AfriForum gaan appelleer teen Unisa-taalbeleid

Unisa (Foto: Gauteng-toerisme)

Verlof is aan die burgerregte-organisasie AfriForum verleen om teen die Pretoriase hooggeregshofuitspraak ten gunste van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se eentalige Engelse taalbeleid, te appelleer. Dié uitspraak is op 26 April 2018 gelewer.

Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalaangeleenthede, het die organisasie en sy regspan besluit dat dit noodsaaklik is om te appelleer, aangesien die beskerming van taalregte noodsaaklik vir gehalte-onderwys in die land is en die toekomstige stand van die ekonomie direk raak. “Die beskerming van die regte van Afrikaanssprekende studente is van sleutelbelang vir AfriForum en die organisasie sal voortgaan om hulle toegang tot moedertaalonderrig op alle moontlike wetlike wyses te beskerm en te bevorder.

“Hierdie uitspraak is na ons mening en die nasionale en internasionale navorsing wat ons die afgelope 12 jaar oor die belang van die beskerming van taalregte doen, nie in pas met ontwikkelinge op hierdie gebied nie,” het Bailey verduidelik. “Die regte waarvoor ons beskerming vra, raak die sprekers van alle amptelike tale direk.”

Kort ná verlof om appèl toegestaan is, het AfriForum goeie nuus verneem betreffende ’n ander taalsaak waarby die burgerregte-organisasie betrokke is. AfriForum is naamlik een van die organisasies wat die taalregte-aktivis Cerneels Lourens steun in ’n saak oor die gebrek aan wetgewing in al 11 amptelike tale. Tans word alle wetgewing in Engels gepubliseer, met ’n lukraak gekose tweede taal daarby. Dit beteken dat Suid-Afrikaanse wetgewing nie volledig in enige van die tien inheemse amptelike tale beskikbaar is nie. Lourens en sy medewerkers het die saak in 2017 by die Verenigde Nasies (VN) se Menseregtekomitee aanhangig gemaak nadat alle plaaslike regsremedies om veeltalige wetgewing moontlik te maak, sonder sukses uitgeput is. Dié klag word nou uiteindelik amptelik ondersoek. Lourens, AfriForum en die ander deelnemers aan die proses hoop dat die VN se ondersoek ook tot meer bewustheid oor die noodsaak van taalregte in die land sal bydra.

“Die VN se erns met hierdie saak behoort ook instellings soos Unisa daarop te wys dat studente nie sondermeer van onderrig in hul moedertaal ontneem kan word nie,” verklaar Bailey. AfriForum berei dus nou volstoom vir die appèlsaak teen Unisa se eentalige taalbeleid voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Goeie punt ·

Ek stem saad. Afriforum fokus eerder op selfbeskikkingsonderhandelinge.

Iemand ·

Dis baie moeilik om n kursus in Afrikaans te volg as die handboeke in Engels is. So tensy Afriforum beplan om al wat n handboek is te vtertaal, sê ek “maak net al die kursusse Engels”. Dis belaglik moeilik om oets soos Biochemie in Afrikaans te leer as die handboek Engels is want mens moet twee stelle terme onthou en dis nie aldag maklik om ‘n direkte vertaling te maak nie.

Frikkie Geld en huis ·

Skenk die geld, wat julle op die hofsaak gaan vermors, liewer aan Akademia.

D V ·

Dankie dat julle voortgaan. Dit is mos waarvoor ons ledegelde ondergaan.

jaco ·

Taal pleeg nie plaasmoorde nie. Taal skep nie werkloosheid weens regstellende aksie nie. Taal onteien nie grond sonder vergoeding nie.
Asseblief Afriforum, kla eerder oor goed wat regtig ons mense se lewens ontwrig.

Max Berg ·

Die Unisa van my (30 jaar gelede) is vandag so vuil en deurmekaar dat ek nie eens daar wil gaan nie, wat nog te se om daar Afrikaans te praat. Akademia.

Andrea ·

Unisa gebruik sedert die jare 90 al net Engels. Los dit asb, gebruik ons geld om ons te red: praat met lande wat bereid sou wees om ons in te neem. Hierdie is geldmors. Unisa is in elk geval op die afdraande pad. Vergeet daarvan. Red die mense wat die taal praat sodat Afrikaans later weer as voertaal by universiteite gebruik kan word. Vir nou is hierdie protes en hofsaak onbelangrik en n mors v geld. Ek begin wonder oor my lidmaatskap…

Gertruida ·

Uitstekende standpunt, Andrea. Die UNISA studie handleidings is beskikbaar in Afrikaans en dit raak kompleks aangesien handboeke in Engels is. Dit is egter makliker om bloot in Engels te studeer aangesien terminologie dikwels moeilik vertaal. Ons Afrikaanssprekendes het self ‘n verantwoordelikheid ten opsigte van die voortbestaan van ons taal.

Adriaan ·

Dat Afriforum opstaan vir ons taal is prysenswaardig, maar ek is van opinie dat ons groter, meer brandende kwessies het wat aandag hoort te geniet. Veiligheid op landelike gebiede is een voorbeeld…… asook die regering se blatante ONTKENNINGS dat daar in die eerste plek ‘n probleem is.

Om die taalbeleid te wysig gaan nie die bogenoemde oplos nie. Prioriteite mense, prioriteite….

Petro ·

CJ studeer jy tans by Unisa?? Moenie kommentaar lewer as jy nie self ‘n student is wat as gevolg van die nuwe taalbeleid sukkel nie. Daar is wonderlike mense by Unisa wat bereid is om jou te help. Ek ondersteun Afriforum 100%!!! Dit is regtig baie moeilik as jy vir 4 jaar in afrikaans studeer het en nou skielik is al die materiaal slegs in engels beskikbaar.

