AfriForum: ‘Beoordeel ons eerder op dít wat ons doen’

AfriForum-VSA-01

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum tydens hulle veldtog in die VSA. Foto: Ernst Roets/Twitter.

Maroela Media het met Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum, en sy adjunk, Ernst Roets, gesels oor die steunwerwingsveldtog na die VSA, die omstrede uitlatings en die kritiek.

** Maroela Media gaan oor die volgende paar weke poog om kommentaar oor van die kwessies soos apartheid en plaasmoorde te kry van rolspelers en meningsvormers reg oor die politieke spektrum.

Die doel van die toer

Volgens Kriel het AfriForum twee ernstige brandpunte in Suid-Afrika geïdentifiseer: die bedreiging van eiendomsreg en plaasmoorde.

“Mense sê ons raak onnodig skrikkerig oor eiendomsreg, maar die feit is die ANC het tydens sy leierskapkonferensie grondonteiening sonder vergoeding as ʼn beleid aanvaar. Pres. Cyril Ramaphosa het ook op openbare platforms gesê die ANC wil grond sonder vergoeding onteien ‘and we are going to give it to our people’.

“As die president dit sê en die ANC, wat die regerende party is, het die besluit geneem, is dit ‘n ernstige bedreiging vir eiendomsreg veral as ‘n mens kyk wat die gevolge daarvan is. ʼn Mens kan sien wat in Venezuela, Kuba en Zimbabwe gebeur het. Die miskenning van eiendomsreg vernietig ‘n land in sy geheel.”

AfriForum het Zimbabwiese boere wat hulle plase destyds in die land se gewelddadige onteieningsproses verloor het bygestaan om vergoeding te kry. “Die boere het vir ons gesê hulle het gedink toe oudpres. Robert Mugabe sy uitlatings oor grond begin maak, hulle moet stilbly want dit is tog net ‘n poging om stemme te werf.”

“Ons het besluit om eerder nou te mobiliseer teen die ANC se beleidsrigting en op te tree in die belang van almal in hierdie land.”

Kriel sê die ander belangrike brandpunt is plaasmoorde en AfriForum beskou dit as ʼn ernstige kwessie omdat slagoffers van die misdaad ook dikwels gemartel word.

Hy meen AfriForum het die volste reg om as ʼn burgerregte-organisasie steun vir die twee spesifieke sake te werf, selfs tot in die buiteland. “Niemand vra vir Kansa hoekom beywer die organisasie homself nie ook vir Vigslyers nie, of maak aanspraak daarop dat ʼn teen-renosterstropingsorganisasie nie omgee vir olifante en leeus nie maar dit is die soort argumente wat teen AfriForum gemaak word.”

AfriForum sê hy kan ook nie bekostig om net plaaslik oor die kwessies te praat nie. “Ons moet lees en glo wat die ANC in hulle beleidsdokumente skryf. Die ANC is tans besig om saam met die EFF op ʼn glybaan van verwoesting na links te gly en hulle sal slegs terugstaan as daar ʼn sterk teenwig is – iets wat AfriForum wil bied.

“Ons neem deel aan plaaslike gesprekke maar ons kry ook internasionale druk om ons ‘n hefboom te gee sodat ons ernstig opgeneem kan word in die gesprekke.”

AfriForum beplan ‘n soortgelyke veldtog na Europa en nog ‘n toer word ook binnekort na Australië beplan.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof AfriForum (Foto: Reint Dykema)

Die debat oor statistiek rakende plaasaanvalle en -moorde

Prof. Elmien du Plessis, verbonde aan die Noordwes-Universiteit se regsfakulteit, het AfriForum tydens hulle toer in die VSA gekap oor die syfers wat hulle oor plaasmoorde aanbied.

“Dit het ongelukkig nou in ‘n akademiese debat ontaard. Ek het in my boek Kill the Boer ‘n hoofstuk afgestaan aan die syfers van plaasmoorde en terugskouende kon ek seker twee keer meer daaroor geskryf het,” sê Roets.

