AfriForum en Paul O’Sullivan lê korrupsie bloot

Taute, Kriel en O'Sullivan tydens die mediakonferensie.

Taute, Kriel en O’Sullivan tydens die mediakonferensie.

AfriForum het vandag sy teenkorrupsie-eenheid in samewerking met Paul O’Sullivan, forensiese speurder en gesertifiseerde bedrogondersoeker, tydens ʼn mediakonferensie in Centurion bekend gestel.

Die burgerregte-organisasie meen lank reeds sistemiese korrupsie kan enige land op sy knieë dwing en het daarom besluit om van die geleentheid gebruik te maak om te wys hoe die strafregstelsel deur die onderwêreld oorgeneem is.

“Dit is juis daardie instellings wat veronderstel is om ons regskodes te handhaaf en ons teen misdaad moet beskerm, wat deur kriminele met kentekens binnegedring is en besluit het om liewer vennootskappe met die onderwêreld te sluit. Nou kan korrupte politici hul eie gierigheid met vryheid bevredig omdat hulle hulself as verhewe bo die wet ag. Pleks daarvan om Suid-Afrikaners te beskerm, het hulle nou die vyande van Suid-Afrikaners geword en hul ampsede laat vaar, asook hul beloftes om by die Grondwet te hou,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

Taute en haar span sal onder meer ʼn koördinerende rol speel om korrupsie deur hooggeplaastes te identifiseer, dit deur ervare ondersoekers te laat ondersoek, te verseker dat strafregtelike klagtes ingedien word, druk vir vervolging toe te pas deur korrupsie in die openbaar te ontbloot en openbare veldtogte teen korrupsie te voer.

“Ons beplan om korrupsie deur noue samewerking met Paul O’Sullivan uit te wis deur op verdienstelike gevalle te fokus en teen die staat op te tree om dit so te dwing om sy verantwoordelik na te kom en kriminele agter tralies te sit,” verduidelik sy.

AfriForum en O’Sullivan het tydens die openbare bekendstelling van die teenkorrupsie-eenheid verduidelik hoe een krimineel van die Tsjeggiese Republiek bykans elke staatsliggaam kon binnedring om homself op dié wyse in staat te stel om ʼn misdaadgolf te skep wat nog nooit voorheen in die land beleef is nie.

Hulle het bewyse aan die media verskaf van Radovan Krejcir se samespanning en korrupte onderhandelinge met mense soos lt. genl. Vinesh Moonoo, maj. genl. Joey Mabasa, landdros Stephan Holzen en lt. genl. Richard Mdluli. Dié bewysstukke het ʼn brief van Krejcir se prokureur ingesluit, wat aan Andrew Chauke, direkteur van openbare vervolging in Gauteng, gestuur is, waarin Krejcir aanbied om bewyse teen dié mense te verskaf, asook beëdigde verklarings deur getuies wat Krejcir se aanbod staaf om skoon te kom.

AfriForum het Dinsdag ook briewe namens O’Sullivan aan Cyril Ramaphosa, adjunkpresident van Suid-Afrika en adv. Shawn Abrahams, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, gerig. Die briewe het ʼn opsomming gegee van die bewyse en ʼn beroep op hulle gedoen om dié waardevolle geleentheid te gebruik om beter te vorder in die oorlog teen misdaad. Al dié dokumente kan hier besigtig word.

“Krejcir sou geen misdade kon pleeg sonder die hulp en beskerming van senior amptenare in die strafregstelsel nie, wat, pleks daarvan om hom op te sluit, met hom saamgespan het om bedrog, korrupsie, afpersing, diefstal en moord te pleeg, asook om die gereg te dwarsboom. Ek het verskeie dossiere geopen wat volumes prima facie-bewyse teen dié senior beamptes bevat en nie een van hulle tot op hede aan die pen gery nie. Pleks daarvan is ek op die ontstellendste wyse aangeval met aansienlike staatshulpbronne,” sê Paul O’Sullivan.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die stigting van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid genoodsaak deur die feit dat korrupsie soos ʼn kanker onder die regering van Jacob Zuma versprei het en vinnig besig is om die land op sy knieë te dwing.

