AfriForum: ‘EFF wil Tuks-kampus onregeerbaar maak’

Studente Maandag op die Tuks-kampus. Foto: Adéle Changuion

Studente Maandag op die Tuks-kampus. Foto: Adéle Changuion

Die EFF se stryd teen Afrikaans is net ʼn volgende stap in sy veldtog om die kampus van die Universiteit van Pretoria (UP) onregeerbaar te maak met die oog op mobilisering en publisiteit vir die komende munisipale verkiesing, het AfriForum Maandag gesê.

Die burgerregte-organisasie het hom uitgespreek ná ʼn dag van betogings op die Tuks-kampus deur lede van die #UPBlackMonday-beweging, wat skynbaar grootliks uit lede van die EFF bestaan. Klasse moes Maandag afgestel word en die polisie is ontbied terwyl gemoedere tussen die #UPBlackMonday-beweging en lede van AfriForum Jeug hoog geloop het op die kampus.

Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die organisasie het Maandagmiddag met prof. Cheryl de la Rey, rektor van die universiteit, vergader. Tydens die vergadering is verskeie sake van belang en die vinnige voortsetting van die akademiese program by die universiteit bespreek.

“Die versekering is aan AfriForum gegee dat ʼn finale besluit oor Afrikaans as onderrigtaal nog nie geneem is nie,” het Kriel gesê. “Prof. De la Rey het onderneem om ʼn vergadering tussen AfriForum en die universiteit se taal-taakspan te reël, om aan AfriForum die geleentheid te bied om insette rakende UP se taalbeleid te lewer voordat dit na die universiteitsraad vir besluitneming verwys word.”

Kriel het beklemtoon dat AfriForum daartoe verbind is om ʼn vreedsame oplossing vir die geskil te vind, goeie verhoudinge en wedersydse erkenning en respek tussen studente na te streef en na die veiligheid en belange van die Afrikaanse studente om te sien. Hy het gesê die voortsetting van die akademiese program word steeds as die hoofprioriteit beskou.

“AfriForum het ook die verteenwoordigende studenteraad (VSR) se uitnodiging om oor die saak te vergader aanvaar en verwelkom, maar betreur dit dat AfriForum Jeug se vroeëre versoeke om die kwessie met redelike gesprekke op te los, nie aanvaar is nie,” het Kriel gesê.

Intussen het die #UPBlackMonday-beweging Maandag ʼn memorandum van eise aan die universiteit oorhandig wat onder meer insluit dat die naam “Tuks” glad nie meer gebruik word nie, dat Afrikaans glad nie meer as onderrigtaal gebruik word nie en alle amptelike kommunikasie, wat e-posse, fakse en briewe insluit, in Engels moet geskied. Die beweging eis ook dat kennisgewings op die kampus slegs in Engels aangedui word, die tweetaligheidsvereiste in posbeskrywings verwyder word en dat alle Afrikaanse name van lesingslokale en koshuise op die kampus geskrap word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ronel

Kan iemand my net se. Hoekom Afrikaans? Hoekom betoog hulle nie om in hulle taal onderrig te word nie. Hulle demands is onredelik. Dit gaan lankal nie meer oor die taalkwessie nie. AfriForum mors hulle tyd om te onderhandel. Tyd vir vreedsame onderhandeling is reeds verby. As jy my vra is die besluit reeds geneem.

JC

Afrikaans sal nooit val by UP nie! So ‘n besluit sal ‘n grondwetlike skending daarstel en die besluit van die raad vatbaar maak vir grondwetlike aksie. NIEMAND word benadeel deur Afrikaanssprekende studente wat klasse in hul taal bywoon nie. Dit staan ander studente vry om immers hul grondwetlike regte uit te oefen em hul klasse in hul taal van keuse nl. Engels by te woon sonder dat Afrikaanse studente benadeel hoef te word. Sekerlik sal die raad dit tog insien,Sekerlik sal die raad NIE die Grondwet skend en hul aksies die haat- en rasgevulde ongrondwetlikhede wat die afgelope paar dae… Lees meer »

Francois

Universiteitsbesture se hooftaak is om hul instellings se toekoms te verseker. Indien dít vereis dat Afrikaans uitgegooi moet word, sal dié besture nie huiwer om dit te doen nie. Rektore soos Cheryl de la Rey (wat ‘n Engelssprekende Nataller is) en Wim de Villiers (wat jare in Engeland en Amerika werksaam was) het klaarblyklik min of geen histories-emosionele verbintenis tot Afrikaans. Hulle sal nie skroom om Afrikaans op te offer ter wille van politieke gedienstigheid en die behoud van die regime se subsidie-ondersteuning om hul onderskeie universiteite se toekoms (al is dit met lae standaarde en weinig internasionale status) te… Lees meer »

Danie Kok

Dit is nie werklik ‘n taalkwessie nie. Ons moet die realiteit besef dat hulle niks anders beoog as die totale uitwissing van ons volk nie. Zuma se dawerende stilte oor die hele aangeleentheid bevestig dit. Die Afrikanervolk staar ‘n bloedige stryd tot die dood toe in die gesig wat sonder keuse op ons afgedwing word. Alle vreedsame maniere om dit te vermy is uitgeput en die eise van die massas word net meer radikaal. Ek is nie ‘n voorstander van oorlog nie maar ek is bevrees dit blyk onvermydelik te wees. Ons Afrikaners sal ons geestelike basis in orde moet… Lees meer »

Tania

Ek wil net graag weet, wat gebeur met die arme studente wat WIL studeer ek praat nou van ALMAL (alle rasse) wat wil studeur want daar is baie wat wil. Wat gebeur met hulle studie geld as hulle nie die jaar maak nie. Ek onthou toe ek studeur het in 1995 met al dieselfde tipe onluste, het ek die jaar nie gemaak nie want ons het geen klasse gehad nie. AS ons klas toe gegaan het was ons klasse ingestorm en ons uitgejaag ons was gejaag met grawe en stokke en goed. Ons ouers moes steeds betaal? wat van die… Lees meer »