“Die syfers is moeilik. AfriForum is doelbewus baie konserwatief as ons oor die syfers praat en gebruik slegs minimum syfers. Die syfers wat ek in ons gesprekke in Amerika en op Fox News gebruik het, is die regering se syfers.”

Roets verduidelik dat alhoewel daar nie jaarliks syfers oor plaasaanvalle bekendgemaak word nie, het die regering sedert die afskaffing van die bekendmaking van plaasmoordsyfers in drie gevalle syfers oor plaasaanvalle verskaf.

AfriForum gebruik die syfers wat in ‘n antwoord-en-vraag sessie in Oktober 2017 in die parlement verskaf is.

“Volgens die somme wat ons hieroor gemaak het werk dit uit op twee aanvalle (1,8) per dag en twee plaasmoorde per week oor 18 jaar. Dit is die konserwatiewe syfer wat ons gebruik.”

Hy sê daar is goeie redes om die per 100 000 syfer van plaasmoorde te bevraagteken, maar in hierdie stadium is daar nie ‘n beter som nie.

“AfriForum is besig om te kyk hoe ‘n mens hierdie syfer beter kan bereken. Ek dink die lang antwoord oor plaasmoordstatistiek is dit is baie ingewikkeld, en die kort antwoord is die syfer van plaasmoorde in Suid-Afrika is waarskynlik heelwat hoër as wat ons dink.”

Diskriminasie om net op plaasmoorde te fokus

Roets sê verder AfriForum wil hê plaasmoorde moet as ‘n prioriteitsmisdaad verklaar word sodat daar ‘n spesiale teen-strategie teen dié misdaad opgestel word.

“Dit bestaan vir renosterstropery, koperkabeldiefstal, bendegeweld, geweld teen vroue en kinders en transitorooftogte. Tog as ons dieselfde vra vir plaasmoorde dan word daar gesê ons moet nie hierdie soort misdaad uitsonder nie. Vir elke unieke misdaad is daar ‘n unieke teenstrategie, en AfriForum vra net dieselfde behandeling vir plaasmoorde.”

’n Direkte aanval teen akademici?

Nog ‘n omstredenheid het gespruit uit die video wat Roets in reaksie op Du Plessis se reeks twiets oor AfriForum se statistiek gemaak het. Talle kritici het aangevoer Roets het Du Plessis en akademici gedreig wat krities teenoor AfriForum en hulle standpunt en statistiek oor plaasmoorde staan.

“Ek het onmiddellik na die aanhaling die konteks verduidelik en gesê hierdie is nie letterlik bedoel nie. Ek het punt-vir-punt daarop geantwoord en die slotsom was dat ons nie toelaat dat ons veldtog afhanklik word van die goedkeuring van sogenaamde progressiewe of linkse akademici nie.

“Daar is ook ‘n bepaalde historiese rede hiervoor want van die grootste gruweldade in die wêreld het gebeur terwyl akademici die probleem ontken het.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Rozier van Tonder

Apartheid en wat AfriForum daaroor sê

“Apartheid, hoe goed dit ook al bedoel is deur die mense wat dit destyds gesien het as ʼn strategie vir Afrikaners om te oorleef, het uiteindelik gelei tot die skending van mense se waardigheid en dit het ontaard in ʼn noodtoestand wat uiteindelik met geweld van buite die ANC en die destydse regering in stand gehou moes word. Ons probeer dit nie regverdig nie, dit was tragies en ons veroordeel die skending van mense se waardigheid waar ook al dit plaasgevind het.”

Kriel sê AfriForum is teen die huidige diskoers wat sê die geskiedenis is eintlik eenvoudig en dat die bose Afrikaners wat misdade teen die mensdom gepleeg het aan die eenkant staan en niks goeds gedoen het nie. Terwyl aan die anderkant het jy ‘n vlekkelose ANC wat die bevrydingsbeweging bevorder het.

