooit leer bestuur nie, en was jare lank ’n bekende gesig waar hy van sy huis in die woonbuurt Universitas na die kampus gestap het.

Prof. Wessels het sy diens aan die universiteit, waaronder Latynse vertaling vir die Fakulteit Regsgeleerdheid, verlede jaar beëindig. Sy voortreflike prestasies en toewyding aan die universiteit sal altyd onthou word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Peet Schabort ·

Wat ‘n uitmuntende prestasie!
LW grade “behaal” en nie sommer net “gekry”.

Martha ·

Welgedaan. Ek haal my hoed vir hom af en sal so ‘n persoon respekteer vir dit wat hy in die lewe bereik het. Wat ‘n voorbeeld.

Eish! ·

Wow! Goed gedoen. Ek het nie ‘n graad nie, maar darem 33 jaar terug my motorlisensie gekry. Verdien en nie net gekoop nie.

Theresa ·

Ai hoe lekker lag ek nou vir Eish !!! Ja nee ek stem – hierdie is ‘n ongelooflike prestasie. In my hele lewe sal ek dit nooit doen nie – ek is nie SO lief vir leer nie. Ek het darem ‘n ruggraad.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.