AfriForum bevraagteken persombudsman se uitspraak

HuffPost SA

Huffington Post SA (Foto: Facebook/HuffPost SA)

AfriForum het sy kommer uitgespreek oor ’n uitspraak van die persombudsman se appèlkomitee in die saak tussen Verashni Pillay en AfriForum. In dié uitspraak, wat vandag gepubliseer is, word aangevoer dat ’n artikel wat vroeër vanjaar op Huffington Post SA gepubliseer is, nie op haatspraak neerkom nie.

Daar is in die artikel Could it be time to deny white men the franchise? onder meer aangevoer dat wit mans te veel mag het en dat hulle gevolglik van hul stemreg gestroop en hul eiendom herverdeel moet word. Die appèlkomitee moes hieroor beslis nadat die persombudsman vroeër vanjaar bevind het dat dié artikel wel haatspraak is. Pillay het sedertdien as redakteur van Huffington Post SA bedank, maar ook appèl teen die uitspraak aangeteken.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die organisasie die uitspraak sal bestudeer om oor moontlike verdere optrede te besin, maar dat daar reeds sekere ooglopende probleme met die uitspraak is. Dié probleme sluit die volgende in:

• Die toets vir haatspraak is nie behoorlik toegepas nie. Die appèlkomitee het bevind dat die artikel nie op haatspraak neerkom nie, onder meer omdat die kans te skraal is dat wit mans van hul stemreg gestroop sal word. Roets verduidelik dat die waarskynlikheid dat iets in die praktyk sal gebeur nie deel van die toets vir haatspraak is nie.
• Die appèlkomitee het bevind dat die artikel nie op diskriminasie teen wit mans neerkom nie, omdat wit mans as ’t ware in die artikel as “superhuman, powerful and dominant” uitgebeeld word en dat daar dus nie op ’n neerhalende wyse na wit mans verwys word nie. Roets sê dat wit mans nie bloot as bómenslik uitgebeeld word nie, maar eerder as ónmenslik in hul vermoë en vasberadenheid om ander mense te onderdruk. “Dit word allermins as ’n kompliment bedoel. Die woord ‘demonies’ sou in die konteks van die artikel meer beskrywend gewees het as die appélkomitee se woordkeuse van ‘superhuman’.”
• Die feit dat daar in die artikel aangevoer word dat wit mans se eiendom van hulle ontneem moet word, word nie behoorlik in die uitspraak oorweeg nie.

Roets sê dat Pillay se regsverteenwoordiger gedurende die verhoor aangevoer het dat wit mans inderdaad “disproporsionele mag” het en dat dit in ag geneem moet word in die bevinding of die artikel op haatspraak neerkom, en dat dit lyk of die uitspraak op hierdie argument steun.

“Hierdie suggestie is besonders kommerwekkend. Die Jode in Duitsland, die Armeniërs en Grieke in Anatolië, die Moslems in Serwië en die Tutsis in Rwanda was almal minderheidsgroepe wat oor die algemeen meer welvarend as die meerderheid was. Hierdie groepe was almal die slagoffers van volksmoord of etniese uitwissing onder meer omdat hulle op grond van hulle welvaart, oftewel hul sogenaamde ‘disproporsionele mag’, geteiken is,” het Roets bygevoeg. “Die geskiedenis het bewys dat minderheidsgroepe wat oor die algemeen meer welvarend as die meerderheid is, juis dié groepe is wat in besonder beskerm moet word. Om aan te voer dat wit mans nie rede het om te kla nie omdat hulle te veel mag het, is om aan te voer dat die meeste slagoffers van volksmoord of etniese uitwissing in die afgelope eeu vóór hul uitwissing ook nie rede gehad het om te kla oor die feit dat hulle in die openbaar geteiken word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Frederik ·

Minderheidsgroepe is oor die algemeen meer welvarend as meerderheidsgroepe, bloot omdat hul minder kinders het. ‘n Ouerpaar met slegs een kind, kan bekostig dat hul kind net die beste opvoeding, na hul vermoë, kry.

Selfbeskikking ·

Tot die sogenaamde etiese liggame begin nou al voorberei om ons van ons eiendom te ontneem. Ons moet dringend begin onderhandel vir selfbeskikking anders gaan ons als verloor!

tamboti ·

Selfbeskikking, dit is die enigste uitweg tensy ons as volk instem dat ons vernietig en/of vermeng/verteelt word.
Die enigste probleem is dat onderhandeling vanuit ‘n ontmagtigde stand teenoor onderdrukkers nog nooit aanvanklik goed was nie en dit net tot ‘n verdere verswakte stand lei. (dink maar aan die volke waarna in die Bybel verwys is, nadat hul verslaan is, is hul verslaaf en moet hewige belastings betaal. Ook soos Japan en Duitsland meer onlangs oorlagsbelasting moes betaal) Maar met die verloop van tyd en die wilskrag en samewerking van die onderdrukte VOLK/NASIE, word tog groot sukses behaal en die pendulem swaai dan oor. (in ‘n groot mate word ons as volk reeds belas ten bate van die onderdrukkers en ons is reeds tot gedwing tot slawestatus deur die ontneming van gelyke regte)
Met ander woorde, suksesvolle selfbeskikking kom teen ‘n prys. En natuurlik moet die onderdrukkers eers tot die onderhandelings fase oortuig word – min of meer wat ons voormalige regering wel gedoen het, behalwe dat hul vanuit magsposisie gekapituleer het.
Dit sou natuurlik heel ander wees as daar voor 94 wel ‘n selfbeskikking bedeling vir almal wat daarin belangstel, onderhandel was.
Dan kon ons reeds halfpad op pad na ‘n suksesvolle nasie in eie onafhandelike staat wees. (Sonder ‘n bloedvergieting)

Albert Juergen ·

Dit wil vir my voorkom dat die ombudsman self skuldig is aan rassime! Hierdie Artikel is die ergste vorm van diskriminasie en rassisme teen “Witmans” wat nog geskryf was!

Jacqui ·

Ek sal nie weer enige van Huff Post se artikels lees nie. Dood eenvoudig. As die stuk oor n ander ras geskryf was , het die poppe gedans.

Appeltjie ·

Ja liberaal was toe net die verneukwoord vir ontneem. Die westerlinge gee vrywilliglik hulle land, vryheid en identiteit weg in die naam van lineraal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.