Die Verenigde Nasies het apartheid in 1973 as ‘n misdaad teen die mensdom verklaar. “Daardie besluit is geneem teen die agtergrond van die Koue Oorlog waar jy die Westerse blok aan die eenkant gehad het en die kommunistiese blok aan die anderkant. Suid-Afrika was in daardie stadium gesien aan die kant van die Westerse blok en die kommunistiese blok wou druk plaas op die Weste deur apartheid tot ‘n misdaad teen die mensdom te verklaar.

“Die kommunistiese blok se mosie was skynheilig en is gemaak deur lande met hulle eie diktators. Kommunisme was self verantwoordelik vir die dood van ‘n 100 miljoen mense. Die VN se ambassadeur het ook gesê die VSA het teen die mosie gestem omdat ʼn misdaad teen die mensdom vergelykbaar moet wees met Hitler se besluit om ses miljoen Jode na die gaskamers te stuur.”

Kriel meen ook dit is belangrik om apartheid binne die konteks en die geskiedenis van daardie tyd te beoordeel maar dat hy dink daar is nie tans ruimte vir ‘n genuanseerde debat daaroor nie.

“Woorde word in ons mond gesit en daar word gesê AfriForum glo daar was eintlik geen fout met die stelsel nie en niks het skeefgeloop nie. Ons sê dit hoegenaamd nie, ons sê duidelik mense se waardigheid is geskend. AfriForum is teen dít wat gebeur het.”

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, en Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, tydens hul besoek aan die VSA (Mei 2018). Foto: Twitter via @ErnstRoets

Afrikaners is weer die sondebok

Roets sê hulle glo daar is ʼn ingeboude beloning vir linkse politici om Suid-Afrika se verlede so wreed as moontlik uit te beeld. “Want hoe wreder die verlede was hoe meer regverdig dit swart ekonomiese bemagtiging en hoe makliker kan dit gebruik word as ʼn verskoning vir korrupsie en swak dienslewering. Ek dink die gevolg hiervan is dat Afrikaners, en dikwels boere, die sondebok gemaak geword.”

Kriel sê hy voel sodra jy ʼn standpunt het wat die heersende standpunt uitdaag of daarvan verskil, is daar nie ʼn poging om met jou debat te tree nie daaroor nie. “Mense sal eerder probeer om jou stil te maak deur ʼn etiket om jou nek te hang. Dit is ʼn strategie wat teen minderhede gebruik word.”

Waarheen nou?

“Die Kanadese filosoof Charles Tyler het gesê in ʼn multikulturele samelewing moet daar deurlopend en gereeld vertroue in mekaar hernu word. ʼn Mens kan egter nie vertroue hernu deur stil te bly oor probleme nie – elke groep moet daardie probleme opper en daar moet oplossings daarvoor gevind word,” sê Kriel.

“Ons wil ʼn hand van vriendskap uitsteek en met die ondersteuning wat ons nou in die buiteland kry, het ons meer gewig as ons in gesprekke deelneem. Ons veg nie teen swart mense nie en ons wil hê daar moet ʼn plekkie vir almal in hierdie land wees – dit is die belangrikheid van wedersydse erkenning en respek.

“Ons moet goeie verhoudings handhaaf, maar moet dit uit ʼn posisie doen waar AfriForum kan bewys ons het die vermoë om die diskoers te beïnvloed.”

Kriel benadruk dat AfriForum nie skaam is om te veg vir kwessies wat vir baie Afrikaners belangrik is nie. “Ons het ook ʼn tweede been waar die projekte wat ons aanpak ʼn wyer belang dien, maar waarteen mense wat ons kritiseer hulle graag blind staar.

“Ek dink mense moet ons beoordeel op dit wat ons doen en nie dit wat hulle dink ons doen nie.”

