Afleggings by LNR eers gestuit

(Foto: LNR/Facebook)

Die Landbounavorsingsraad (LNR) het die afleggingsproses wat hy van stapel gestuur het en wat 1 000 poste sou raak, laat vaar.

Solidariteit sê die vakbond sal nou binnekort met die samestelling van ʼn taakspan begin om alternatiewe te ondersoek om moontlike afleggings in die toekoms te vermy. Volgens die vakbond is die LNR se besluit die gevolg van sy volgehou druk op die LNR. Die raad het op 2 Junie kennis gegee van sy voorneme om van 1 000 werkers ontslae te raak.

Solidariteit het Donderdag gesê ná gesprekke met die LNR kon die organisasie geen aanduiding gee van die poste waarna hy in hierdie kennisgewing verwys het nie.

“Aangesien dit deel is van die artikel 189A-proses, is dit skrikwekkend dat die bestuur nie die nodige inligting kon verskaf soos vereis word deur die wet nie. Die verwagting is tog dat die bestuur ʼn deeglike ontleding sou doen voordat daar tot so ʼn drastiese stap oorgegaan word wat soveel poste sal raak,” het Peirru Marx, sektorkoördineerder by Solidariteit, gesê.

Marx sê Solidariteit het reeds drie keer met die LNR vergader, maar kon tot nou geen vordering maak om met sy geraakte lede te beraadslaag nie.

“Die LNR blyk steeds nie oor die nodige inligting te beskik om doeltreffende oorlegpleging te bewerkstellig nie en ons is met geen ander keuse gelaat as om die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) te vra om tussenbeide te tree nie,” het Marx gesê.

Die LNR moes dus die afleggingskennisgewing onttrek.

Marx sê Solidariteit tref in hierdie stadium voorbereidings vir ʼn strategiese taakspan bestaande uit alle betrokke partye om die beste oplossing te vind vir die finansiële druk waaronder die LNR in hierdie stadium gebuk gaan.

“Dit is vir Solidariteit van sleutelbelang om sy lede se werk en inkomste in hierdie moeilike tye te beskerm. Ons verwelkom die nuwe verwikkelinge en sal elke moontlike opsie ondersoek om enige werksverliese te vermy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nico

Die Organisasie het tot ‘n paar jaar terug so ‘n goeie bydra tot Landbounavorsing gelewer en nou is die ook tot in die grond in bestuur.

Jakes

Ek sal graag wil weet hoe dit moontlik is dat 1000 mense by hierdie navorsingsorganisasie werksaam is en wat hul werksfunksie is? Klink in elk geval vir my of meeste van hulle botallig is en dat mense na willekeur aangestel is. Dit het maar n siekte in SA geword.

Sarel

Die Regering van die dag moet nou uithasl en wys.Slegs werkers en hulle gesinne word gerask terwyl geld wat as redding gebruik kan word …. wasr is dit?