AfriForum-buurtwagte lê meer as 94 000 km af tydens nasionale patrollie

Foto: AfriForum

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die afgelope naweek nagenoeg 132 gemeenskappe reg oor die land gemobiliseer om aan ’n nasionale patrollie deel te neem.

Sowat 3 500 AfriForum-lede en 1 822 ander veiligheidsrolspelers het aan die nasionale patrollie deelgeneem. Die patrollie is met 2 733 private voertuie uitgevoer en altesaam 94 289 km is afgelê. Meer as 187 voorvalle is suksesvol tydens die patrollie hanteer.

AfriForum het weer eens daarin geslaag om 91% van veiligheidstrukture te mobiliseer, wat as uiters suksesvol beskou kan word, meen Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Die deeglike voorbereiding van die veiligheidstrukture kan as ’n bydraende faktor tot misdaadbekamping beskou word.

Ander instansies wat deelgeneem het, sluit verskeie private buurtwagte, veiligheidsmaatskappye, gemeenskapspolisiëringsforums, insleepdienste, polisiestasies, plaaslike sakeondernemings, paramediese dienste en plaaslike verkeersdepartemente in.

Die doel van die nasionale patrollie is om gemeenskappe teen misdaad te mobiliseer en ook om sigbaarheid en samewerking tussen veiligheidsrolspelers te verbeter op sowel nasionale as plaaslike vlak.

“Met die feesseisoen om die draai is voorkomende optrede soos hierdie van uiterste veiligheidsbelang omdat gemeenskappe in samewerking met die SAPD en ander instansies eienaarskap neem van hul eie veiligheid. Die patrollie bewys weer eens hoe belangrik dit vir gemeenskappe is om hulself weerbaar te maak,” sê Coetzer.

“Die feit dat gemeenskapslede betrokke raak by veiligheidstrukture skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp bewustheid en waaksaamheid om misdaad in gebiede hok te slaan. Goeie samewerking tussen buurtwagte, die SAPD en plaaslike veiligheidsinstansies stel die veiligheidstrukture van AfriForum in staat om meer suksesvolle optredes soos hierdie te kan uitvoer en die gemeenskap in tye van nood by te staan,” het Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek, gesê.

“Proaktiewe optredes soos dié sigbaarheidspatrollies skep hoop in gemeenskappe. Dit is noodsaaklik dat hierdie soort projekte gereeld saam met alle veiligheidsrolspelers in ’n gemeenskap aangepak word,” het Johandré van Zyl, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek, afgesluit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

schaun ·

Hierdie is puik ,baie dankie maak net seker julle lewens polisse bevat die inligting want sou jy iets oorkom terwyl jy die polisie se werk doen sal die polis nie uitbetaal ,maar weereens dankie vir die goeie werk en inisiatief ek salueer julle

marous ·

Mag die Vader hul beskerm in die wonderlike dade wat hulle so onbaatsugtig verrig .

Jerry ·

Baie geluk. Die naweek sigbaarheidspatrollie het met die suksesse duidelik in sy doel geslaag om verskeie rolspelers se paraatheid op te skerp en kohesie te bevestig en dit nogal sonder enige beserings of lewensverlies. Dit wys dat die besef deurgedring het dat lede slegs optree as die oe en ore vir die wetstoepassers, wie die mandaat het om verdagtes te konfronteer!

Tiger ·

En die regering smile breed want hy verdien + – R380,000 met die belasting op die brandstof wat uitgery is!

Adam ·

Ons glimlag ook breed want deur voorkomende optrede spaaar ons R38m wat tydens die naweek gevandaliseer of op ander kriminele wyses vernietig kon word. Lewensverlies is boonop nie kwantifiseerbaar in geld nie. Uitekende inisiatief Afriforum!!!!

KrokodilBotha ·

Die mense doen uitstekende werk. My polisiestasie kan iets leer by hulle, Safe en Adt ook. Wys jou hoe het my Kaapse DA dorp verval met misdaad, dis net Afriforum mense wat sukses behaal hier. Wel soms is Polisie so halfuur agter Afriforum, soms glad nie. Ondersteun hulle waar jy kan.

Lewis ·

Slaan die regering met die sweep van die gereg. Al moet jy aanhou, totdat die bloed loop. Miskien het hulle ook ‘n gewete en kry hulle skaam as hulle sien wat kan gebeur as die wil om te bou daar is. Ek dink ook aan die vurige kole op die kop gooi, waarvan die Bybel praat Lukas 10:30–37 dat ons na alle mense in nood moet uitreik, selfs na ons vyande. Dit is al moeilik genoeg om volgens die riglyne van die wette te lewe as ’n mens tussen vriende is! As ’n mens egter ook regverdig en vriendelik gaan wees teenoor jou vyande, bewys jy daardeur dat jy regtig anders as die wêreld is en hoop jy vurige kole op hulle hoofde.
Bybel in Praktyk – Wil Vosloo, Fika J van Rensburg, et.al., Die Bybel in Praktyk, (Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy) 1993.

andre ·

Veg vir BELASTING korting op alle sekuriteitsuitgawes!

Want die mislukte ANC regering is onbevoeg om te voorsien in die burgers se veiligheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.