** Maroela Media gaan oor die volgende paar weke poog om kommentaar oor van die kwessies soos apartheid en plaasmoorde te kry van rolspelers en meningsvormers reg oor die politieke spektrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

White Rhino ·

Geluk met alles wat julle regkry!
Ek staan 100 % agter julle.
Indien iemand kla… vra hulle wat hulle vir blanke Suid Afrikaners doen. Net kla op die leuenstoel?

Lerato ·

Apartheid wat Malan, nogal, n predikant, verkondig het, was bloot en niks anders as verknegting van anderskleuriges nie.
Soos Malema nou met mense se koppe smokkel, het Malan met Afrikaners se kortsigtige koppe gesmokkel.
Nou sit ons met die gebakte pere

Vorentoe ·

Terwyl ons nooit die foute van die verlede uit die oog moet verloor nie, is dit baie belangrik om VORENTOE te beweeg en op te hou om mekaar te blameer. Deur die hele tyd die kleurkaart te speel, gaan niks en niemand help nie. Dit gaan net verdere verdeeldheid veroorsaak. Daar is darem nog instansies soos AfriForum wat ‘n verskil probeer maak en welgedaan aan hulle.

Andrea van Vuren ·

Lerato, jou kennis van geskiedenis is maar power.

Snelvuur ·

@Vorentoe: Ek stem saam dat ons vorentoe moet beweeg, maar dit is belangrik vir burgerregtegroepe soos Afriforum om te erken dat Apartheid verskriklik was. Selfs om te sê dat dit met goeie bedoelings begin was (wat natuurlik snert is: as dit so goed was en almal sou help, hoekom is bruin en swart stemme verwyder?) laat dit klink asof die Afrikaner sy foute wil “downplay” liewer as om te sê “Jammer ons het ‘n fout gemaak, ons gaan julle nou probeer help sodat ons almal vorentoe kan beweeg.” Dit is gevaarlik, veral omdat Afriforum elke fout wat die regering maak, uitlig. Hoe gaan die ou spreekwoord? Vee eers voor jou eie deur? So m.a.w. hoewel ons vorentoe moet kyk, is dit belangrik dat Afriforum Apartheid die nodige gravitas gee en nie bang is om: 1. Te erken dat Afrikaners nog groter foute as die ANC nou gemaak het nie en 2. Te probeer om voorheen benadeeldes te help presteer nie.

Carl ·

Baie goed gestel. Baie sterkte en hou net aan met die moeilike taak wat julle doen. Ons is baie trots op Afriforum en dankbaar vir julle groot poging en harde werk.
Almal wat Godvresend is en glo in ‘n toekoms vir almal in vrede sal eendag besef hoe goeie werk julle doen.

Nel ·

Winston Churchill het gesê, “You will never reach the end of your journey if you stop to throw a stone at every dog that barks at you” – dus, doet voort en laat die honde maar blaf.

Sarel ·

Doen wat julle doen, daar sal altyd diesulkes wees wat daarvoor en daarteen is. As ons moet wag vir die wat glo die maan is van kaas, is ons uitgeroei voor ons dit agterkom. Nooit mag ons ophou praat nie maar ons weet ook dat sake verskillend beoordeel word. Wat is die kans dat ons mekaar sal vind?
Dit kan net gebeur as almal wil, duidelik is daar baie wat nie wil nie.

Gatvol ·

Die mense probeer met die verlede die aandag weglei van die werklike gedprek oor die hede en die toekoms. Sfriforum poog nie om apartheid weer in te stel nie maar poog dat daar nie weer verkeerde beleid gevolg word nie.

Linda Gouws ·

Baie dankie vir alles wat julle doen. Die meeste van ons mense staan bankvas agter julle. Doen so voort asseblief.

