AfriForum gaan hof toe oor rassekriteria

Minister Khumbudzo Ntshavheni. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om ’n dringende hersieningsaansoek in te dien teen die minister van kleinsakeontwikkeling, Khumbudzo Ntshavheni, rakende die gebruik van swart ekonomiese bemagtigingskriteria vir die toekenning van hulp tydens die Covid-19-krisis.

Solidariteit het intussen ʼn dringende skrywe aan Ntshavheni gerig waarin daarop aangedring word dat sy afstand daarvan doen om ras as kriterium vir die kwalifisering van hulpfondse te gebruik.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, beskuldig Ntshavheni daarvan dat sy oneerlik was toe sy verlede maand AfriForum se stelling oor haar departement se gebruik van rassekriteria in die toekenning van hulp as “fopnuus” afgemaak het, net om vandeesweek aan te kondig dat rassekriteria wel ʼn rol gaan speel.

Maroela Media het vroeër berig die minister het Dinsdag tydens ʼn parlementêre vergadering gesê aansoeke om hulp vir klein, mediumgrootte en mikro-ondernemings (KMMO’s) gaan wel op grond van ras gedoen word.

“Asof dit nie oneties genoeg is dat die regering selfs in krisistye ʼn rasse-agenda bevorder nie, word die situasie vererger deur die minister se doelbewuste wanvoorstellings,” het Kriel Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Kriel voer aan dat Ntshavheni se oneerlikheid vererger word aangesien haar departement selfs bereid was om in hofstukke, wat onder eed geteken is, teenoor Solidariteit te onderneem om nie voort te gaan met die gebruik van rassekriteria wanneer hulp aan ondernemings toegeken word nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. (Foto: AfriForum)

Solidariteit het op 25 Maart ʼn klag by die Menseregtekommissie ingedien oor die rassevereistes wat vir die kwalifisering van noodfondse voorbehou word. ʼn Dringende aansoek is op 30 Maart aan die departemente van kleinsakeontwikkeling en toerisme beteken waarna die departement onder eed bevestig het dat hy nie sal voortgaan om hulp op grond van ras beskikbaar te stel nie.

Solidariteit was op 28 April in die Noord-Gautengse hooggeregshof om die saak teen die departement uit te voer. Daar is egter nie met die saak voortgegaan nie omdat hofstukke vanaf die departement bevestig het dat ras nie as kriterium gebruik sal word nie.

“Dit is skokkend dat ʼn minister bereid is om onder eed te verklaar dat ras nie ʼn kriterium sal wees in die toekenning van noodfondse nie en om dit nou, direk ná die hofsaak met die departement van toerisme, wel as kriterium te bevestig. Die minister maak haar skuldig aan meineed,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, nou.

Volgens Hermann sal Solidariteit voortgaan met dringende siviele regsoptrede teen die departement om die diskriminerende rassekriterium vir noodfondse onwettig te verklaar, sou Solidariteit nie op 1 Mei 2020 teen 13:00 ʼn onderneming vanaf die departement ontvang dat die vereiste geskrap word nie.

“Hierdie optrede van die minister is strydig met haar eed. Ons kan dit nie daar laat nie. Die pandemie diskrimineer nie. Die gevolge van pandemie diskrimineer ook nie en ons verwag van die staat om ook nie te diskrimineer as dit kom by die toekenning van hulp nie,” sê Hermann.

Die DA het Ntshavheni tot Woensdag 17:00 tyd gegee om haar stellings terug te trek. Sou sy dit nie doen nie, sal hulle ook regstappe neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Sterkte dreun hulle op

Fedup

Like the rest of all off them, ntshavheni is really starting to irritate me.

Willem

Kan sy nie persoonlik vervolg word omdat sy so lieg nie. Een oomblik is ras nie van toepassing en dan draai sy dit net om

Michael 1

Om onder eed te lieg beteken duidelik vir haar niks maar wat ontstellend is is die feit dat sy n minister met n portefeulje is en daar geplaas is om vir ons n leier te wees ,verlos ons van hierdie euwel is al wat nou by my opkom en al hoe dit kan gebeur is ons eie onafhanklike tuistaat.

Burgermeester

Al wat ek se is, #BlackPrivilege & #BlackMonopolyCapital. Na 26 jaar kom die ANC se ware intensies voorendag.