AfriForum, Barolong Boo Seleka sluit ooreenkoms

Van links: Barend Uys, Kallie Kriel, Flip Buys, Kgosi Gaboilelwe Moroka, Kgosana Maleho Goronyane en Kgosana Mapogo Moroka. (Foto: Verskaf)

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die Barolong Boo Seleka- tradisionele gemeenskap van Thaba ’Nchu in die Vrystaat, het Vrydag ’n wedersydse erkenning- en samewerkingsverdrag geteken.

Dié ooreenkoms het ten doel om ’n blywende verhouding te vestig en te handhaaf met die oog daarop om ewigdurende vrede en vriendskap tussen die Barolong Boo Seleka- en die Afrikaner-kultuurgemeenskap te verseker.

Die ooreenkoms sal ook die gemeenskappe se ekonomiese, maatskaplike en kulturele ontwikkeling bevorder deur middel van onder meer samewerking op die gebied van landbou-ontwikkeling, die bevordering van gemeenskapsveiligheid, gemeenskapselfstandigheid, selfbestuur en moedertaalonderrig sowel as die beskerming van eiendomsreg.

AfriForum het Vrydag gesê die formalisering van betrekkinge tussen hom en die Barolong Boo Seleka volg nadat betrekkinge tussen dié twee kultuurgemeenskappe oor die afgelope twee en ’n half jaar herstel is. Dít deur middel van AfriForum se steun aan die koninklike familie in hul regstryd om herstel en erkenning en die vestiging van ’n gesamentlike landbou-ontwikkelingsloodsprojek.

“Ons voorouers Kgosi Moroka II en Kgosi Tshipinare Moroka het die voorbeeld gestel deur goeie verhoudinge met ander kultuurgemeenskappe te vestig en regering deurlopend te verbeter. Dit is vir ons ’n eer om in hul voetspore te volg en hul nagedagtenis te eer deur die goeie verhoudinge met die Afrikaner-kultuurgemeenskap te laat herleef met die ondertekening van dié verdrag,” sê Kgosi Gabo Moroka van die Barolong Boo Seleka nou.

“Ons moet ons kultuurgemeenskap lei in ’n hervormingsproses wat ’n voorspoedige toekoms en die bewaring van ons kulturele identiteit sal verseker – vennootskappe en samewerking het ’n sleutelrol om te speel om dié visie te verwesenlik.”

Flip Buys en Kgosi Gaboilelwe Moroka. (Foto: Verskaf)

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Vrydag gesê dié organisasie is besig om ’n netwerk van kultuurgemeenskappe te bou wat in wedersydse erkenning en respek met mekaar saamwerk om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir die kinders van kultuurgemeenskappe te verseker.

“Suid-Afrika as sentralistiese bestel is op vele terreine ’n mislukking – die enigste oplossing lê in gemeenskapsfederalisme… Dit is vir ons ’n voorreg om met Kgosi Gabo Moroka en die Barolong Boo Seleka-kultuurgemeenskap saam te werk.”

Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, het op sy beurt gesê die huidige generasie is die skakel tussen die geslagte wat hulle voorafgegaan het en die geslagte wat ná hulle sal kom.

“Elke geslag het hul eie taak en moet hul eie keuses maak. Dit is ’n voorreg om deel van ’n geslag te wees wat kies om te leer uit die ervaring van ons voorouers, wat kies om te bou op beproefde waardes en ’n toekoms te skep waar kultuurgemeenskappe in vreedsame naasbestaan leef en saamwerk waar ons belange deel. Ons streef daarna om die lede van ons kultuurgemeenskappe te begeester met hoop vir die toekoms sodat hulle kan kies om hul roeping uit te leef en vry te lewe aan die suidpunt van Afrika.”

‘Nuwe ooreenkoms’

Goeie betrekkinge tussen die Afrikaner- en Barolong Boo Seleka-kultuurgemeenskappe het in die 1830’s begin en is deur die 19de eeu gehandhaaf. ’n Kantelpunt in die verhouding was toe Kgosi Moroka II die Voortrekkers te hulp gesnel het ná die Slag van Vegkop in 1836, deur broodnodige trekosse na hulle te stuur. Die Voortrekkers het in groot nood verkeer en was op die slagveld gestrand nadat al hul vee weggevoer is. Daar was ook goeie verhoudinge en samewerking tussen die Barolong Boo Seleka-koninkryk en die Republiek van die Oranje-Vrystaat tydens die onstuimige tweede helfte van die 1800’s.

AfriForum en die Barolong Boo Seleka- tradisionele gemeenskap sê die nuwe ooreenkoms is gebaseer op wedersydse erkenning en respek, vreedsame naasbestaan, aanvaarding van mekaar se identiteit, permanentheid en bestaan as outonome kultuurgemeenskappe.

Dit is ook gebaseer op respek vir die diversiteit van regeringsinstellings, gewoontes en gebruike, insluitend dié wat op grondgebruik en grondeienaarskap betrekking het en vryheid van godsdiens en godsdienstige en kulturele gebruike.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Althes ·

Well done!!! Dis goed dat gemeenskappe na mekaar uitreik, dan word daar beter verhoudings gebou. Ek glo ook dat verdraagsaamheid en versoening van kardinale belang is.
Geen man of gemeenskap is ñ eiland nie.

KatjieDeKat ·

Goed om sulke positiewe nuus te sien! Alle voorspoed vir die toekoms.

Hendrik ·

Ek is positef hier oor. Die Afrikaner in isolasie is nie instaat om oorwnning in hierdie veelvolkige eenpartystelsel te behaal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.