Afleggings by SAL nou in hof se hande

(Foto: SAL/Facebook)

Uitspraak is voorbehou in ʼn aansoek van die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse kajuitbemanningsvereniging (Sacca) om die afleggingsproses by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te stuit.

Die vakbonde het Donderdag in die arbeidshof aangevoer die sakereddingspraktisyns het tot dusver geen sakereddingsplan voorgelê nie en die afleggingsproses wat in Maart van stapel gestuur is, is gevolglik onregmatig. Indien dit nie onregmatig is nie, is dit ten minste onregverdig.

Die vakbonde vra ook dat die afleggingskennisgewings herroep óf die proses opgeskort word tot ʼn behoorlike sakereddingsplan voorgelê word.

“Dit is gemene saak dat Numsa en Sacca verskeie regsprosesse van stapel gestuur het om die SAL se uitvoerende bestuur en die raad te dwing om die aanbevelings wat uit verskeie forensiese ondersoeke na korrupsie gedoen is, in werking te stel,” het die vakbonde Donderdag in ʼn verklaring gesê.

“Ons het selfs sover gegaan om aansoek te doen dat die raad van die tegniese afdeling (SAAT) tot misdadige direkteure verklaar word. Die vakbonde wag nog vir ʼn datum vir dié aansoek. Ons is gedwing om sulke ingrypende stappe te doen omdat die raad en die uitvoerende bestuur nooit lus gehad het om die redery reg te ruk nie – moontlik omdat sommige van hulle aandadig was aan die korrupsie wat die redery op sy knieë gedwing het.”

Die vakbonde sê die sakeredders het nooit in die belang van werkers opgetree of hulle in samesprekings oor die toekoms van die redery betrek nie.

Hulle voer aan die afleggingsooreenkomste wat werkers aangebied is, laat hulle in geen beter posisie as sou die redery gelikwideer word nie. Die vakbonde beweer die sakeredders is doelbewus besig om werkers te mislei.

Numsa en Sacca sê hulle gaan voort om met die departement van openbare ondernemings te werk om ʼn omkeerplan vir ʼn herstruktureerde SAL te vind.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het Woensdag aan parlementslede gesê die regering plaas druk op die sakeredders vir besonderhede oor hul plan en sê dít wat die departement reeds ontvang het, was eerder ʼn geskiedkundige opsomming van bedrywighede by die SAL as ’n meesterplan vir die toekoms.

Gordhan het ook gesê daar is vrae oor hoe die R5,5 miljard bestee is wat die sakereddingspraktisyns reeds gekry het om met ʼn nuwe plan vir die SAL vorendag te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kosie ·

Die vakbonde het tog nou jare voordeel getrek uit die wanbestuur, want hulle mense is in massa aangestel sonder die nodige vermoëns, werksetiek en ten duurste. Nou dat die belastingbetaler se geld op is; die staat bankrot is; nou skielik is hulle ongelukkig en “slagoffers”. Nee wat, maak die SAA toe en kry klaar, hou op om die onvermydelike uit te stel en wees tog trots op die vernietiging wat julle help vermag het. Pravin is ook die laaste persoon wat moet praat; die ongelooflike skade wat hy hierdie land aangedoen het met sy beleid van geld leen en uitdeel aan sosiale bydraes is nog baie erger as die skade wat hy die SAA aangedoen het.

JohanR ·

Sit die Springbok weer op die stert van die SAL. Hy sal homself sommer self regruk, opkikker en opstaan uit die stof uit. Daai gekleurde onderbroek op die stert het nooit gewerk nie!

Kokerboom ·

Die betrokke Minister moet aanspreeklik gehou word vir vrugtelose uitgawes en die geld van sakeredders verhaal word.
Redes moet verskaf word hoekom Solidariteit se sakereddingsplan nie aanvaar is
Die minister is onbevoeg en moet afgedank word
Die SAL moet verkoop word indien moontlik of net gesluit word. Die vakbonde kan dit met hul eie fondse koop en bestuur. Geen belastingbetalersgeld
Verkoop net die handelsmerk en laat persone met nodige kennis en vermoee dit bedryf.
ANC moet 100 % skuld dra sou die werknemers hul poste verloor
Stop net asb die emosionele draadsittery

johanf ·

Watter minister, hulle wissel so, daar bestaan mos nie meer spesialeer in een rigting nie…..

Leon ·

Dis wat gebeur as jy staak.
Die maatskappy doen nie besigheid nie, maak geen wins nie.
Kortom, die vakbonde is net so deel van die huidige situasie van SAL as wat die korrupte politici is. Nou wil hulle vinger wys?

Stefan ·

En waar moet die geld vandaan kom as daar niks meer is nie en die mense nie afgedank mag word nie?
Die geld is op, daar is nie meer nie, na jul laatste staking kry ek julle ook nie eers jammer nie.

Willem ·

Die ding draai nou lank genoeg laat hy en sy mense gaan. Belangrik die unie moet saam sink

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.