Afleggings, wanbestuur by PetroSA ‘katastrofies’

Solidariteit sê dat die toenemende nienakoming van veiligheidsregulasies, veral weens swak instandhouding, ʼn ernstige gevaar vir werkers inhou. (Foto: Verskaf)

ʼn Tweede afleggingsproses binne 12 maande is by PetroSA van stapel gestuur, ʼn situasie wat Solidariteit vierkant voor die deur van die maatskappy se algehele wanbestuur gelê het.

Solidariteit sê die staatsbeheerde onderneming het sy werkers en vakbonde in Desember verlede jaar ingelig dat hy sy arbeidsmag van 1 168 tot sowat 318 personeellede wil verminder deur 850 werknemers af te lê. Die konsultasieproses daaroor het die afgelope week by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) begin.

“Die topbestuur se uiterste wanbestuur van die maatskappy is vanuit ʼn bedryfsperspektief duidelik herhaal in die bestuur se onbeholpe en nalatige hantering van die afleggingsproses,” sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

“Die artikel 189-afleggingskennisgewing en sakeplan wat personeel en vakbonde ontvang het, is vol tegniese foute en prosedurele gebreke. Die eerste KVBA-konsultasiesessie het gevolglik net op die prosedurele foute gefokus en het glad nie oor substantiewe aangeleenthede gehandel nie.”

Solidariteit sê verdere regstappe na aanleiding van hierdie gebreke is moontlik.

Solidariteit sê selfs in die aanloop tot die afleggingsproses het PetroSA aansoeke vir vrywillige skeidingspakkette onbevoeg hanteer: Hoewel 115 aansoeke vir vrywillige pakkette goedgekeur is, is talle aansoeke van personeellede afgekeur en dié poste is nou as oorbodig verklaar.

Solidariteit veroordeel dit voorts dat die maatskappy baie van sy eie personeel en vakbonde se voorstelle vir ʼn omkeerplan geïgnoreer en “hardkoppig en vyandig” teenoor werknemers en vakbonde gebly het, pleks daarvan om konsensus te vind.

Dit is kommerwekkend dat PetroSA miljoene aan regskoste bestee het om soveel onnodige en voorkombare dispute te betwis. Daardie geld kon gebruik gewees het om die korttermyn-aansporingsplan (STIP) te finansier, sê Du Plessis.

“In plaas daarvan wil die maatskappy salarisse met 20% sny en wil hy vir twee jaar nie verhogings toestaan nie.”

Du Plessis sê hoewel die personeel by ʼn “omkeerplan-oefening” in samewerking met die departement van minerale bronne en energie betrek is, is nie een van die voorstelle waarop ooreengekom is, in werking gestel nie.

Afleggings ‘maklike uitweg’

Solidariteit voer aan dat PetroSA se volhoubaarheid maklik verhoog kan word en dat alle poste behoue kan bly as die regering die gedeelte van die brandstofheffing, wat vroeër as finansiering vir onder meer gaseksplorasieprojekte gedien het, aan PetroSA hertoewys.

Dit is ook in pas met pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging die afgelope naweek dat besluit is dat gaseksplorasie ʼn sleutelprioriteit sal wees met die oog op ekonomiese groei en werkskepping.

Tweedens moet die regering PetroSA weer in staat stel om die brandstofverskaffer vir meer staatsondernemings te wees. Die maatskappye voorsien tans net brandstof aan Eskom, sê Solidariteit. As PetroSA byvoorbeeld die diensverskaffer vir die departement van verdediging word, sal die maatskappy heeltemal volhoubaar wees, terwyl nog staatsondernemings by die lys gevoeg kan word.

Solidariteit wys ook daarop dat die toenemende nienakoming van veiligheidsregulasies, veral weens swak instandhouding, ʼn ernstige gevaar vir werkers inhou. Dit word as kommerwekkend bestempel.

“Ná jare van wanbestuur, wat veral ten opsigte van gebrekkige toekomsbeplanning opmerklik is, is ʼn afleggingsproses nou die maklike uitweg. As die maatskappy egter met afleggings voortgaan, sal dit katastrofiese sosio-ekonomiese gevolge vir veral die Suid-Kaap inhou.

“Solidariteit sal die afleggings teenstaan, maar sal poog om deur konstruktiewe voorstelle te verhoed dat PetroSA in die spoor van Denel en talle ander staatsinstellings volg,” sê Du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

MakersMark ·

Kan niks beters van nog ‘n bankrot staats melk koei vir korrupsie verwag nie. “Incompetence” van die hoogste graad.

Johanna ·

Korrup tot op die BEEN. Mense wat skielik in posisies beklee waarvoor hulle GEEN kennis het nie.
Mense wat groot salarisse kry, wat hulle beslis NIE verdien nie. Hulle bly in GROOT huise en ry GROOT duurste motors.
Hulle sal bly tot die einde en nog aandring op spesuale pakette en goue handrukke.
Was daardie mense, sogename Bestuurders ooit geEvalueer met n behoorlike Performance Appraisal ??
Daar moet op Die persoon/ persone wat die hele verval van Petro Suid Afrika toegelaat het, se Bates beslag gelê word..

Wondermaarnet ·

Johanna, ek stem saam met jou en wat is daardie bestuurders se kwalifikasies in is dit regtig verwerf of soos talle ander wat met vals kwalifikasies in top posisies sit.

Astrain ·

Ek het ‘n vriend wat daar werk. Hy sê daar word al vir baie lank GEEN brandstof vervaardig nie. Mense werk nie maar word betaal – absolute sirkus…

casper ·

Watse staats instansie is NIE ‘n totale mislukking nie?????

Gert ·

Waar kan ek ‘n nuwe donkie kar en vier donkies koop? Ek het nie geld vir ‘n perde kar en perde nie. Is daar huise te koop in die Namib woestyn???

Nico ·

PetroSA. julle het nou lekker droog gemaak nou moet die verbruiker weer betaal vir PetroSA se gemors, kom nou PetroSA daar is mos mense wat nie weet hoe om met geld te werk, hoe nou PetroSA steek dan R11.00 van die petrol prys in hulle sake, word wakker en doen die werk en geldsake reg.

Cobus ·

Ek bly wonder wat mense verwag het om te gebeur? Hierdie was altyd die voorland gewees!! As mens Noord kyk is dit hoe dit van alle tye af gegaan het. Die vraag is eintlik, wie het onbekwame mense in die posisie geplaas, want dan kan jy die oorsaak aanspreek.

WILLEM ·

Swak bestuur soos oral in ons staatsdiens. Bestuurs vaardighede moet aandag kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.