Kriel het daarop gewys dat die situasie vererger word omdat die strafregstelsel, wat korrupsie moet beveg, self deur kriminele geïnfiltreer is. Boonop is die strafregstelsel ook gedienstig aan gulsige politici wat hulself wil verryk. “Terwyl korrupte politici en hooggeplaastes nie vervolg word nie, word staathulpbronne misbruik om kampvegters teen korrupsie, soos Paul O’Sullivan en Pravin Gordhan, op bekookte aanklagte te vervolg,” het Kriel bygevoeg.

Die stigting van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid is volgens Kriel slegs die eerste stap in AfriForum se stryd teen korrupsie. Daar word tans aan die tweede stap gewerk, naamlik om ʼn privaat vervolgingseenheid tot stand te bring om korrupte persone self te vervolg wat om politieke redes deur die NVG beskerm word.

Vir meer inligting besoek AfriForum se webblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Kleintjie ·

Mooi so AfriForum ons is trots op julle en verheug om lid van julle te wees!!!!!!!!

Ww ·

Baie dankie dit gaan ‘n groot en goeie stap in die regte rigting wees ook bly om ‘n lid te wees

nieBAFUnie ·

So trots dat ek ‘n lid van AFRIFORUM is, die organisasie doen onmenslike hoeveelheid werk om hierdie piesang republiek nog enigsins geloofwaardigheid te laat hê.

lettie ·

Baie trots op jul, Afriforum. Met volhoubare deursettingsvermoe sal die korrupsie verkrummel en ons land weer ekonomiese voorspoed beleef. Misdaadtentakels het te lank die land vergiftig en toksies gemaak. Kap die slang se kop af voordat dit kans kry om te groei en dit keer ook dat een persoon te magtig raak.

Columbiana ·

Pasop Afriforum netnou us O’Sullivan net nog ‘n Piet Byleveld

LB S ·

Wat van Piet Byleveld? Hy was die beste! En ek dink O’Sullivan is net so goed. Voorspoed Afriforum!

Columbiana ·

PB Die beste sê jy? Jip die beste in mense se geld vat sonder om die werk te doen.

Tambotie ·

Baie dankbaar dat daar mense en instansies is wat sulke onbaatsugtige werk doen ..Dankie AFRIFORUM Baie dankie en voorspoed .

Aj ·

Wanneer sien ons ooit dat van die wat so korrup is in die staat tronk toegaan. Nooit want hulle kom weg met alles.

Max ·

U moet net ingedagte hou dat korrupsie n koloniale begrip is .

Piet ·

Ek dink nie O’Sullivan is net nog ‘n Piet Byleveld nie. Mens kan jouself gerus ‘n paar vrae vra, soos waar kom hierdie Ier ewe skierlik vandaan, wie is hy en wie betaal hom, want jy kry hom nie juis in die Geel bladsye nie. Hy het op ‘n stadium beweer hy gebruik sy eie fondse. Al wat mens verseker kan se is dat die ANC hom haat en solank hy hulle gas gee is hy n voordeel vir die land en al sy mense.

Maria van Dieweeck ·

Goeie nuus en sterkte, die taak is reusagtig, maar dit is haalbaar.

John ·

Ek sal maar lig loop en slaap as ek julle is. Moenie na donker gaan melk koop nie… en… en… Lyk my AfriForum het baie tyd en geld om te mors. Gee eerder aandag aan positiewe sake. Laat die duiwel sy eie trawante jag.

Rapes ·

Dankie aan al die rolspelers ons waardeer dit opreg. Net ‘n vriendelike waarskuwing” wees versigtig en hou julle oë oop.” Julle krap nou waar dit seermaak en baie sal dit nie waardeer nie. Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.