Eish ·

Gaan net aan met wat jul doen synde die motivering daaragter ongebreidelde waarheidsfeite is.
Dit wat hom hier afspeel is die oorsprong van my pessimisme in mnr. Buys se gesprekstafeltoe voorstel.
Hoe op dese aarde gaan jy waardestelsels wat soos dag en nag verskil, met n goeie skopgraaf vooroordeel, aan dieselfde tafel akkomodeer veral wanneer elke aksie wat jy neem as belangegroep met venyn afgeskiet word?
Doen net dit wat jul doen soos jul dit doen. Die geskiedenis gaan jul met satynhanskoene behandel. Staan jul man tot die einde. Al word jul regop begrawe!

Daan ·

Wel gedaan afriforum … Uit die geskiedenis is daar baie goeie leering en lesse. Laat ons nie vergeet van die Piet Retief geval nie. Daar is ‘n soort mens wat geen deel van eerlikheid … en … by jou woord hou verstaan nie. So afriforum daar is geen rede vir jul om slap te le nie. Julle is nie net besig om die SA regering op wet en ander vlakke pak te gee nie maar ook dele van die buite wereld, en ons, God vreesende boere nasie gaan weer diep merk maak innie wereld.

Mielie ·

Almal het hul mes in vir Afriforum, net sekere dinge word uit onderhoude aangehaal en heeltemal uit verband geruk. Maar Afriforum staan hul man teen dit en hulle kan debateer sonder om persoonlik te raak, meer as wat meeste politici en joernaliste kan sê. Elke persoon kom tot sy eie gevolgtrekking en opinie omtrent dinge, almal mag dit lewer, behalwe n blanke Afr sprekende persoon of organisasie. Wat het van vryheid van spraak geword. As mense ander opinies het en dit verskil, dan is dit onaanvaarbaar, soos bv n Ausie rugaspeler wat sy borgskap verloor oor sy opinie. n SA Krieketspeler dra nie die embleem van die borg nie want dis teen sy geloof, hy word niks ontneem nie, meeste respekteer dit. So hoekom selektief wees oor mense se opinies. Ek praat nie van rassisme en kru woorde nie. Nie almal is dieselfde nie. Steve word nie toegelaat om n inkomste te verdien nie want iemand het issues met hom, hoekom dan nie net weier om sy vertonings by tewoon of musiek te koop nie, nie almal voel dieselfde soos die persoon nie, hy ontneem ander mense die voorreg om n plaaslike vertoning by te woon. Dis absoluut onredelik en weereens, elke persoon het n reg en n opinie en almal gaan verskil. Ek lees nie Mdp en MV artikels nie maar my pelle doen, moet ek nou weier om met hulle te praat en hulle oordeel.

Valerie ·

Dit was ‘n brawe stap om na die VSA te gaan. Julle kan maar aanvalle van die liberale blankes (die wat julle al reeds aangeval het asook sekere omroepers op RSG, soos almal gehoor het) verwag. Moet julle nie veel aan hulle steur nie. Hul stel nie belang in vrede vir almal nie. Hulle sal uit hul pad gaan om enige iets wat blank is in die grond in te boor. Ons het ons dood geskaam vir die onderhoud oor die radio en hoe veglustig en amateuragtig die omroepertjie van RSG was teenoor mnr Kriel.

Laas toe ek gekyk het, het SA ‘n gemegde bevolking gehad, en boonop een waarin almal sukkel, behalwe die liberales. Is dit nou nie al te snaaks nie?

Waarheid ·

Eish …daai laaste woorde slaan toe teen ‘n betonmuur. Glo aan nuwe begin om op te staan soos een (eendrag maak mag) vir elke RSAburger se regte. Voorwaarts mars!

jannie ·

Go Kallie Kriel en AFRIFORUM!!! JUlle maak my weer TROTS AFRIKAANS!!! EENDRAG MAAK MAG!

J B ·

Dit gee my ‘n gerustheid om te weet dat manne van kaliber ons saak namens ons beveg. Hou aan met die goeie werk Afriforum.

