AfriForum dien kommentaar teen NGV by parlement in

(Argieffoto: pixabay)

Die burgerregtegroep AfriForum sê hy het sy kommentaar teen die “vernietigende wetsontwerp” oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) Donderdag by die parlement in Kaapstad ingedien. Die organisasie het ook ʼn verteenwoordiger van die portefeuljekomitee oor gesondheid gevra om die datums en plekke vir die openbare deelnameproses te voorsien.

AfriForum sê die regering – en spesifiek die gesondheidsdepartement – se baanrekord vir die besteding van belastinggeld en die bestuur van staatsbeheerde entiteite, is uiters swak. Die departement kan dus nie met meer as R446 miljard per jaar (dis wat AfriForum bereken NGV gaan kos) vertrou word om die gesondheidsorg van die hele land se mense te bestuur nie.

Volgens die ouditeur-generaal (OG) se 2017-’18-ouditverslag word net meer as die helfte van die nasionale departementele begrotings aan die departemente van onderwys, gesondheid en openbare werke toegeken, asook vir die inwerkingstelling van sleutelprogramme om die gesondheid en welsyn van Suid-Afrikaners te bestuur.

Tog toon dié drie departemente die swakste uitsette van alle departemente, het AfriForum gesê.

Die provinsiale gesondheidsdepartemente het nóg swakker gevaar en is volgens die OG in ’n haglike toestand. Die algehele tekort wat provinsiale gesondheidsdepartemente vir dié tydperk getoon het, is R8,4 miljard.

“Dit is dus duidelik dat verreikende ingryping in provinsiale gesondheidsdepartemente noodsaaklik is. Die NGV is egter nié die manier om dit te doen nie. Minister [van gesondheid] Zweli Mkhize behoort eerder sy aandag aan die regruk van die gesondheidsdepartement te wy,” het Natasha Venter, AfriForum se veldtogbeampte vir die NGV, gesê.

“Dit sluit die aanstel en opleiding van bekwame mediese personeel, die opgradering van bestaande staatshospitale en -klinieke, asook die drastiese besnoeiing van ongemagtigde, onreëlmatige en verkwistende uitgawes in.”

Venter het gesê die regering behoort versigtig te wees vir programme soos die NGV, aangesien dit meer druk op die reeds wankelende staatsgesondheidstelsel gaan plaas.

“’n Aanvullende stelsel, waar mense kan kies om privaat gesondheidsorg te ‘koop’ as hulle dit kan bekostig, verlig juis druk op die staat se beperkte hulpbronne, wat in praktyk die vlak van gesondheidsorg vir almal behoort te verhoog. Ongelukkig is daar fundamentele gebreke in ons staatsgesondheidstelsel: wanbesteding en onverantwoordbaarheid.

“Totdat dít opgelos word, gaan die land se gesondheidsorgstelsel siek bly. Belastingbetalers kan egter nie meer gedwing word om vir die regering se gebreke op te dok nie,” het Venter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jerry ·

Dankie Afriforum, nou weet die ANC staat om presies R 446 miljard vir NGV vir die eerste jaar van belastingbetalers in te vorder, dit is ontstellend baie meer as wat die ANC op gereken en op gehoop het. Hopelik is daar nie nog slimjan insette in julle kommentaar wat die ANC staat sal kan byvoeg by die NGV wat verder kan strek tot belastingbetalers se nadeel en tot die ANC se voordeel. Almal weet tog dat die ANC berug geraak het daarvoor dat hulle slegs die hoogste tenderbedrae aanvaar, dus sal die ANC julle tenderbedrag VERWELKOM as hulle nuwe eie NGV tenderbedrag!

