AfriForum gaan klag teen SARU by IRR indien oor kwotas in rugby

Argieffoto.

Argieffoto.

Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan ‘n amptelike klag teen die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (SARU) by die Internasionale Rugbyraad (IRR) indien na berigte dat Heyneke Meyer, Springbok-afrigter, opdrag gekry het om meer swart spelers kanse te gee in die span.

Daar is Maandag berig dat SARU se president, Oregan Hoskins, vir Meyer opdrag gegee het dat ras voortaan ‘n groter rol in die samestelling van die Springbokspan moet speel. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verbied die IRR se reëls uitdruklik enige vorm van rassediskriminasie en politieke inmenging in rugby.

“SARU se rassevoorskrifte aan die Springbokafrigter is ‘n kru vorm van rassediskriminasie en ‘n aanduiding dat SARU voor die minister van sport, Fikile Mbalula, se kwota-dreigemente geswig het,” het Kriel gesê.

Kriel het daarop gewys dat dit nie in belang van Suid-Afrikaanse rugby, spelers of dié sport se ondersteuners is dat SARU blatant die IRR se reëls oortree nie. Ordinansie 3 van die IRR se reëls en regulasies plaas ‘n verpligting op die IRR om enige vorm van rassediskriminasie in rugby te verhoed.

Regulasie 20 bepaal ook dat enige optrede in rugby wat op grond van ras diskrimineer, op “wangedrag” neerkom. Ingevolge ordinansie 9.4(r) kan die IRR dissiplinêr optree teen enige rugbyliggaam wat die reëls en regulasies oortree.

AfriForum is volgens Kriel ten gunste van rugbyontwikkeling, sodat die geleentheid aan almal gebied kan word om aan rugby deel te neem. “ʼn Rassekwota-beleid benadeel talentvolle spelers van alle rasse. Wit spelers word benadeel as hulle ter wille van rassevoorskrifte nie gekies kan word nie en swart spelers omdat die geldigheid van hulle opname in die spanne onder verdenking geplaas word,” het Kriel bygevoeg.

SARU en die regering behoort hulle versuim om op skoolvlak jong talent te ontwikkel, reg te stel met verskerpte ontwikkelingsprogramme, eerder as om op hierdie kunsmatige wyse rassegetalle te probeer manipuleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frank Passano ·

Ag die ou rugby-storie raak nou al so holrug gery; wanneer gaan Blanke SA besef hulle moet die
hele ou rugby-storie boikot, kyk wie gaan dan SARU se stadiums volsit.

Demokraat ·

Frank, jou standpunt het wel meriete maar so gou moet ons ook nie abdikeer nie maar moet, daarenteen, ons steun aan AfriForum gee om hierdie saak teen SARU by die Internasionale Rugbyraad te dryf. Die saak teen SARU het baie meriete en kan eerder slaag as misluk.

Dit blyk nou duidelik dat SARU ook ‘n handperd van die ANC-regering se Mbalula, minister van sport, geword het. Beide moet tot inkeer gedwing word want waar in die wêreld word sportspanne op grond van kleur verkies in pleks van meriete.

Grassie ·

Ek is my lewe lank – en dit is al donkie jare – ‘n stoere Bok en Bloubul ondersteuner. Sodra die regering hierdie diskriminerende maatreëls afdwing sê ek vir rugby totsiens en sommer vir die peperduur DSTV ook.
Ek waardeer Afriforum se pogings maar die regering het ‘n geskiedenis dat hy hom nog nooit aan ‘n hofbevel gesteur het nie.

Shannon ·

Nico Strydom ek sou graag my twee sent wou bydra maar ek dink Maroela se modder maker sal haar seker weer wip – as ek die ander perspektief van AfriForum se hof bedryf sou stel.

En as dit nie AfriForum is nie dan is dit Dok Piet van die Front wat al weer in die hof en in die nuus is.
Daasy, nou’t ek altwee jou helde gekritiseer. Verban ! Verban ! Jy dult mos nie ander sienings nie, maar ek sien jy’s wel ok met vuil taal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.