AfriForum by VN oor skending van taalregte

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake. (Foto: Reint Dykema)

Afgevaardigdes van die burgerregteorganisasie AfriForum sal vir die volgende twee dae die twaalfde sitting van die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland, bywoon. Vanjaar se tema is “Onderwys, taal en die menseregte van minderhede”. AfriForum beoog om die regering se skending van Afrikaanssprekendes se regte by hierdie geleentheid in die kollig te plaas.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, verteenwoordig dié organisasie by die Forum. Volgens haar is dit nodig dat hierdie platform die internasionale gemeenskap inlig oor die regering se voortdurende aanslae teen Afrikaanse onderwys.

“Die gebrekkige beskerming wat grondwetlike instellings soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) en howe vir taalregte bied, en die gebrek aan politieke wil om tale hoegenaamd te probeer bevorder of ontwikkel, kan verder grootskaalse verengelsing in alle sektore veroorsaak,” sê Bailey.

“Vir AfriForum is regte op hierdie terrein, veral die reg op moedertaalonderrig, van die allergrootste belang. Ons sien hoe die gebrek daaraan veroorsaak dat ál minder mense kwalifikasies van hoogstaande gehalte op tersiêre vlak behaal. Dit het wye nadelige gevolge op ekonomiese, maatskaplike en vele ander gebiede,” sê Bailey.

Die appèlhof in Bloemfontein het vanoggend AfriForum se appèl teen die hooggeregshof se uitspraak oor Unisa se Engels-medium-taalbeleid aangehoor. Uitspraak deur dié hof word voorbehou.

Bailey sê wanneer iemand op Afrikaanse moedertaalonderrig aandring, gebruik regeringslui en ideoloë dit moedswillig om allerlei ongeldige motiewe soos die kastige teruggryp na die vorige bestel of ’n strewe na eksklusiwiteit aan Afrikaanssprekendes toe te dig. “Gemeenskappe word gepolariseer en op ál meer terreine verloor mense die selfvertroue om hulle eie taal te gebruik, wat hulle net verder benadeel,” sê Bailey.

Die VN-byeenkoms ondersoek ook beste praktyke, byvoorbeeld in die opstel van beleid om taalregte te bevorder. “In dié verband het AfriForum in die 14 jaar van sy bestaan al waardevolle ervaring opgedoen wat hulle met die internasionale gemeenskap kan deel. Die forum bied verder die geleentheid om ook uit ander taalgroepe se ondervinding te leer,” sê Bailey.

Deur die saak by hierdie VN-forum in die kollig te plaas, hoop AfriForum om toenemende druk op die regering toe te pas om die regte van Afrikaanssprekendes te erken en respekteer – in die openbare en privaat sektor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Neels ·

Werk eerder vir afstigting. Dan kan die meerderheid doen wat hulle wil.

Pieter ·

Stem saam jou neels afriforum mors hulle tyd amerika en daai plekke het nie n saak met ons nie hulle het die klomp hier gehelp om ons land te kry hoekom sal hulle nou erken dit was n groot fout hulle sal dit nooit doen nie

Kaaskoek VetKlier ·

Lekker lag ek nou . . . nou gaan huil julle by Leeu omdat Hiëna bokke vang.

Nico ·

Het iemand al ooit gevra waarom die Duitsers bv n skool mag hê( Pretoria), en hulle is n Europese land ; Terwyl die Afrikaner NIE n skool mag hê in sy eie taal nie…wonder maar net..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.