AfriForum en TKAG lewer kommentaar oor skaliegasregulasies

Argieffoto van ‘n betoging teen hidrobreking. Foto: Werner Beukes/SAPA

AfriForum en die Treasure the Karoo Action Group (TKAG) het formele kommentaar by die departement van water en sanitasie (DWS) ingedien oor die nuwe konsepregulasies rakende skaliegasboorwerk.

Die DWS is ook deur AfriForum in kennis gestel van ’n onreëlmatigheid met betrekking tot die uitstel van die kommentaarperiode, en versoek dat die kommentaarperiode heringestel moet word met ’n minimum periode van 60 dae soos per beste praktyk in kwessies van dié aard.

AfriForum se bestuurder van omgewingsake, Lambert de Klerk, sê die burgerregteorganisasie en sy langtermynomgewingsvennoot, TKAG, sal voortgaan met hul opposisie teen skaliegasboorwerk in die Karoo.

“Hierdie nuwe konsepregulasies, en die proses om skaliegas te myn wat deur die regulasies ondersteun word, sal water in wese bedreig, eerder as dit beskerm – en na ons mening werk dit teen die mandaat en plig van die DWS – wat daar is om Suid-Afrika se waterhulpbronne te beskerm. In ons formele kommentaar gelees saam met die tegniese bekommernisse geopper deur die TKAG het ons voorgelê dat die voorgestelde watergebruikregulasies in sy geheel onttrek moet word,” het De Klerk gesê.

Jonathan Deal, uitvoerende hoof van TKAG, het bygevoeg dat die groep suksesvol met die regering saamwerk rakende die regulasies, waarvan die mees onlangse die eenparige besluit in die Hoogste Hof van Appèl (SCA) teen die departement van minerale hulpbronne is. “Na ons mening is dit kortsigtig om ’n stel tegniese regulasies met ’n periode van 30 dae vir openbare kommentaar aan die gang te sit. Om dit in die middel van ’n ramptoestand te doen, met meer inperkingsregulasies wat voorlê, toon hoogstens ’n roekelose arrogansie rondom behoorlike openbare konsultasie en soos AfriForum gesê het dit kom voor asof die plig van die DWS om die kosbare waterhulpbronne te beskerm, geïgnoreer word.”

De Klerk het besorgde burgers aangemoedig om op te staan vir hulle reg tot ’n skoon en gesonde omgewing deur AfriForum se petisie teen alle hidrobreking te onderteken: https://afriforum.co.za/petisie-teen-hidrobreking-fracking-2/

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Is dit die ‘mynbou’ waaroor CR so kwyl; SA se poor people ryk gaan maak ok sommer regoor die land op boereplase en dan kan ons pap invoer vanaf… Maar not to worry met ons nuwe korrelbed-atoomkragtasies by luukse St Francisbaai (die rykes uitgeboelie en die ultra-guru’s ingetrek) en een langs Hermanus, kan ons op-gezoepte walvisvleis en atoomoesters soos konings eet. Sooo baie toeriste wag angstig om CR se marshland ter plaatse te beleef. Watter minister gaan nou weer die maskers vervaardig?

Dirk Mostert ·

Deale en sy trawante is besig met ekonomiese sabotasie. S.A. moes al lankal sy gasbronne benut het soos Amerika, waar hulle dit reeds dekades lank doen sonder omgewings-nadele. Die besware is onwetenskaplik. Deale het geen wetenskaplike opleiding nie. Groen propaganda tel nie. Deale kan gerus bekend maak hoeveel donasies is afkomstig van “hernubare” kragopwekkers, wie se ekonomiese lewensvatbaarheid geknou sal word deur goedkoop gas-kragopwekking.

johann ·

My inligting dui dat skaliegasontginning in die VSA JUIS nadelig is vir die omgewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.