Linda ·

Baie mense in Suid-Afrika is gatvol vir ons situasie hier. Afriform het darem die vrymoedigheid op hul skouers geneem om die wereld bewus te maak van die werklike situasie in ons land. Ek hoop die wereld sal met ander oe nou na ons begin te kyk. Dit is nog nie duidelik hoe ons baat gaan vind met Afriform se toer na Amerika nie, ons sal maar geduldig moet sit en wag en kyk wat vorentoe sal gebeur. Die EFF is natuurlik ontstoke met Afriform, so ook die ANC, maar dit is in ons belang dat hierdie mense die werklike situasie aan die buiteland bewus gaan maak het !!!

Hendrik ·

Apartheid was nie reg nie en Afriforum erken dit. Om egter alle ellende wat swartmense beleef daarop te pak is ook nie korrek nie. Kyk na die ellende in Malawi, DRC, Mosambiek en baie ander Afrika lande. Daar was nie Apartheid nie. Maar in SA waar indiërs en kleurlinge vir jare onder dieselfde wette as swartmense gestaan het, is hulle gemiddeld baie beter af as swartmense. En in die 24 jaar nadat Apartheid verby is, het swartmense se gesondheidsorg en onderwys drasties versleg. Volgens die anti-Afriforum koor se standaard pleeg die ANC regering en die res van Afrika dus ook ‘n misdaad teen die mensdom.

Blue Butterfly ·

Terloops – dit verstom my dat Ramaphosa praat van “my people” asof ons nie deel vorm van Suid-Afrika nie – en NIEMAND rep ‘n word daaroor nie (behalwe Lekotla – bless his soul). Tweedens vra Afriforum ‘n lidmaatskapfooi – en het ek besluit om wel lid te word en maandelik ‘n bydrae te lewer – ek kan nie net op die kant staan en juig dat Afriforum namens my praat en ek dra nie by tot hulle uitgawes om ons saak oorsee en elders te stel nie. Ek wens meer mense wil lid word van Afriforum sodat die geld daar is vir hulle om hierdie belangrike taak suksesvol deur te voer. Dit is tyd dat ons as volk weer saamstaan want saam kan ons berge versit. Ek vra dat meer mense (met trots) lid word.

Jennie ·

Beslis blou bottervliegie! Mense sluit asb aan by Afriforum. Saam gaan ons ons toekoms skep. Ons hoop om deur fondse vanaf die buiteland projekte te skep in samewerking met Afriforum en Solidariteit. Baie van ons mense oorsee sal ook wil bydra glo ek.

humor ·

Talle male is dit al waargeneem waar die liberales kritiek en aanvalle loods teen behoudende aksies om dit nietig te maak, maar sodra daar enige vrug kom van hierdie behoudende aksies staan die liberales eerste in die ry om daarby baat te vind. So kyk maar wat gaan in die toekoms weer gaan gebeur.

KP ·

Afriforum julle doen goeie werk ek hoop die buiteland begin met streng sanksies teen SA en stop alle finansiele hulp want ons het hier met omgekeerde rassisme en die uitmoor van n sekere bevolkingsgroep te doen.

John ·

Elke mens het ‘n gewete en as dit dan so is, weet elkeen wanneer hy doen of wil doen wat verkeerd is. En as jy weet jy is verkeerd en dit steeds wil doen gaan jy allerhande redes aanvoer vir jou gewete en die wereld waarom jy wil he hulle gewetens moet met joune ooreenstem, dus hou jy alle inligting weg wat dalk ander insigte sal bewerkstellig… dws smeer die leuen dik aan, En hier kom twee japsnoete en lig die leuenkombersie sodat die lig helder inskyn… Ek sal die twee aanraai om sekuriteitspersoneel te bekom as ek in AfriForum se bestuur is.

