AfriForum dien strafregtelike klagte in oor brandstoftender

Die Tshwane-metroraad se kantoor in die Pretoriase middestad. (Foto: Christel Cornelissen)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Vrydag strafregtelike klagte van korrupsie en tenderbedrog by die polisie aanhangig gemaak in verband met ʼn brandstoftender wat glo op ʼn onreëlmatige wyse toegeken is.

Die betrokke maatskappy aan wie die tender toegeken is, het glo bande met die EFF.

Monique Taute, hoof van AfriForum se Teenkorrupsie-eenheid, het in ʼn verklaring gesê die Pretoriase hooggeregshof het bevind dat die Tshwane-metroraad in 2019 ʼn brandstoftender op ʼn onreëlmatige wyse aan Balimi Barui Trading (BBT) toegeken het.

AfriForum het nou besluit om klagte in te dien teen die direkteur van Balimi Barui Trading (BBT),  ’n familielid van die direkteur en ’n lid van die bodspesifikasiekomitee wat gestig is vir die toekenning van ’n brandstoftender deur die Tshwane-metroraad.

Volgens Taute het die Tshwane-metroraad in Junie 2018 ʼn tenderaanbod gepubliseer vir ses soorte brandstof wat die metro benodig. Die metro gebruik egter sedert 2015 net twee van hierdie ses brandstofsoorte.

BBT het in Julie 2018 die tenderinligtingsessie bygewoon waarna dié maatskappy die volgende dag R250 000 in Mahuna Investments se rekening inbetaal het.

“Mahuna Investments, waarvan EFF-leier Julius Malema se neef die enigste direkteur is, is ook een van die maatskappye wat onwettige VBS-geld ontvang het. Daar is bewerings dat van hierdie geld glo gebruik is om Malema se persoonlike lewenstyl te finansier en sy seun se skoolfonds te betaal,” het Taute verduidelik.

Volgens Taute het die direkteur van BTT kort daarna nog R500 000 aan Mahuna Investments betaal en R1 miljoen aan DMM Media and Entertainment. DMM Media and Entertainment se enigste direkteur besit saam met Floyd Shivambu, die adjunkpresident van die EFF, se broers verskeie ander maatskappye.

Taute verduidelik dat die bodspesifikasiekomitee in Januarie 2019 die tenderaanbod aan BBT toegeken het ten spyte daarvan dat BBT se pryse vir die twee brandstofsoorte, die enigste soorte wat deur die metro gebruik word, glo buitensporig hoog was. BBT het dit verreken deur die pryse van die ander vier brandstofsoorte, wat glad nie gebruik word nie, baie laag aan te bied in sy tenderbod.

“Dit blyk dus dat BBT waarskynlik toegang gehad het tot inligting waarvan die ander tenderaanbieders nie geweet het nie. Transkripsies van die bodkomitee se vergaderings wys dat die direkteur van BTT uiters betrokke was in besprekings oor die spesifikasie van die brandstofsoorte in die tenderbod en dat hy direk betrokke was by die administrasie van die BBT-kontrak.

“Ons dien vandag klagte in omdat korrupsie en tenderbedrog ’n kanker is wat besig is om sonder beheer deur die land te versprei – tot nadeel van almal,” het Taute bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Hoe het dinge so ontaard dat laakbaarheid ‘n status simbool geword het in die plek ? Dit sal nooit ten einde kom nie !

Stofdonkie

En die EFF skep al weer. R1,75m Sou handig wees vir enige mens. Hartseer om te dink mens moet 10 jaar werk om altesaam soveel te verdien.

Kokerboom

Die verfoeilike dade van die regende gespuis skreeu ten hemele. Dis tyd dat die belastingbetalers van SA ‘n verenigde front vorm en die absolute korrupsie en verkwistig dmv weerhouding stopsit.Dki Afriforum

Hekwag

Ry hulle!