@Unisa ·

My vraag is hoekom word daar dan vraestelle in Afrika taale vertaal, behalwe in Afrikaans natuurlik, as alles kamstig engels is?

t ·

AfriForum, dis ‘n edel gedagte. Dis net dat al die geld wat julle agter die saak aangooi vir julle geen rendement sal bring nie. Dit is reeds besluit dat AL die instansies wat deur die staat beheer word uiteindelik Engels sal wees. Julle van alle mense behoort dit te weet. Spandeer eerder die geld en energie aan die uitbouing van Akademia.
“Pick your battles wisely”

John ·

Ongelukkkig is die’ kool nie die sous werd nie. Befonds liewer Afrikaanse se studente aan Akademia. Waarom die hof nader om jou ‘vee’ in ‘n swak gehalte poel water te laat suip. Die universiteit het reeds jare gelede lektore die pad laat vat weens verskeie redes… inderwaarheid die bestes. Los die spul en red dit wat saak maak vir ons voortbestaan.

Cornelia ·

Dankie Afriforum, dat jul op elke Afrikaner terrein die strydbyl opneem. Ons wil op geen speelveld die bal afstaan nie. Ongeag die “majority” wat hul eie tale minderwaardig ag en verleë blyk te wees oor die identiteit daarvan (my mening) het hulle tot op hede nog net hul eie agendas gevoed. Ons het nodig om nêrens handdoek in te gooi nie. Suid Afrika is Afrikaans in die eerste plek. Bou moedig voort. Die moorde sal slegs gestuit kan word onder ‘n Godvresende nuwe regering. En daarvoor bid ons. U doen ongelooflik baie as ‘n stutorganisasie om u volk se roepstem te vertolk op elke gebied. Dankie.

Of Hoe? ·

Cornelia, hoe is Suid-Afrika Afrikaans in die eerste plek? Daar is so baie amptelike tale en die enigste manier (na my mening) is om common ground te kry. Engels is so ‘n metode. Dit is natuurlik ook ‘n internasionale taal en, as ons kinders later oorsee wil gaan, sal die Engels handig te pas kom. Ek het al in Engels gestudeer en dit het my nie minder Afrikaans gemaak nie., Jou kultuur is mos jou kultuur, of hoe?

marous ·

Los die papier gekibbel en oor taal en kultuur. Hierdie mense het klaar reggekry om die Afrikaner te stroop van alles , en gaan nie hul steur aan enige hofdokumente nie. Gaan staan in die parlerment en vertel reguit in die heerser van die land se gesig wat se gevolge hulle gaan staan vir die volksmoord wat hulle besig is om te pleeg.

Eish ·

Alhoewel ek volkome saamstem dat dit n verlore saak is vanweë politieke diskriminasie, dink ek tog dat die aksie stukrag gaan gee aan buitelandse aktivisme synde die sake as amptelike bewys kan dien van onderdrukking. Soos mev. Bailey op n vorige artikel uitgewys het.

Invigilator@unisa ·

Ek werk vir unisa in limpopo en sien elke dag die vraestelle wat ontvang word. Ek persoonlik maak die vraestelle oop en oorhandig dit aan die studente voor hulle begin skryf. Daar is heelwat vakke wat wel in afrikaans is asook engels op dieselfde vraestel. Baie van die afrikaans sprekende studente verkies om in engels die vraestel te doen en te beantwoord. Maar ek stem saam met die mense wat dink dis geld mors met hofsake ens terwyl ons witvolk voor die voet vermoor word, plaas hulle gebruik die geld vir dinge wat nou dringend aandag nodig het. Ons kan ons kinders steeds afrikaans leer en hulle kan hulle kinders die taal leer sodat afrikaans nie uitsterf nie maar ons taal gaan ons nie beskerm teen hierdie geweld en onnodige moorde nie!

Willie ·

Die wat so kla….. Afriforum spandeer wel tyd en geld aan al die ander dinge ook. Lyk my party mense dink Afriforum is so klein dat hulle net een ding op n slag kan doen.

Williehorie ·

Beste Willie
Ons is nie blind nie. Maar die geld wat blindelings aan sulke hofsake afgestaan word, is nie waarvoor ek (vir een) my bydraes lewer nie. Ek wil graag, soos baie mense hierbo, groei by Akademia sien. Nuwe rigtings, keuring vir ons eie kinders. Selfbeskikking. Dit help nie daar gaan nie meer ‘n volkie oor wees om in Afrikaans by UNISA te studeer nie. Uitgemoor of getrek. Dus: voeg die ekstra geldjies waarvan jy praat, eerder by dinge waaroor ons volkie met reg bekommerd is. Om dinge te bespoedig. Want ons is bekommerd en sien niks gebeur nie…

Kryger ·

Kom nou mense! Dink julle regtig Afriforum doen dinge sonder met ‘n plan en ‘n toekoms visie. Hoe gaan staan ons nou voor die VN en se ons regte word vertrap, maar ons wend geen poging aan om dit te beveg in die hof nie?
Die negatiewe komentators hier moet besef julle lewer nie komentaar op ANC narre nie, maar op slim, geleerde mense wat spesialiste in hul vak gebiede is en hope suksesse al behaal het ten spyte daarvan dat almal gedink het die sake is alreeds verlore.

Christine ·

Afriforum: Gaan sit eerder om ‘n tafel om misdaad te begin bekamp saam met pres. Ramaphosa. Julle sal meer agtig en respek begin afdwing. Dalk moet julle met dosente by universiteite begin gesels oor hoekom dit voordeling is om in Engels te studeer. Dis altyd net ‘n paar regse oud/huidige akademiese “kenners” wat julle aanhaal. Ons in die universiteitsopset weet dit. Julle mors net julle skenkers se geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.