AfriForum begin regsaksie teen Unisa oor afskaffing van Afrikaans

Unisa-kampus Foto: Izelle Jacobs / Unisa

Unisa-kampus Foto: Izelle Jacobs / Unisa

Die raad van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) het in April 2016 besluit dat die universiteit se enigste taal van onderrig voortaan Engels sal wees. Dié besluit het geskied in weerwil van ernstige skriftelike besware van Unisa se Forum vir Afrikaans. AfriForum staan dié forum by in ʼn regsproses teen Unisa om die ongrondwetlike besluit te stuit en die regte van Afrikaanssprekende studente te beskerm.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalregte, is die proses wat Unisa gevolg het nie net ongrondwetlik nie, maar ook administratief onregverdig, aangesien geen poging aangewend is om Afrikaanssprekende studente wat direk deur die besluit geraak word daaroor te raadpleeg nie. Tussen 20 000 en 30 000 studente wat tans deur Unisa studeer, is Afrikaanssprekend.

In ʼn prokureursbrief wat pas aan die raadsvoorsitter en senior bestuur van Unisa besorg is, word hulle gevra om voor of op 6 Julie 2016 ʼn ondubbelsinnige onderneming aan die twee partye se regsverteenwoordigers te gee dat die implementering van die nuwe taalbeleid voorlopig opgeskort word, hangende die finalisering van ʼn hersieningsaansoek om dit ter syde te stel. Dringendheid word veroorsaak deurdat studente nou reeds vir 2017 beplan en sekerheid oor Unisa se onderrigtaal moet hê. By gebrek aan reaksie op die skrywe sal AfriForum met ʼn dringende hofaansoek voortgaan, tesame met die genoemde hersieningsaansoek.

Bailey beklemtoon die belangrikheid van Afrikaans as onderrigmedium aan Unisa weens die unieke aard van die instelling en studentekorps. Studente is dikwels al werkende volwassenes wat met groot opoffering hulself beter wil kwalifiseer. Van hulle is woonagtig in gemeenskappe waar Engelse taalvaardigheid ontbreek. Dáár moet hulle plaaslike gemeenskappe in Afrikaans bedien en dus kies hulle Afrikaanse onderrig. Ander is tydelik buite Suid-Afrika, maar het steeds behoefte aan studie in hulle moedertaal Afrikaans weens hul verbintenis met hul vaderland Suid-Afrika. Die Grondwet erken studente se reg tot studie in die taal van hulle keuse waar dit prakties uitvoerbaar is. Die feit dat Afrikaans tans ʼn medium van onderrig aan Unisa is, bewys die uitvoerbaarheid daarvan.

“Met die eensydige en ondeursigtige besluit om Afrikaans af te skaf, het die raad en bestuur ʼn besonder weerlose studentegemeenskap in die steek gelaat en AfriForum sal alles in die stryd werp om wel die studente se reg tot onderrig in Afrikaans te beskerm,” sê Bailey.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Dot van Dot ·

Maak nie eintlik saak in watter taal hulle voortgaan nie. Daar gaan niks by hulle aan nie.My bediende se dogter probeer deur Unisa studeer, reeds alles gedoen EN BETAAL, het verlede week vir die 2de keer gehoor dat hulle vergeet het om haar te registreer….. Ons is al in Junie….

Tim ·

Ek ken twee mense persoonlik wie se aansoeke ‘weg geraak’ het.

Charms ·

Dot van Dot can i give advice make use of the Ombudsman of Unisa i had the same last year with my daughter, I logged a complaint and it was resolve in a week.

Victor ·

UNISA se registrasie proses is problematies – maar hulle het 400 000 + studente wat dit ietwat moeiliker maak as ander universiteite se registrasie. Kontak die ombudsman, hulle sal jou help.

Kleintjie ·

Mooi so AfriForum. Ek is trots om lid van julle te wees.

Janneman ·

En hul rede vir die afskaffing van Afrikaans? Geld rasverteenwoordiging ook nou by afstandsonderrig? Ek verneem in elk geval van mense met ondervinding dat UNISA tot in die grond in getransformeer is. Word hulle grade nog erken?
Akademia, hier is nog n mark wat ryp is vir julle om mettertyd te pluk!

Victor ·

UNISA se grade word erken, presies dieselfde as grade van Tukkies of ander universiteite
Hulle moet nog steeds aan nasionale standaarde voldoen soos voorgeskryf deur SAQA / NQF
Ander universiteite, soos bv. Tukkies, sal optree as eksterne eksaminators op UNISA eksamens.

ada ·

Dankie Afri ek is ook trots op julle en is lid van SolidariteitHH.

Alida ·

Mooi so dinges hulle op wat se bollie is dit. Dit is ons geld wat al die universiteite oop hou. Vat dit weg en kyk wat gebeur!

Poplap ·

Ek het die jaar by Unisa begin swot en amper al my vakke was net in Engels beskikbaar. Die een vak wat daar wel Afrikaanse not as en boeke beskikbaar in was was ‘n nagmeries dit was directed vertalings uit Engels en het nie regtig vir my son gemaak in Engels nie. Ek was nie te phased oor die Engels nie maar was onsteld oor die kwaliteit vd Afrikaanse inligting dit het gevoel asof hulle dit maar afheskeep het. Maar miskien net hoe ek gevoel het omdat vak so vrek vervelig was

Apie ·

#UNISA MUST FALL!!! Kom Agrikaanssprekendes, laat ons hulle wys!

JC ·

Afriforum, ek sweer julle is die “awesomste” organisasie in die wereld!! Vat hulle vas!

