Afgetrede sekretaris van verdediging sterf

Dr. Sam Makhudu Gulube (Foto: Verskaf)

Die voormalige sekretaris van verdediging en hoof van die departement van verdediging, dr. Sam Makhudu Gulube, is Sondag in die ouderdom van 67 jaar dood.

Gulube het onlangs afgetree ná etlike jare diens. Hy was tot kort gelede nog betrokke by die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Natjoints) wat aanbevelings rakende die hantering van Covid-19 aan die presidensie maak.

Die weermag het geen besonderhede oor die omstandighede van Gulube se dood bekend gemaak nie.

Gulube, ’n opgeleide mediese dokter, het gedurende sy loopbaan in verskeie hoedanighede opgetree, onder andere as voorsitter van die mediese adviesraad van die presidensie, die nasionale mediese direkteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens en uitvoerende hoof van die staatsbeheerde Universal Services and Access Agency of South Africa (Usaasa)

Gulube is ook ʼn voormalige adviseur van Siyabonga Cwele, minister van staatsveiligheid.

“Dr. Gulube, ʼn beskeie, stil, nederige en hoogs intelligente man, sal gemis word vir sy bydrae. Suid-Afrika het ʼn wonderlike seun verloor en hy sal deur almal gemis word,” het Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, Maandag in ʼn verklaring gesê.

Luidens die verklaring sal Gulube veral onthou word vir die belangrike rol wat hy verlede jaar aan die stuur van Natjoints tydens die begin van die Covid-19-pandemie gespeel het.

“Dr. Gulube het Natjoints met sy mediese ervaring in staat gestel om tydens die kritiekste stadiums van die stryd teen die koronavirus aanbevelings oor alle koronavirus-verwante sake aan die kabinet te doen.”

Gulube het sy mediese studies in die VSA voltooi nadat hy 12 jaar lank as algemene chirurg gespesialiseer het. Hy was ook ʼn voormalige uMkhonto we Sizwe (MK)-soldaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.