AfriForum en AfriSake dringend in hof om kragafsluitings te voorkom

Argieffoto: GCIS

Argieffoto: GCIS

AfriForum en AfriSake doen vandag in die hooggeregshof in Pretoria aansoek vir ʼn dringende interdik teen Eskom se planne om die kragtoevoer na agt munisipaliteite op 5 Januarie 2017 af te sny, weens dié munisipaliteite se versuim om hul rekeninge by Eskom te vereffen.

Dit het oor die feestyd aan die lig gekom dat Eskom van plan is om kragtoevoer na inwoners van verskeie munisipaliteite in die Noord-Kaap, Noordwes en Vrystaat af te sny, omdat sekere munisipaliteite versuim het om geld wat vir elektrisiteitsverskaffing van inwoners ingevorder is, aan Eskom oor te betaal. Hierdie munisipaliteite skuld Eskom miljarde rande.

Die hooggeregshof hoor op 22 en 23 Maart vanjaar ʼn omvattende aansoek van AfriForum en AfriSake aan om te bepaal of Eskom se praktyk, om inwoners te benadeel weens die versuim van swakbestuurde munisipaliteite om hul verpligtinge na te kom, grondwetlik is.

AfriForum en AfriSake meen Eskom, as ʼn staatsbeheerde maatskappy, het ander regsmiddele tot sy beskikking om sy tariewe in te vorder. Om betalende en wetsgehoorsame inwoners en instansies te straf vir die nalatigheid van onbekwame munisipale administrasies maak nie sin nie. Die benadering van Eskom, om te dreig met summiere kragafsluitings van volledige munisipale gebiede, is ʼn drakoniese en ongrondwetlike maatreël, wat neerkom op kollektiewe benadeling van betalers, sowel as wanbetalers.

Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum en AfriSake, het in ʼn verklaring gesê die burgerregte-organisasies kan nie toelaat dat betalende dienstegebruikers, ouetehuise, hospitale, skole en nooddienste benadeel word weens die kultuur van wanbetaling onder sekere inwoners en die wanbestuur van munisipaliteite deur onbekwame amptenare nie.

“Eskom het vroeër onderneem om nie met kragafsluitings voort te gaan voor die afhandeling van die hofaansoek in Maart nie. Die planne om nou agt munisipaliteite se krag af te sny, is strydig met Eskom se vroeëre onderneming en daarom nader ons nou die hof vir dringende hulp,” sê Spies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

CAV ·

En hier moet Agfiforum weer inspring om die regering se gemors te probeer uit sorter

Jan Jooste ·

Baie dankie Afriforum en AfriSake. Ek wonder waar is die DA, VF+ ens? Hulle raadslede verdien beduidende inkomste uit stadsrade – maar kan geen diens lewer tov kragsfsluiting nie. Voorspoed!

Naamsverandering ·

Baie makliker vir Mislike Palityte om name van strate ens. te verander as om hulle rekenings te betaal.

W ·

Maroela is dit moontlik om die name van die Munisipaliteite bekend te maak asseblief?

swernoot ·

hoekom kan fie oubliek nie direk van eskom krag koop nie? hoekom moet alles deur n derde party geskiet? om direk van eskom te koop kan te wee bring dat krag goedkoper kan word want daar is geen middelman wat ook n hap moet kry nie.

Elize ·

Uitstekende idee, want soos gewoonlik is daar twee kante! Ek het simpatie met verbruikers wat vir hulle diens betaal het en nou sonder krag gaan sit, maar Eskom is ‘n besigheid met ‘n verantwoordelikheid ook teenoor sy werknemers wat vir hulle eie gesinne moet voorsien en hulle is die eerstes wat sal ly as Eskom personeel moet minder maak as hulle nie betaal word vir die diens wat hulle lewer nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.