Diana ·

Hokaai……..laat ek net eers my Meesters klaar maak asb. ……….

Frederik ·

Kon die hofkoste nie maar eerder by die boukoste gevoeg word om Akademia vinniger uit te brei nie. Unisa is mos eintlik Akademia se teenstander, so los hul uit dat hul die studente wat in Afrikaans wou studeer, verloor. Indien Akademia die regte kursusse aanbied, kan hul net wen. Ek is in besigheid en gaan beslis nie my opposisie hof toe sleep as hy my besigheid bevorder nie.

Student ·

Ek is n UNISA student. 50% van my vakke doen ek in Afrikaans. Aanlyn registrasie is vinnig, effektief en sonder probleme. Administrasie is die enigste probleem wat ek ervaar. Wag vir ewig op punte vir asseseringstake en eksamens.

Victor ·

Ja, ek het self ‘n volgende graad deur hulle gedoen. Die kwaliteit, veral aan die wetenskap kant, is baie hoog. Die administasie kan defnitief verbeter word.

Hasie ·

Ek was nog altyd onder die indruk dat daar geleerde mense by Unisa werk.

Patrys ·

My seun het ‘n graad in die regsfakulteit gedoen wat hy nou met die Junie-eksamen voltooi het. Hy kon net sommige van sy regsvakke in Afrikaans neem. Sy hoofvakke, regskriminologie, was alles in Engels. Die professore wat aan die hoof vd meeste fakulteite staan, is Afrikaans maar die personeel wat die vak behartig vir n sekere jaargroep is Engels. So dan word die vak net in Engels aangebied. Dis al ‘n hele klompie jare wat Afrikaans die stiefkind by UNISA is.

christine ·

Wie neem die besluite in die landwie wil ons taal vernietig. Volgens die boek van siener is dit die Engelse en die Indiers. Met Brexit uit die EU het die Engelse dan nog n se.

Nico ·

Kyk gerus na ” ‘n Middag saam Emily Hobhouse” op YouTube

Johann Marx ·

En die minderheid (Afrikaanssprekendes) van ‘n minderheid (blankes) skop en skree oor “hulle taal” wat verwaarloos word? Wat is die kans dat iemand daarna gaan luister? Tyd om ons eie “afstand-onderrig” instansie te bou…en SELF te bestuur. Laat die mense wat sulke voorstanders is van Engels, terwyl hulle self nie eintlik Engels kan praat nie, die hele plek vir hulleself kry….en elkeen met ‘n Unisa-graad by die verkeersligte staan en bedel, en wonder wat gebeur het.

Daleen ·

Mooi afriforum. As ons nie ons taal oppas nie,sal dit gaan soos met die khoisan-taal. Dit gaan tot niet.

JC ·

DWING AF ONS GRONDWETLIKE REGTE, ANDERS IS HIERDIE “DEMOKRASIE” NIKS WERD NIE. EK VERSTAAN OOK NIE HOE DIE VERKRAMPING VAN GW REGTE ‘N VOORVEREISTE IS VIR TRANSFORMASIE NIE! BELAGLIK! EK HET NIE ‘N PROBLEEM MET “TRANSFORMASIE” NIE , MAAR BESLIS NIE OP DIE WYSE WAAROP HUL NOU WIL TE WERK GAAN NIE!

Nou net n "degree mill" ·

Unisa se standaarde is nou so laag, spaar liewer daardie geld en swot deur oorsese of plaaslike afstandsonderrig of online platforms tee baie goedkoper. Akademia moet ook n afstandsonderrig opsie instel.

Victor ·

Hoe is UNISA se standaarde laer as ‘n ander universiteit? Ek praat nie van toelating tot die graad nie – ek praat van die moeilikheidsgraad van die eksamens.

Verder, watter ander afstandsonderrig universiteit gee ‘n NQF vlak 7 graad wat erken word deur SAQA, en goedkoper as UNISA is?

Monkey puzzle ·

Jy kan lekker wegkom met monkey puzzles, sommige van hul vakke is n groot grap. Daars derduisende online leer opsies van werklik goeie universiteite. Google dit, dit vat tyd om dit te soek wel. Unisa is nie meer goedkoop nie.

Victor ·

Ek hoef niks te google nie want ek het nie die stelling gemaak daar is goedkoper opsies as UNISA vir distance learning nie in Suid Afrika nie.

Ek kan jou belowe in die wetenskapsfakulteit werk jy hard vir jou punte. Ek het nie kennis van grade in die BA stroom nie.

Monkey puzzle ·

Eks bly dat die wetenskap fakulteit nog staan. Ek weet dit is n b.com ding en glo dis n BA stroom ding ook by unisa na wat ek al gehoor het…en nog n bewys….Malema het sy graad daar gekry, en as mens besef dat hy glo kommunisme en sy ander idees werk dan besef mens hoe laag hul standaarde is dat hy dit gemaak het.

Cobus ·

Dit is ‘n riem onder die hart om Afriforum en Solidariteit as onderstenings basis te he. Sterkte met al julle goeie werk

hans ·

Deur ‘transformasie’ aksie word persone,afkomstig van RSA en buiteland by alle universiteite, aangestel, wat slegs Engels magtig is. Deur voormelde optrede word Afrikaans sprekende dosente (wat in baie gevalle Frans/Duits/ ens magtig is) verminder en word Afrikaan sprekende student benadeel.

Werkgewer ·

Ons kan duidelik aan onlangs afgestudeerde unisa afgestudeerdes sien dat unisa transformasie ver gevat het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.