AfriForum en Solidariteit hof toe oor Afrikaans by UV

universiteit van die vrystaat 3

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

Die burgerregte-organisasie AfriForum en vakbond Solidariteit gaan Maandag die hooggeregshof in Bloemfontein nader met ʼn dringende aansoek teen die implementering van die 2017-taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat (UV). Dié beleid rangeer Afrikaans as taal van onderrig aan dié instelling uit.

Die hooggeregshof het op 21 Julie 2016 beslis dat die beleid ongrondwetlik is en die aanvaarding daarvan dus tersyde gestel moet word. Die universiteitsbestuur het egter ʼn versoek na beide die hoogste hof van appèl en die konstitusionele hof gestuur om teen die uitspraak te appelleer. Terwyl op ʼn antwoord hierop gewag word, bly die aanvaarding van die nuwe beleid in plek en kan die bestuur tegnies met die implementering daarvan voortgaan.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sou die eerbare optrede wees dat die bestuur sou wag met implementering – veral gesien in die lig van die verdoemende aard van die hofuitspraak teen beide hul optrede tydens die aanvaardingsproses, asook die diskriminerende aard van die beleidsinhoud. UV wou egter geen onderneming van dié aard gee nie. Voornemende studente word dus in die duister gelaat oor die feit of hulle in 2017 wel vir studie in Afrikaans kan registreer en dan ook sodanige studies oor die komende jare in Afrikaans kan voltooi.

“Voornemende studente word onregverdig benadeel. Die registrasietye loop uit en hulle moet spoedeisend weet wat hulle opsies is. Ons versoek die hof dus Maandag om hulle belange op ʼn dringende basis te beskerm,” het Bailey verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jaco ·

sover ek weet is Engels n verpligte vak op skool tot op matriekvlak. Het hierdie studente nie Engels deurgekom nie? Dis verg tog nie ‘n onderskeiding in Engels net om deur ‘n registrasieproses te gaan nie. Word wakker mense en aanvaar die veranderinge. ek sien nerens afrikaanssprekende kleurlinge wat kla oor die miskenning van Afrikaans nie. Ek sien nerens sprekers van Zulu of Tswana wat kla oor die miskenning van hulle tale nie. dis net wit afrikaanse mense wat kla. uiteindelik word ons almal wat wit is gebrandmerk as konserwatief, reaksioner, rassisties ens ens. Hou julle monde en beweeg net saam met die stroom. Wees bly die onderrigtaal is darem n makllk verstaanbare europese taal wat wereldwyd gebruik word en wat julle darem kon leer vanaf graad 1 tot matriek. wees ook BAIE bly die onderrigtaal verander nie na Zulu of Tswana nie. Offer julle simpel taal”regte” op. Dis bitter min om te verloor. Dit kon VEEL erger gewees het. Ons kon bloot omdat ons wit is ons eiendom verloor het en weggejaag gewees het soos in Zimbabwe, OF ons kon doodgemaak gewees het soos wat in die Kongo, Angola en Mosambiek gebeur het. Afriforum en Solidariteit kan al hierdie geld wat hulle so op hofsake oor Afrikaans mors, eerder gebruik vir werkskeppingsprogramme en selfs behuisingsprogramme vir werklose en arm wit mense.

harm ·

As jy vra hoekom mense in Afrikaans wil swot, vra ek vir jou dieselfde: hoekom lees jy hierdie artikel op Maroela Media en hoekom skryf jy jou kommentaar in Afrikaans? Want jou antwoorde is ook die antwoord van die studente – soos ek – wat aan die UV in Afrikaans swot.

Fanie ·

Beste Jaco, Afrikaans gaan oor veel meer as taal. Die universiteite wil nie maar net Engelse universiteite word nie. Universiteitsbesture wil nie net minder Afrikaans hoor nie, hulle wil minder Afrikaners sien. Dit gaan oor die algehele ‘transformasie’ oftewel politieke oorname van universiteite, en die afskaffing van Afrikaans is net die eerste stap. Die volgende is dat dosente en studente ‘verteenwoordigend’ moet wees, gevolg deur die ‘dekolonisering’ van kurrikulums. Afrikaans is die enigste skans teen Afrikanisering- dit gaan oor die wese van die universiteitswese. Jou stellings is aanduidend vs feit dat universiteite Tegnokrate oplei, ipv studente opvoed..

John ·

Professor Jansen is heel voldaan vort… (voorlopig) nadat hy sy voorgenome take volvoer het. Die UV is op sy kniee, skade en skandes staan opgeteken in die annale, geskiedkundige beelde le op hul kop, Engels is die wagwoord en voornemende studente krap kop. Die UV is verder afgradeer op die wereldranglys. ‘But who cares…’ Nog fondse moet ge-in word om nog skade te kom aanrig (na’ ‘n verdienstelike ruskansie vir nuwe slaankrag) in die naam van vooruitgang a la Afrika.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.