Judge Dredd ·

Ou Jerry, dis klaar openbare kennis dat Afriforum reken dit kan tussen 250miljard en 446 miljard in die eerste jaar kos(soos wat in vorige berigte verskyn).
Nou as jy versigtig lees ou Jerry dan sal jy sien dat Afriforum glo dat die regering nog meer as dit wel he.
En laat ek dit sommer hier reguit se – as regering se korrupsie en onbeholpenheid ingereken word dan gaan dit daadwerklik baie meer kos as 446 miljard om “kwaliteit NGV” te implimenteer.

En ou Jerry, hopelik besef jy dat Afriforum gekant is teen die NGV soos voorgestel deur regering.
So ou Jerry – jy wat nou so Afriforum altyd wil aanvat – maak dit jou nou nie die vriend van die ANC? (the enemy of my enemy is my friend)

marous ·

Niks anders as die begin om hul vuil kloue in die privaat sektor se hard verdiende geld te slaan nie . Dieselfde met privaat pensioen fondse . Die staats pensioen fonds is reeds gestroop . Dis die waarheid .

Zorro ·

Afriforum is nie orals immer-gewild nie, maar hulle is die enigstes wat nog iets doen. Doen so voort asb.

Gert van Wierdapark ·

Die NGV SAL bloot neerkom op die uitbrei- ding (nog luukse waens), van die huidige a en see Sous-Trein(e)

Maljan ·

Al sê 9/10 Suid-Afrikaners “NEE” vir NGV sal die ANC voortgaan en dit implimenteer want dit is die breinkind van een van die kaders. Mense, luukse is voortaan uit vir diegene wat goeie mediese sorg wil hê. Namibia, Botswana, Zambië het hopelik goeie Drs.

Kallie ·

Waar kom u aan die 9/10 wat teen NVG is? Dis dalk 1/10, want net 9 miljoen is op medies fondse.

Neels ·

Ses miljoene van die mediese fonds lede is afhanklikes, meestal kinders.

humor ·

Nie net die besnoeiing van ongemagtigde onreelmatige, verkwistigende uitgawes nie, maar die algehele beindiging daarvan. Besnoeiing sal sekerlik verkeerdelik vertolk word.!!!!!!!!!

Ag asseblief ·

Net soos grondonteining sal die anc voort stoomrol al is dit ten koste van die ekonomie en die land se mense! Als oor hul mag en die beheer en onderdrukking van die mense.

Drikus Kotze ·

Die mislukking van enige gesondheidsorgstelsel moet ons dadelik daaraan herinner dat enige stelsel net so goed is soos die mense wat dit bestuur. En ons huidige regering bestuur Suid-Afrika van die wal (vorige regering) tot in die sloot(huidige regering)

John ·

Die regering kan nie eers gewone klinieke regruk nie. Die NGV daarteenoor vereis ‘n wonderwerk en g’n mens kan sonder krag van Bo dit bewerk nie… Die ANC glo hy is magtig en gesond genoeg…

Lorraine ·

Dankie Afriforum – hierdie is nagmerrie wil hul wil begin.

MC Botha ·

Ons het beswaar gemaak teen grondgrype, plaasmoorde, saa, escom, telkom, sabc, niks het daarvan gekom, mag God ons behoed en bewaar dat die NGV gekeer kan word. Ons kan nie meer nie

Skroef ·

Julle besef natuurlik dat PAYE (daardie lekker belasting wat eenvoudig van ons gevat word) met 3% verhoog gaan word. Dan gaan ons belastingkorting op ons mediesefondbydrae verloor en nog daarop ook belas gaan word. Sodat die massas na privaat hospitale kan gaan.

Julie Jansen van Rensburg ·

Wel, mede-burgers wat in reg en geregtigheid glo, ons moet saamstaan om hierdie kommunistiese regering so spoedig moontlik uit die stoele te lig – beginnende by die munisipale verkiesings oor twee jaar en dan die volgende algemene verkiesing daarna. Intussen wil ek ook hiermee my innige dank teenoor Afriforum uitspreek vir alles wat hulle doen om misdaad en korrupsie bloot te lê en te bekamp. INNIGE DANK, AFRIFORUM!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.