AfriForum begin veldtog teen onteieningswetsontwerp

Ernst Roets, die adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Twitter.com

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Dinsdag ʼn aanlynveldtog van stapel gestuur waarin die publiek betrek word om standpunt teen die konsepwetsontwerp op onteiening in te neem.

Dit volg nadat Thulas Nxesi, minister van openbare werke, op 21 Desember dié konsepwetsontwerp in die Staatskoerant gepubliseer het en die publiek gevra het om binne 60 dae daarop kommentaar te lewer.

Maroela Media het vroeër berig oor die twee parallelle prosesse wat tans aan die gang is om grondonteiening sonder vergoeding in te stel.

Buiten die ANC se beoogde wysiging van artikel 25 van die Grondwet het die departement ook ʼn hersiene wysigingswetsontwerp gepubliseer wat die omstandighede uiteensit waaronder die staat grond sonder vergoeding kan onteien.

Volgens die nuwe wetsontwerp is dit onder meer regverdigbaar vir die regering om grond sonder vergoeding te onteien as dit in die openbare belang gedoen word.

Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê daar is talle wesenlike gebreke in die konsepwetsontwerp.

“Dit is waarom dit noodsaaklik is dat die publiek by die stryd betrokke raak om eiendomsreg te beskerm.”

In sy voorlegging het AfriForum dit gestel daar moet op twee vlakke kommentaar gelewer word.

“Daar is ʼn reeks gebreke in die fyn besonderhede van die konsepwetsontwerp wat ons in ons voorlegging uitwys. Een voorbeeld is die vae definisie van ‘openbare belang’ wat dit vir die ANC moontlik maak om sy eie politieke agenda as van openbare belang te beskou.

“Ons moet egter nie in die besonderhede van die konsepwetsontwerp verstrengel raak nie aangesien die grootste probleme nie in die detail gesetel is nie, maar in die regerende party se breë ideologiese vertrekpunte, rassistiese agenda en die verkondiging van ʼn verwronge beeld van Suid-Afrika se geskiedenis en van gesonde ekonomiese beginsels,” meen Roets.

Hy het bygevoeg dat een van die punte wat AfriForum in sy kommentaar op die nuwe onteieningswetsontwerp maak is dat hierdie hele proses voortydig is.

“Die proses rondom die verandering van artikel 25 van die Grondwet om grondonteiening sonder vergoeding (OSV) toe te laat, is nog nie afgehandel nie. Een van die grootste punte van dispuut in dié proses is juis hoe die publiek se insette daarop hanteer is.”

Roets glo egter dit sal ʼn fout wees as AfriForum nie die publiek in die tussentyd deur so ʼn veldtog aanmoedig om kommentaar op die nuwe wetsontwerp binne die voorgeskrewe tydperk te lewer nie.

“AfriForum is gekant teen die groter prentjie – die ANC en die regering se planne om onteiening sonder vergoeding deur te voer – en moet daarteen standpunt inneem. Die feit dat sekere kommentaar teen OSV geïgnoreer is, is net deel van hierdie groter probleem.”

Van die groter kwessies wat AfriForum oor die wetsontwerp uitgelig het, sluit in:

