AfriForum en TKAG gaan hidrobrekingregulasies in hof betwis

Argieffoto (Foto: jwigley, Pixabay)

Argieffoto (Foto: jwigley, Pixabay)

AfriForum en Treasure the Karoo Action Group (TKAG) het dokumentasie by die Noord-Gautengse hooggeregshof ingedien en gaan poog om die regulasies met betrekking tot petroleum-ontginning en -produksie te betwis. Die regulasies is op 3 Junie vanjaar openbaar gemaak en staan wyd bekend as die “hidrobrekingregulasies” – met verwysing na die proses wat behels om gas vanuit diep skalie-afsettings te ontgin.

“Die regulasies is heeltemal onvanpas vir die doeleindes om ʼn tegnologie soos hidrobreking te reguleer,” het Jonathan Deal, die uitvoerende hoof van TKAG, gesê. “Daar is ook ander deurslaggewende onreëlmatighede inherent tot die regulasies en hierdie kwessies sal in die hof opduik. Op grond hiervan kan enige van die lisensies of permitte wat ooreenkomstig tot die regulasies uitgereik is, self gebrekkig wees.”

Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, het bevestig dat briewe wat aan die departement van minerale hulpbronne deur beide organisasies deur die verloop van 2014 en 2015 geskryf is, nooit verantwoord is nie, en pogings om ʼn vergadering met die nuut aangestelde minister, Mosebenzi Zwane, vas te maak, nie gerealiseer het nie.

“AfriForum se fokus is op die belange van gewone mense gerig,” het Kleynhans gesê. “Watervoorsiening vir huishoudelike verbruik en voedselproduksie in Suid-Afrika is by ʼn kantelpunt – ons kan nie rondstaan en toekyk hoe ʼn riskante en ekonomies onsekere tegnologie – met potensiële rampspoedige gevolge vir die omgewing – goedgekeur word nie.”

Volgens AfriForum het die departement van minerale hulpbronne, met die duidelike steun van president Zuma, op talle geleenthede beloftes gemaak om ontginningslisensies aan verskeie aansoekers, insluitende Shell SA, Challenger Energy van Australië en Falcon Oil & Gas, teen die einde van 2015 uit te reik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan 2 ·

Ons moet hietdie waansin beveg. Lyk my almal wat kan baat hieruit dink dit is in orde om probleme vir die volgende geslagte te los.

Peet Schabort ·

Ek sal graag wil weet wat die beloftes inhou. Hier sit ‘n ding agter ‘n ding.
Soos uitgestippel in die berig is daar onsekerheid oor die sukses van die tegnologie wat toegepas gaan word in die hidrobrekingsproses. Derhalwe gaan permanente skade aangerig word aan- en in ‘n sensitiewe omgewing wat onomkeerbaar gaan wees sou dit nie slaag.
Duidelik blyk dit dat die geldduiwel hier aan die praat is.

Tom Theron ·

‘n Brief word nie verantwoord nie, maar wel beantwoord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.