Afleggings by Kumba, al maak hy sakke vol geld

Die vakbond het ʼn beroep op Kumba gedoen om die afleggingsproses te herevalueer . (Foto: AngloAmericanKumba)

Die vakbond Solidariteit het Kumba Iron Ore se afleggings van honderde werkers as ʼn klap in die gesig bestempel nadat die maatskappy sy finansiële resultate bekend gemaak het – en hy reusegroei in omset én wins vir verlede jaar toon.

Mining Weekly het berig Kumba het ʼn finale dividend van R41,30 verklaar, wat die algehele dividend vir die jaar wat op 31 Desember geëindig het, op R60,90 te staan gebring het. Die dividend is ʼn 30%-toename in vergelyking met dít wat in 2019 uitbetaal is.

Die maatskappy het ook rekordhoë inkomste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (Ebitda) verklaar, terwyl die Ebitda-marge van 52% in 2019 tot 57% verhoog het.

Die webwerf het voorts berig ysterertspryse het verlede jaar ʼn sewejaarhoogtepunt van $109/ton (sowat R1 600/ton) behaal. Dit is grootliks aangedryf deur China se ekonomiese herstelplan en die heropening van ander wêreldwye staalmarkte te midde van die Covid-19-pandemie.

Kumba het sowat R1,3 miljard deur die jaar bespaar, wat sy gesamentlike kostebesparing sedert 2018 op R3,2 miljard te staan bring.

Solidariteit het Kumba Iron Ore se afleggingskennisgewing, wat 1 620 personeellede raak en ʼn voorgestelde 653 werksverliese tot gevolg kan hê, ten sterkste veroordeel.

“Dit is onbillik en bloot gevoelloos vir Kumba om werkers te straf en dít te midde van ʼn pandemie en uitmuntende finansiële prestasie met verhoogde omset, winste en verklaarde dividende. Die rasionaal wat Kumba aanvoer, is bloot ongegrond,” sê Riaan Visser, adjunkhoofsekretaris vir mynbou, landbou en chemie by Solidariteit.

Die vakbond voer aan dat werkers beloon moet word vir die uitstekende prestasie ondanks moeilike omstandighede – maar nou word hulle gestraf.

“Ons lede moes regdeur hierdie krisis werk. Hul families is reeds deur afleggings geraak en hulle sukkel om kos op die tafel te hê. Ons verstaan daar is bedrywe wat tans ontsettend swaar kry, maar dit maak dit net soveel erger wanneer ʼn mynreus soos Kumba ná ʼn uitstekende finansiële jaar ook werknemers wil aflê,” sê Visser.

“Met werkloosheid wat tans op die hoogste vlak in Suid-Afrika se geskiedenis is, kan ʼn onderneming sulke optrede geensins regverdig nie. Ons sal dit nie duld nie.”

Die vakbond het ʼn beroep op Kumba gedoen om die afleggingsproses te herevalueer en verdere werksverliese in die bedryf te stuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Aai ·

Mooi roer hulle soos Denel almal maak geld maar hulle betaal mense af werk nie so.

Tino ·

Julle moet eerder vra hoekom is daar nie vertroue in die suid afrikaanse ekonomie wat die mpy sal laat investeer met gemoedsrus nie.

Die omgewing is toksies en ek kan julle belowe hulle sukkel met die gemeenskap en dienslewering ens. Moet nie die uitvoerende bestuur kruisig nie, kruisig die regering en die regerende party.

Pieter ·

Het die ook al meegemaak en Solidariteit het my in die koue gelos. Gelukkig het ek ‘n plan B gehad en het onmiddelik ander werk gekry. Toe los ek vir Solidariteit in die koue.

Annatjie ·

Jou probleem het niks met die storie te doen. Hou tog op om altyd jou storie te wil vertel.

Pieter9 ·

EBITDA kan nie verhoog van 57% na 52% nie, dit is ‘n verlaging. Dan is daar ook nog die kwessie van ‘the law of diminishing returns’ wat o.a beteken dat jy ‘n punt bereik waar elke volgende werker minder bydrae as die vorige een. Dus kan ‘n winsgewinde besigheid arbeid verminder al is hulle winsgewind. Elke besigheid moet hulpbronne so effektief moontlik aanwend om sodoende winsgewindhied oor die langtermyn minstens instand te hou.

Christel Cornelissen ·

Dagsê Pieter9
Baie dankie vir jou boodskap. Ons het die fout reggestel en vra om verskoning vir die oorsig.
Groetnis
Christel
nms. Maroela Media

Stefan ·

Elke maatskappy probeer as gevolg van vakbonde en gepaardgaande probleme met so min as moontlik werknemers reg te kom, hulle investeer liewer in toerusting wat minder werkers benodig en ook nie staak nie.

La-di-da ·

Thabazimbi was ñ mynerdorpie wat rondom die myn ontwikkel het. Thabazimbi was nie meer dieselfde toe Kumba toegemaak het nie. Baie mense het hier gebly, want hulle was op pensioenouderdom , maar daar was n magdom mense wat sonder werk gesit. Thabazimbi het gekwyn. Die dorp na “Texit” en stadig maar seker weer op dreef gekom. Maar die base se se sakke bly vol en Kumba winsgrense het ñ rekord hoog bereik, dit maak mos nie sin om nog mense af te lê nie???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.