Afleggings by MTN beplan

(Argieffoto)

Daar word glo ʼn reeks afleggings by die selfoonnetwerk MTN beplan. Dit ten spyte daarvan dat die maatskappy in sy jongste finansiële jaar sowat R14 miljard se wins verklaar het.

Die vakbond Solidariteit het Vrydag sy misnoeë oor MTN se planne uitgespreek en meen dit is “gevoelloos en immoreel” om beplande afleggings aan te kondig “terwyl die maatskappy se syfers ʼn reusesukses toon”.

MTN het na bewering vandeesweek werknemers oor die komende afleggings in kennis gestel. Dit is nog nie duidelik wat die omvang van hierdie afleggings is nie.

Linda Senekal, netwerkkoördineerder vir Solidariteit, sê die maatskappy is besig om immoreel teenoor sy werkers op te tree, veral in tye waar inflasie en brandstofpryse die hoogte inskiet.

“Die maatskappy is besig om met mense se lewens te speel. Om ʼn deel van jou werksmag in die pad te steek, ten spyte van die miljarde rand se wins wat selfs sy eie verwagtinge oortref het, skets ʼn skreiende prentjie van die Suid-Afrikaanse samelewing en die rol wat groot ondernemings soos MTN daarin speel.”

Benewens die “immorele” wyse waarop die netwerk hierdie proses hanteer, voer Senekal aan dat dit selfs onwettig is. MTN het verlede maand aangekondig dat hy moontlik Telkom sal aankoop. Hierdie ooreenkoms sal hom toegang tot Telkom se veselbates gee. Dit sal die netwerk se 4G- en 5G-selfoondienste aansienlik uitbrei en verbeter.

“As MTN voorsien dat daar duplisering van rolle gaan plaasvind indien hy wel Telkom sou koop, dan moet hy dit ingevolge die voorgeskrewe artikel 197-proses hanteer. Hy kan nie wegkruip agter die skyn van ʼn gewone afleggingsproses nie,” sê sy.

“Werknemers en hulle afhanklikes se lewens is op die spel, maar MTN se bestuur het nie begrip hiervoor nie.”

Volgens Solidariteit sal sy lede wat deel van die MTN-werksmag uitmaak, sy volle ondersteuning ingevolge arbeidswetgewing geniet.

“Daar is geen kans dat ons lede by MTN aan die noodlot oorgelaat sal word nie – nie terwyl selfs werkende Suid-Afrikaners daagliks verarm nie. Dit sal noodlottig vir dié werknemers wees indien MTN se afleggings ongedaag sou voortgaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Althes ·

Ek stem dat dit immoreel is in ñ baie moeilike en kwesbare tyd vir landsburgers wat in ñ finansiële oorlewingskrisis gewikkel is.
Dis ñ skande MTN, jou kliënte het jou gebring tot waar jy vandag is. Jy is nooit te magtig om te val nie.

Perdeby ·

Wat op hierdie stadium nog nie goedgekeur is nie. Die Mededingingskommissie het dit summier afgekeur.

Windhond ·

Hemele behoed ons – ek is n internet verbruiker by albei – Telkom wen los hande MTN meer af as aan

Oosieoos ·

Mtn gee net vir hulself om. Geen kliënte diens. Kan nie glo mense gebruik julle nog

Casper ·

Ek kan net raai wie is die ongelukkiges wat afgelê gaan word.Dit gaan mos altyd so

Frikkie ·

Dis ‘n skande. Kan nie glo dat dit toegelaat kan word nie.

Jack ·

Gee die maaiers gas. Hulle moet maar hul boeke oopmaak sodat die hof kan besluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.