‘Afleggingsbloedbad’: 60 000 poste geraak

Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging Foto: Solidariteit

Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging Foto: Solidariteit

Nagenoeg 60 000 werknemers in verskeie bedrywe oor die hele land se poste was die afgelope jaar weens grootskaalse afleggingsprosesse in die gedrang.

Dít is volgens nuwe syfers wat vandag deur die vakbond Solidariteit tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria bekend gemaak is.

Solidariteit het bevind dat werknemers in die mynboubedryf die swaarste getref word, met 36 maatskappye wat die afgelope jaar met afleggings besig is en 29 261 werknemers in die bedryf wat deur afleggings in die gesig gestaar word. Die inligting- en kommunikasietegnologiebedryf word die tweede swaarste getref, met  8 141 werknemers by ses maatskappy wat deur afleggings geraak is.

Daarby het 24 maatskappye in die metaal- en ingenieursbedryf sedert April 2015 afleggingsprosesse aangekondig waardeur nagenoeg 7 918 werknemers geraak is, terwyl ses maatskappye en 835 werknemers in die chemiese bedryf deur afleggings geraak is. Vergelyk ʼn volledige uiteensetting van die verskillende afleggingsprosesse. Klik hier.

Dr. Dirk Hermann, bedryfshoof van Solidariteit, waarsku dat Suid-Afrika midde ’n bykans perfekte storm is wat poste vernietig. Daar is boonop nog geen teken dat dit gaan opklaar nie.

“Die groot faktore wat die storm voed, sluit onstabiele internasionale toestande, Chinese oorskotte, swakker plaaslike groeivooruitsigte, die veranderde struktuur van die arbeidsmark en swak kommoditeitspryse in. Wat verder bydra, is politieke onsekerheid wat deur die [Nhlanhla] Nene-debakel en politieke uitsprake gesimboliseer word, sistemiese korrupsie en beleggersvertroue wat verswak. Om die kroon te span, is nuwe bemagtigingskodes, in die reeds beleërde mynbedryf, eensydig afgekondig met totaal onrealistiese teikens,” het Hermann gesê.

Hermann voeg by die enkele grootste ingryp van die regering in so ’n krisis is om ’n klimaat van beleggers- en sakevertroue te skep. “Suid-Afrika se dilemma is dat president Jacob Zuma self ’n simbool van gebrekkige vertroue geword het. Dit maak dit bykans onmoontlik vir die regering om die enkele belangrikste ding, naamlik die skep van vertroue, te doen om die storm te laat bedaar,” sê Hermann.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het gesê die getal werkers wat uiteindelik afgelê word, is ’n druppel in die emmer in vergelyking met die aantal werksgeleenthede wat na afloop van ’n formele afleggingsproses verlore gaan.

“In die mynbousektor word daar byvoorbeeld vir elke vaste, heeltydse aanstelling 1,7 werksgeleenthede geskep. Sodra ʼn persoon dus afgelê word, beteken dit dat 1,7 poste verlore gaan. Die situasie in die vervaardigingsektor is egter veel erger aangesien vier eksterne poste, waaronder diensverskaffers, kontrakteurs en ondersteuningsdienste, vir elke heeltydse pos wat afgeskaf word, verlore gaan. Die toename in werknemers wat vrywillige pakkette aanvaar, neem boonop drasties toe aangesien baie werknemers ’n versadigingspunt bereik ten opsigte van die onsekerheid waarin hulle moet werk,” sê Du Plessis.

Solidariteit se afleggingsnoodplan

Solidariteit het ’n afleggingsnoodplan in werking gestel om sy lede wat deur afleggings geraak word, by te staan. Die plan behels onder meer om toe te sien dat maatskappye wat werknemers aflê die regte prosedure ingevolge artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge tydens afleggingsprosesse volg.

Daarby bied Solidariteit aan sy lede finansiële en emosionele bystand gedurende  afleggingsprosesse, en onderhandel met werkgewers vir ander alternatiewe naas afleggings. Dit behels byvoorbeeld om werknemers wat afgelê is elders in die maatskappy op te neem. Solidariteit probeer ook, waar moontlik, om sy lede wat afgelê word met ander potensiële werkgewers in verbinding te bring. Klik hier om die volledige plan te sien.

