AfriForum begin ʼn landwye #Skoonwater-projek

afriforum-skoonwaterprojek-2018-marcus-pawson

Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, neem ‘n watermonster by die Baviaanspoort-afvalwaterbehandelingsaanleg vir die #Skoonwater-projek. Foto: Verskaf.

AfriForum het Maandag dié burgerregte-organisasie se #Skoonwater-projek vir 2018 by die Baviaanspoort-afvalwaterbehandelingsaanleg noordoos van Pretoria afgeskop.

Die gehalte van drink- en rioolwater sal nou binne die volgende paar maande in dorpe getoets word waar AfriForum aktiewe takke het.

“Die regering is nie ernstig oor die gesondheid van Suid-Afrikaners nie. Dit is duidelik te bespeur uit die feit dat die departement van water en sanitasie (DWS) bankrot is en ’n parlementêre ondersoek weens voormalige min. Nomvula Mokonyane se wanbestuur hom in die gesig staar.

“Onder haar leiding is die laaste amptelike Blou-en-Groendruppelverslag ses jaar gelede geplaas. Die ANC-regering probeer sy onbevoegdheid wegsteek deur inligting van die publiek en selfs die parlement te weerhou, terwyl gewone mense daagliks onder dié waterkrisis gebuk gaan. Ons kan nie langer op die staat vertrou om veilige water te verskaf nie, en daarom toets ons watergehalte self,” het Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, gesê.

Die burgerregte-waghond het met sy eie blou-en-groendruppelprojek in 2017 verseker dat bykans 10 miljoen mense se drinkwatergehalte volgens standaard is deur 156 dorpe se water te toets.

“AfriForum sal verseker dat enige besoedeling so gou moontlik opgelos word deur ’n aanmaning aan die betrokke munisipaliteit te stuur wat eis dat die probleem binne 48 uur reggestel word,” het Pawson gesê.

Verder sal AfriForum ’n amptelike skrywe aan Gugile Nkwinti, nuwe minister van water en sanitasie, stuur. In die skrywe sal AfriForum eis dat:

  • die DWS weer jaarliks die amptelike Blou-en-Groendruppelverslag sal publiseer om die land se watergehalte en die bestuur daarvan te belig;
  • daar in 2018/2019 vir die herstel van alle afvalwaterbehandelingsaanlegte begroot sal word;
  • ’n program van stapel gestuur word om waterbesoedelaars aanspreeklik te hou. AfriForum meen die regering is die grootste besoedelaar: 4 200 megaliter riool wat nie aan toepaslike gesondheidstandaarde voldoen nie word daagliks in riviere en damme gestort;
  • daar in 2018/2019 vir die herstel van waterinfrastruktuur in die DWS se oorlog-teen-waterlekkasies-projek begroot word. AfriForum het gesê munisipaliteite verloor meer as 40% van hul drinkwater weens lekkende waterpype;
  • Suid-Afrikaners onmiddellik aangestel word wat bevoeg is om die land se waterstelsels te bestuur;
  • die huidige organogram en struktuur van die DWS hersien word om oortollige poste uit te wys en te skrap, en leë poste te vul;
  • daar ontslae geraak word van onbevoegde amptenare en dié wat ’n geskiedenis van korrupte verhoudings het; en
  • alle afgehandelde ondersoeke van die DWS deur die Spesiale Ondersoekeenheid en onafhanklike konsultasiefirmas bekend gemaak word om deursigtige prosesse te verseker.

“As die bewaarder van water kom die DWS nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige party is nie. AfriForum is van mening dat ’n onafhanklike waterreguleerder steeds ’n betekenisvolle rol in Suid-Afrika kan speel om watergehalte, -voorsiening en -bestuur te verbeter.

“Indien Suid-Afrika ’n onafhanklike waterreguleerder het wat nie vir politieke inmenging vatbaar is nie en water- en dienstewetgewing kan afdwing, sou ons minder lekkasies, openbare klagtes en protes, skoner riviere en damme, gesonder gemeenskappe, ’n groeiende ekonomie en meer water gehad het,” het Pawson bygevoeg.

  • Is jou water skoon? SMS die naam van jou dorp na 45354 en gee AfriForum die mandaat om die gehalte van jou dorp se water te toets. Elke SMS kos R1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

t ·

Kom toets Parys se water. Hulle pomp die rou rivierwater netso in die stelsel in. As jy ‘n wasbak vol tap lê daar binne ‘n minuut ‘n laag sediment onder in die bak. Ons is al te bang om daarmee te stort, jy is vuiler as jy uitkom.

Elizabeth ·

Dankie Afri-Forum!! Ons is trots op julle. Opposisiepartye doen niks as politiek bedryf. Julle is ons enigste doeltreffende opposisie teen ‘n terminaal siek regering.

Cornelia ·

Ek voeg my dankie by. Dankie AfriForum dat u altyd skouer aan die wiel sit en met daadkrag bewys dat die wiel net kan draai, waar die wil leef om vorentoe te beur met ‘n gewete wat koersvas die pas aangee en volhard in die geloof van ywer tot seën vir almal. Dankie.

Pierre ·

Het julle al gekontak maar niemand by julle lyk of julle werklik kan help nie. Ek werk by `n skool met omtrent 1000 leerlinge in Mpumalanga. Daar loop bloed en riool amper daagliks in ons skooldam in, en niemand kan help om dit op te los nie. Dit hou groot gevare vir die leerlinge in. Ons het al amper almal wat iets kan doen gekontak maar nogsteeds niks. KAN JULLE ASB HELP of kontak nommer gee vir iemand wat kan help met die saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.