Nederkaans ·

Laat weet vroegtydig wanneer julle Europa toe kom, ek sal plan maak om daar te wees.

haai nee ·

nee Linda ons moenie geduldig sit en wag nie. alles wat ons moontlik kan doen om insself te help moet ons doen. die buiteland, vsa inkluis, het dit wat in SA gebeur, laat gebeur deur alles Suid Afrikaans te boycott. het trump met die Suid Afrikaners gesprek gevoer? ek glo nie eers ou kuifie het belangstelling getoon nie. dit sou hom verhoed om te tweet.

Alida ·

Hou aan baklei ons staan agter julle. Die mense wat kritiek lewer teen julle is te suinig om R50.00 maandeliks by te dra maar drink seker R500 se brandy en coke uit. Ons wat lid is spoor almal aan om aan te sluit. Mens noem dit saamstaan.

brandy ·

ons brandy en coke alida. self voor gewerk sonder bedel bekom

Reguit ·

Volgens die artikel het die Kanadese filosoof Charles Tayler gesê dat “in ‘n multi-kulturele samelewing moet daar deurlopend en gereeld vertroue in mekaar hernu word”. Hierdie stelling is ‘n paradoks.

Enige filosoof wat sy sout werd is (eintlik enige normale persoon met normale verstand) sal uit hierdie stelling kan aflei dat ‘n multi-kulturele (“diverse”) samelewing dan júís onwerkbaar en kontraproduktief is – júís omdat dit konstant nodig is om só ‘n (kunsmatig-geskepte, saam geforseerde, gemengde) samelewing die heeltyd te moet onderhou, versorg en kunsmatig aan die lewe hou – dws konstante konflik bestuur.

In die geval van aparte of gesegregeerde samelewings (waar soort saam met soort woon) is dit nie nodig om konstant konflik bestuur toe te pas nie, want ‘n homogene samelewing woon van nature in vrede saam.

Valerie ·

Reguit, dis juis waar dinge in SA gefaal het (gebrek aan dialoog, begrip, en empatie vir ander mense), en dis hoekom SA vandag in so ‘n toestand is. Daar is mense wat nie water of blyplek het nie. Segregasie? Wat is die “soort” in jou teorie? Die kleur van jou vel (wat jy nie gekies het nie)?; die god of gode waarin jy glo en wat deur miljoene mense gedeel woord (oor alle kleurgrense heen)?; die taal wat jy praat (wat deur verskeie kleure mense ook gepraat word)?; die wat net vir die Stormers ondersteun? Ens, ens, ens?
Net omdat ek Engels is, is ek nie jou “soort” nie? Omdat ek ‘n vrou is, sal dit my uit jou “soort” hou? Omdat my beste vriendin van ‘n ander land kom en nou nie jou velkleur het nie (wat sy nie kon kies nie) gaan dit haar en my uit jou “soort” hou?

Segregasie werk net in een plek: in aparte mans- en vroue-toilette. Ek stel ‘n ander “soort” voor: een waarin mense omgee vir mekaar, waar mense waardes uitleef wat nie ander benadeel nie; een waar mense ander se beginsels respekteer (wie sê jy hoef saam te stem daarmee?). En ‘n “soort” waar wette gehoorsaam word en wette toegepas word.

As ‘n honger en dors kind sonder ‘n slaapplek by jou kom aanklop vir hulp, is jy van die wat aan haar gaan sê, “Jammer, maar jy is nie my soort nie?” Regtig?

Donald ·

As ander soorte maar net jou westerse waardes en wense gedeel het wat oor duisende jare apart van hul wense en kulture gevorm het sou dit dalk werk.

Stand for change ·

Doen wat julle goed doen, Afriforum. Niemand staan op vir ons, behalwe julle nie. Ons is trots en dankbaar wat julle doen. Net soos die ANC gedurende apartheid oorsee sanksies teen ons gewerf het, so ook moet julle oorsee vir ons baklei. Die artikel is baie goed geskryf. Trots Afrikaans. Ons sal nie gaan lê nie. Ons is harde, eerlike werkers met baie enttepreneurskap ondervinding en kan baie bied vir dir land … of die liberales nou daarvan hou of nir. Hulle sal nooit vir ons baklei nie, so ons moet dit self doen. Baie dankie, gaan so voort.