  1. Die konsepwetsontwerp moet gesien word binne die konteks van die ANC se nasionale demokratiese rewolusie, ingevolge waarvan die ANC in sy eie beleidsdokumente verklaar dat hy beoog om soveel mag as moontlik in die staat te setel. Dit is noemenswaardig dat die konsepwetsontwerp byvoorbeeld nie voorsiening daarvoor maak dat eiendom wat deur die staat onteien word, weer in private besit geplaas word nie.
  2. Die vernietigende ekonomiese beleid wat met die konsepwetsontwerp voorgestaan word. Die konsepwetsontwerp maak dit vir die staat moontlik om op ingrypende wyse te peuter met die basiese beginsels wat as voorvereiste vir ekonomiese vooruitgang dien.
  3. Die heldeverering wat die regerende party het vir diktators wat hul onderskeie ekonomieë deur middel van die onteiening van private eiendom vernietig het. Die ANC volstaan steeds by die stelling dat diktators soos Hugo Chavez en Robert Mugabe as helde beskou moet word, juis vanweë hul rewolusionêre optrede. Die redelike vraag wat steeds nie beantwoord word nie, is watter aansporing daar vir die regerende party bestaan om nie die vernietigende gedrag van sy helde na te boots nie as hulle juis as gevolg van daardie vernietigende gedrag as helde beskou word.
  4. Die regering se baanrekord as dit by korrupsie en wanadministrasie kom lei ’n redelike persoon tot die gevolgtrekking dat die regering nie vertrou kan word om ’n plofbare kwessie soos onteiening verantwoordelik te bestuur nie.
  5. Uit die politieke debatte ter motivering van hierdie konsepwetsontwerp is dit duidelik dat die regerende party en sy alliansievennote ’n kru rassistiese motief huldig. Pres. Cyril Ramaphosa het gesê dat die grond vir “ons mense” gegee moet word en gebruik daardie term om spesifiek na swart mense te verwys. Adj.pres. David Mabuza het gedreig met ’n gewelddadige oorname as wit mense nie uit vrye wil hul eiendom aan swart mense oorhandig nie, en Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê dat geen swart persoon se eiendom vir onteiening geteiken sal word nie.
  6. Die konsepwetsontwerp word gemotiveer deur ’n verwronge beeld van Suid-Afrika se geskiedenis. Dit is waar dat onteiening plaasgevind het – nie net met swart mense nie, maar ook met wit mense. Wat nie gesê word nie, is dat mense in baie van hierdie gevalle reeds vergoed is (wat die noodsaak van onteiening sonder vergoeding neutraliseer) en ook dat hierdie onteienings op spesifieke plekke plaasgevind het en slegs spesifieke mense daardeur geraak is. Hierdie plekke en mense kan maklik geïdentifiseer word. Die konsepwetsontwerp word egter gemotiveer deur die verwronge beeld dat alle swart mense deur alle wit mense, reg oor die oppervlak van Suid-Afrika onteien is.
  7. Die konsepwetsontwerp laat baie ruimte vir dubbelsinnige vertolkings van die teks en bevat ook verskeie skuiwergate wat deur korrupte staatsamptenare uitgebuit kan word. Die feit dat die Mothlanthe-kommissie bevind het dat korrupsie een van die grootste struikelblokke met betrekking tot grondhervorming is, word geheel en al deur die opstellers van die wet geïgnoreer.
  8. Die konsepwetsontwerp is voortydig, aangesien daar steeds ’n proses is waarvolgens die publiek insette oor onteiening sonder vergoeding kan lewer. Hoewel die openbaredeelnameproses grootliks afgehandel is, is daar steeds ’n dispuut oor die wyse waarop die publiek se insette verwerk is.
  9. Dit is duidelik dat die opstellers van die konsepwetsontwerp geen ag geslaan het op die meningspeilings deur verskeie navorsingsinstellings wat telkens bevind het dat die oorgrote meerderheid van die publiek nie ten gunste van onteiening sonder vergoeding is nie en dit ook nie as een van die mees brandende kwessies in Suid-Afrika beskou nie. Die fokus moet eerder op werkskepping en die verligting van armoede wees. Ironies genoeg kan dit slegs bereik word deur die teenoorgestelde te doen as waarmee die regering tans besig is – eiendomsreg moet beskerm en die mark gedereguleer word.
  10. Die regerende party se voortgesette dryf om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, sal die posisionering en beeld van die regerende party wêreldwyd van bevryder tot onderdrukker verander.

Roets het gesê hierdie redes, asook kommentaar op die besonderhede van die konsepwetsontwerp, is reeds by die kantoor van die direkteur-generaal van openbare werke ingedien.

“AfriForum moedig die publiek egter aan om die veldtog teen onteiening te ondersteun deur hul stem by die veldtog te voeg.”

Dit kan gedoen word deur die webblad www.onteiening.co.za te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Louis ·

Ek en hopelik ‘n menigte ander steun julle hierin. Stel voor dat julle nou saamwerk met Frans Cronje en Anthea Jeffries van die IRR wat uitstekende werk doen om gevare van OSV en die ANC se ideologiese doelwitte bloot te le. Hierdie is ‘n komende ramp wat verwoesting in Zimbabwe, Venezuela en ander lande tot gevolg het en nie in draadsitters se hande gelaat kan word nie.

Zirk ·

Ek is baie dankbaar vir Afriforum se insette en doen wat ek kán om die boodskap uit te dra.
Ek beweeg en luister na die swartmense. Maar die oormag van denke in die hoër, middelklas en laer inkomste groepe is vir onteiening. Die ooglopende vernieteging van die land fugureer nie in hul denke nie. Dit is bysaak. Maar wat wel saakmaak, is om die land se ekonomie heeltemal uit die hande van die blanke te ruk.! Dan weet hulle, het hulle die land finaal by die blanke afgeneem. Dan is hulle uiteindelik vry.

Oujongvrou ·

As hierdie regering nie n algehele oorlog op hande wil he nie sal hulle nie na enige rede, hofuitspraak of internationale inmenging luister nie. Die grond is aan hulle belowe en dis wat hulle gaan kry. Zim het nie kos nie en ook nie geld nie en ook nie wittes nie, maar hulle het grond. En daarmee is hulle tevrede.

Anoniem ·

Oujongvrou – tevrede vir die oomblik maar KWAAD BAIE KWAAD want grond koop nie ‘n brood nie ! President Ramaphosa wil die wiel oor ontwerp, bitter tye lê VOOR ?

FM ·

Dankie Afriforum. Kom ons hou aan om aan te hou. Aanhouer wen.

Snowflake ·

Wag in spanning op my goeie vriend Jerry se kommetaar…

Ig ·

Wat nie uit die oog verloor moet word nie is die implikasie wat die voorgestelde wetsontwerp vir ander bates inhou bv. beleggings, pensioenfondse en openbare bates onder privaatbestuur. Hierin lê ook ‘n groot gevaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.