  • Solidariteit se syfers is op mediaberigte en afleggingskennisgewings gegrond wat sedert April 2015 deur maatskappye waar die vakbond lede verteenwoordig, uitgereik is. Die meeste prosesse wat hierbo genoem word, is nog onderweg, terwyl van die prosesse reeds afgehandel is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Theresa B ·

Hoe ironies. Werkloosheid word “aangespreek” tydens die vreeslike verkiesingsveldtog wat nou weer broei. Maar kyk nou net hoe verloor die mense hulle werk. Die waterpas maak nie sin nie…………………….. Maar nogsteeds glo hulle hierdie mense wat die maan en sterre belowe en gaan stem vir hulle. Hoe dom kan jy nou wees en wanneer gaan die mense ooit leer. Kan hulle nou nie 1 en 1 bymekaar sit nie?

TREVOR ·

daar is teveel buitelanders nie blanke neem alles oor en die regering vergeet eie suid afrika mense. elke dag word daar beroof omdat daar nie werk nie.

Cobus ·

Nee Theresa, neer as 99% van mense is navolgers en nie denkers nie. Hulle word aan hul neuse deer die media gely. Kyk maar net oor die totale wêreld hoe word die mens li beraal en volg na wat eers verkeerd was. Mense dink nie en dit gaan net toeneem

Yvonne MacKenzie ·

Ek stem saam En ek bloei vir die mense wat nou met niks sit En waar en wat is die ondersteuning wat hulle ontvang? Ek wonder hoeveel liberales sit in blanke plakkerskampe en op straat. Of kom hulle beurt nog?

Riaan ·

Wat van die meubel bedryf, het hulle al gaan kyk hoeveel afleggings daar was, julle gaan skrik.

TTh ·

Solidariteit verdien n nobelprys vir hul bystand dubbel en dwars, dankie vir jul energie en tyd bewillig vir ons as lede.

Rynhardt ·

Kom ek skets n meer duidelike prentjie vir mnr.Dirk Hermann asook veral die liberale ekonome wat in ontkenning leef met ons ekonomie.SA ekonomie is klaar vernietig met implementering van Vryheidsmanifes.Ekonomie staan onder 1% groei en was opsetlik vernietig.Daardie 60000 poste gaan nog meer ingedrang kom as jy kyk hoe regstellende aksie/transformasie met mening floreer teen b blankes! Kom ons kyk ook na die internasionale faktor en hoe dit SA uiters negatief gaan raak.Die wereld se globale skuld beloop op meeras $76 triljoen, dit wys die wereld is dodelik siek! Daar is geen geneesmiddel! Amerika se skuld beloop op meer as $20triljoen.Peter Schiff is die president van die Euro Pacific capital en het die volgende in April 2016 gese:”Ek is 100% seker dat die dollar op 28 Mei induie gaan stort.Dit gaan n geweldige effek he op Amerika en Europa! Dit beteken dat jy kan nie koop soos jy wil nie.Markte gaan verder in Europa induie stort! Amerikaners leef in ontkenning met hul ekonomie, want die borrel raak groter en nogmaals groter! Dit beteken dat die Chinese geldeenheid, die yuan die dollar kan vervang! ” Nou kan ons sien hoe nadelig dit SA raak .Of die dollar gaan val op 28 Mei of nie; hy gaan later val, want borrel is buite beheer! Nog steeds is daar n “black out” by liberale ekonome, n “black out” by media24 en SABC!

Paul ·

Moenie die ekonome die kompliment van “liberaal” gee nie. Die term “liberaal” verwys na iemand wat vryheidsliewend is. Die term is gekaap deur sosialiste wat ander mense wil beheer en ander mense se eiendom wil vat. Sosialiste is nie liberaal nie. Diegene wat hul vir vryheid beywer, is liberaal.

Freddy Pietersen ·

Dit als is onvermydelik hoe keer jy dit as die grondstowwe klaar raak ons lewe nie meer in tye van oorvloed nie maar in tye van skaarste die wat het hou vir hulleself

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.