Afleggings dreig by Sibanye-myn

Die Beatrix-myn. (Foto: Sibanye-Stillwater)

Die mynmaatskappy Sibanye-Stillwater het aangekondig dat hy beoog om ʼn totaal van 1 959 werknemers en 465 kontrakteurs by hul Beatrix 4-skag in Welkom in die Vrystaat af te lê.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê die mynmaatskappy beweer die aflegging is nodig weens finansiële verliese wat die maatskappy gely het, sowel as ʼn afname in minerale reserwes by hul metallurgiese aanleg by die Kloof-myn in Westonaria, Gauteng.

“Dit beteken ʼn swart Kersfees wag op hierdie mynwerkers, met die moontlikheid dat hulle in 2023 nie meer ʼn werk kan hê nie wat soos ʼn swaard oor hulle koppe hang,” sê Du Plessis.

“Sibanye het wel met die vorige 189-konsultasies rakende hul Beatrix-skagte en ná die oorname van die Marikana-myne by die mynmaatskappy Lonmin, getoon dat hulle alle alternatiewe ondersoek om die getal werknemers wat afgelê moet word, tot die minimum te beperk.

“Solidariteit sal aktief aan die konsultasieproses deelneem met die hoop om afleggings te voorkom, maar andersins om dit tot die minimum te beperk.”

Die 189-proses sal deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gefasiliteer word en ʼn datum vir die eerste ronde van die konsultasieproses moet nog bevestig word.

Solidariteit en ʼn reeks ander mynbouvakbonde is sedert verlede jaar met Sibanye-Stillwater in ʼn geskil oor loonverhogings betrokke. Stakings oor loonverhogings duur al sedert Maart voort.

Solidariteit het destyds aangevoer dat Sibanye-Stillwater hom vrywillig onder sakeredding moet plaas aangesien die mynmaatskappy nie van plan is om gebeurlikheidsplanne gereed te kry om afleggings af te weer en in goedertrou oor lone te onderhandel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kokerboom ·

Die rooi ligte flikker vir SA ekonomie en STEEDS klou ANC regering vas aan rigiede sosialistiese benadering

Miena ·

Ja nee so gaan dit in ons mynbedryf. Ons is tans 02 collieries in Witbank in ons mynhuis waarvan ons ook gaan toemaak a.g.v. L.O.M. vanaf Oktober 2023.

Frank ·

More money, demand more money, no job, baie slim van die stakers orals

Andries ·

Doelbewuste poging om van ou goudskagte onslae te raak waarvan die reserwes opgedroog het. Maar laat die Zama-Zama’s net een gram van daardie uitgewerkte goud uitgrou, is die gort gaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.