Afleggingsproses by AngloGold Ashanti duur voort

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het vandag gerugte weerlê dat daar reeds ’n ooreenkoms tussen AngloGold Ashanti en vakbonde bereik is om al 849 poste, wat deur ’n artikel-189 afleggingsproses by die maatskappy geraak word, te red. Dit volg nadat vroeër vandeesweek berig is dat daar reeds ’n ooreenkoms bereik is waarin geaffekteerde werknemers oorgeplaas of heropgelei sal word.

Volgens Connie Prinsloo, adjunkhoofsekretaris van die mynboubedryf by Solidariteit, was die vakbond vandeesweek aktief betrokke by vergaderings met die bestuur van die maatskappy en is daar nog hoegenaamd nie enige ooreenkoms bereik nie. “Solidariteit sal natuurlik verheug wees oor elke pos wat moontlik gered kan word,” het Prinsloo gesê.

Volgens Prinsloo sal die vakbond alles in sy vermoë doen om te verseker dat daar so min as moontlik poste deur hierdie proses geraak word. “Die 189-proses, soos deur die Wet op Arbeidsverhoudinge uiteengesit, moet egter eers begin waarna Solidariteit in die beste belang van sy lede sal optree,” het Prinsloo verduidelik.

Prinsloo het daarop gewys dat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) nou ’n kommissaris moet aanwys wat die afleggingsproses gaan fasiliteer. “Ons sal wag om te hoor wie as fasiliteerder gaan optree. Die fasiliteringsproses sal daarna kan begin,” het Prinsloo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Callie van der Merwe ·

Wat ek nie verstaan is dat on sopas n persoon uit ons maatskapy verloor het en sy gaan by AG werk. Nou waarom mense van “buite” aanstel en dan jou eie mense afdank. Maak nie sin!

Ongelukkig ·

Die probleem is uiteindelik ly almal onder opstande/protesaksies. Aanvanklik word daar die vereiste verhogings toegestaan waarvoor daar vir weke getoyi toyi word. Dit lyk net altyd asof die stakende werkers die botoon voer, dit lyk net asof hulle hulle sin kry. JA aanvanklik is dit so, die myne staan groot verhogings en toelaes toe (soos deur die betogers en unies op aangedring word) en omdat ons almal weet dit is nie volhoubaar nie, word daar binne ‘n paar maande met afleggings begin.. Ongelukkig het stakers nog nie daardie twee in verband gebring met mekaar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.