Afghanistan-aanval: ‘Hy het sy kinders probeer beskerm’

Werner Groenewald, sy vrou Hannelie en kinders Jean-Pierre en Rhodé Foto: muslims4jesus.wordpress.com

Werner Groenewald, sy vrou Hannelie en kinders Jean-Pierre en Rhodé Foto: muslims4jesus.wordpress.com

Werner Groenewald (46) het vergeefs probeer om sy twee kinders te beskerm oomblikke voor hulle die naweek in Kaboel in Afghanistan doodgeskiet is, het die familie gesê.

“Werner is in sy kantoor in sy been geskiet waarna hy by die trappe opgehardloop het om sy kinders [Jean-Pierre (17) en Rhodé (15)] te beskerm,” het Riana du Plessis, Groenewald se skoonsuster, aan Sapa gesê. Du Plessis het in trane uitgebars toe sy vertel het die gesin was oomblikke later dood.

Die aanval het Saterdag by die hulpgroep Partnership in Academics and Development (PAD) se kantoor, waar Groenewald gewerk en gewoon het, in Kaboel plaasgevind. “Drie militante het die huis binnegekom en het hulself as polisiebeamptes voorgedoen. Een was ʼn selfmoordbomaanvaller en die ander twee het vuurwapens gehad,” het Du Plessis gesê.

“Hulle het mense gyselaar geneem waarna hulle met die trappe op is agter Werner aan. Hulle het Werner weer geskiet en ook die kinders,” volgens Du Plessis. Die huis is hierna aan die brand gesteek. “Hulle het gedink Werner is ʼn sendeling wat Moslems na Christenskap bekeer. Werner was nie ʼn sendeling nie, hy was ʼn hulpverlener wat opheffingswerk in Afghanistan gedoen het. Hy het fantastiese werk gedoen.”

Groenewald se vrou Hannelie, was by ʼn kliniek in Kaboel toe die aanval plaasgevind het. “Toe sy by die huis aangekom het, het sy gesien hoe die liggame [van haar gesin] uit die huis verwyder word en in ʼn ambulans gelaai word.” Du Plessis het gesê haar suster is steeds in Afghanistan om te reël dat haar man en kinders se liggame na Suid-Afrika gestuur word.

Du Plessis het haar susterkinders, Jean-Pierre en Rhodé, beskryf as mense wat maklik met ander mense oor die weg gekom het. “Ek het sowat ʼn uur en ʼn half voor die aanval vir hulle ʼn WhatsApp-boodskap gestuur. Hulle was wonderlike kinders, hulle was soos my eie kinders. JP was gek oor tegnologie, hy wou ʼn vlieënier word. Hulle was baie oulike kinders.”

Du Plessis het gesê die gesin se begrafnis sal by die NG-kerk in Moreletapark, Pretoria-Oos gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

lillian ·

En die Bybelse woorde word waar .. julle sal vervolg word …

Eendag sal julle wat mense so afmaai moet gaan verduidelik aan die voete van onse Almagtige Vader wat julle duidelik nou misken …

Vetkopbaasspioen ·

`n Pragtige familie is verwoes in die naam van Islam. Ekstremistiese Moslems wat onder `n wanindruk verkeer het oor die rede waarom die gesin in hulle land was. Dit is baie hartseer. Hoekom kan een geloof nie in harmonie saam met mense van `n ander geloof leef nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.