Oom Kalahari ·

Afriforum jul verrig uitstekende werk en asb bou so voort. Natuurlik sal die linkse liberaal alle hartseer en pynige stellings openbaar om hul jannie jammer houding te sus en die sous trein so lank as moontlik nie te laat ontspoor nie. Gun elke moontheid die reg tot sy eie beskikkings reg. As jy wil saamleef envermeng of watookal, dan doen so voort, maar gun die ander ook hul mensereg wat dit nie wil doen nie of isdit teveel gevra. Nie almal geniet dieselfde dinge in die lewe nie en daarom moet dit nie afgedwing word nie. God het nie sy tien gebooie op jou afgedwing nie, maar dit is vir jouself of jy dit wil aanvaar aldan nie.
Afriforum verrig ‘n taak wat van sy mense en lede ondersteun is op ‘n grondwetlike en regverdige wyse. Natuurlik sal daar teenkanting wees om nie gesigwaarde te verloor nie en die hele waarheid te probeer verbloem op alle wyse. Die werklikhede spreek vanself.
Dankie Kallie Kriel en Ernst Roets, as lede is ons trots op jul en jul aksies.

Janneman ·

Dankie Kalie en Ernst!

Ons waardeer en is baie trots op wat julle doen vir die land en ons saak. Ek het hoeka vandag my bydrae verhoog. Wel gedaan Kalie met die News24 onderhoud. Desondanks die dame se gelaaide stellings het jy kalm gebly en jou saak breedvoerig en duidelik gestel.

Dit gaan baie verg om die huidige dwase politiek korrekte sienings te stuit. Omdat ons korrupsie, onbevoegdheid, misdaad, rasgedrewe wette, ens beveg, en ons konstitusionele regte verdedig is ons skielik konserwatief en regsgesind!

Desondanks die werk wat julle doen wat alle gemeenskappe ophef word julle veroordeel as n orginasasie wat veg vir blanke bevoorregting. Kom ons noem n paar organisasies wat uitsluitlik veg vir swart bevoorregting:
ASABA, BLA, ASS, SADTACO, SAIBPP, BAWA, BACP, ABSAIP en daar is baie meer insluitend die EFF en BFLF.

Hierdie rassistiese orginasasies se bestaan word nooit veroordeel nie en inteendeel aangemoedig as n regstelling vir apartheid. Feit is hulle gaan nie die verlede laat gaan nie want dit sal hul tekortkomimgs van 24 jaar ontbloot.

Staan sterk mense!

Ryan ·

Mens moet in ag neem dat dit die eerste keer in ons land se geskiedenis is dat die liberale lingses verantwoordbaar gehou word vir hul aksies. Dit is ‘n baie ongemaklike posisie vir hulle om in te wees. Hulle weet nie hoe om jong konserwatiewes te debateer nie en keer gereeld terug na “kry my jammer eks ‘n slagoffer” status wanneer hulle vas gevat word. Dit werk nie meer om rasis te skree nie. Dis nou soos ‘n baba wat besef die moetswillige geskree werf nie meer aandag nie en dis nou tyd vir groot word.

rollie ·

Ek wil graag Afriforum se bewyse sien dat die gemiddelde moordsyfer 1.8 (ja, nou nie meer 2 soos op tv gese nie) per week die afgelope 18 jaar is.

Jennie ·

Stem saam wat Nel sê, steur julle nie aan die hondjies wat blaf nie. Vryheid begin op die punt waar mens die vrees vir mense se opinies verloor en doen wat reg is ongeag hul goedkeuring of kritiek, of die ou liberale strategie van negatiewe etiketering en vernedering deur assosiasie. Hul ophef bewys jul effektiwiteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.