Afghanistan-aanval: “God het ʼn plan met my”

Werner Groenewald, sy vrou Hannelie en kinders Jean-Pierre en Rhodé Foto: muslims4jesus.wordpress.com

Werner Groenewald, sy vrou Hannelie en kinders Jean-Pierre en Rhodé Foto: muslims4jesus.wordpress.com

Hannelie Groenewald, die Suid-Afrikaanse vrou wie se man en twee kinders die naweek in Kaboel in Afghanistan doodgeskiet is, glo God het haar lewe vir ʼn rede gespaar, het Beeld Dinsdag berig.

Groenewald het tydens ʼn telefoniese onderhoud vanuit Afghanistan aan die dagblad gesê sy sou verkies om saam met haar gesin te sterf het, “maar God het duidelik ander planne met my”.

“Ek het vrede in my hart. Ek weet waar my man en kinders is,” het sy gesê. Sy het gesê mense van regoor die wêreld dra haar in hul gebede op.

Sy woon tans saam met vriende en hoop om binne ʼn week weer terug te wees in Suid-Afrika.

“Dan moet ons die begrafnis hou. My lewe het om my man en kinders gedraai, en nou is hulle weg,” het sy gesê. “Dit gaan deur die dag beter as ek besig is, maar in die aande is dit moeilik as ek besef ek is alleen agtergelaat.”

Haar man, Werner Groenewald (46), en kinders Jean-Pierre (17) en Rhodé (15), is Saterdag in ’n Taliban-aanval by hul huis in Kaboel doodgeskiet. Hannelie en haar man het opheffingswerk vir Partnership in Academics & Development (PAD) in Kaboel gedoen. Sy was by ʼn kliniek waar sy as ʼn dokter gewerk het toe die aanval plaasgevind het.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking help Groenewald om ʼn noodvisum te bekom sodat sy kan terugkeer na Suid-Afrika.

“Noodvisums word deur die departement van binnelandse sake uitgereik, maar ons help om die proses te fasiliteer,” het Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement, gesê.

Lees vorige berigte oor die voorval hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

lillian ·

Ongelooflike sterk vrou, hier in RSA dink ons aan jou en treur saam met jou oor die verlies aan jou gesin. Ons almagtige God en Vader sal jou bystaan en jou dra.

Thys Human ·

Die dood van hierdie mense deur Taliban-terroriste is tragies en skokkend – veral dat twee onskuldige kinders (en selfs die huisdiere) slagoffers daarvan was.

Maar ek het ‘n ernstige vraag of twee oor presies wat die Groenewalds in Kaboel gesoek het. Daar was berwerings van die Taliban dat hulle aan ‘n “geheime” of dan minstens verborge Christen-groep behoort wat probeer het om mense van Afghanistan tot Christendom te “bekeer”. Dit is heftig ontken, maar dit blyk dat Werner in SA ‘n “pastoor” was – en nou die vrou se reaksie dat “God ‘n plan met haar het” is sterk aanduidings dat die bewerings oor hulle werklike doel in daardie land, dalk nie die waarheid is nie.

Indien hulle wel besig was om Christelike sendingwerk te doen onder die dekmantel van liefdadigheid, is die ontkennings nie alleen leuentaal nie, maar opperste bedrog. Is dit hoe Christene behoort op te tree en te werk te gaan? Wanneer gaan hierdie mense besef dat nie net die Taliban nie, maar selfs die gewone mense van die Midde-Ooste NIE hulle Christengodsdiens wil aanvaar of selfs eens van wil hoor nie. Bly weg uit hierdie plekke – daar is genoeg mense hier in SA wat bearbei kan word – veral in die tronke!

Jasper ·

Thys, as dit jou taak was om bearbeiding in so n land soos Afghanistan en andere te gaan doen, sou jy borde en plakate opgesit het om jou voornemens te kenne te gee? Daar is talle sendingsaksies wat onder streng geheimhouding plaasvind vanwee al die gevare. Wie is jy om die mense te oordeel ?

Thys Human ·

Jasper, ek oordeel nie – ek beskuldig! Ek beskuldig Christene wat in lande soos Afghanistan en ander in die Midde-Ooste onder valse voorwendsels “sendingwerk” gaan doen, van roekelose, onnosele, dom en fanatieke optrede.

Niemand, net mooi niemand het ‘n “taak: om sendingwerk in sulke lande te doen nie. Dit is ‘n selfopgelegde, verwronge godsdienstige aksie, gebore uit ‘n totaal skewe vertoling van die Christendom. As jy dit as ‘n “taak” beskou, is jy net so godsdiens-fanatiek as hulle.

Kom ons draai die storie om en skep die scenario van die Taliban wat sendingwerk onder wit Suid-Afrikaners kom doen om hulle tot Allah te bekeer. Kan jy dink watse keel sal julle spul opsit? Julle sal dreig om hulle aan te val en uit die land te jaag.

Hou op om julle godsdiens op ander mense van ander oortuigings te probeer afdwing – al noem julle dit “sendingwerk”.

Ek herhaal: hier is genoeg mense hier te lande wat kan doen met ‘n bietjie bekering van hulle kriminele wee.

Jasper ·

Thys moenie my “jou en julle” nie, jy ken my nie eens nie. Nag ou grote

Thys Human ·

Jasper, ek het jou gisteraand geantwoord, maar ek sien die sensor het alweer die snoeisker ingele. Maar net om te herhaal: Ek ken JOU en JOU tipe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.