AfriForum gaan SARU se transformasie-plan namens ’n groep 0/16 rugbyspelers beveg

Argieffoto

Argieffoto

AfriForum sê hy gaan die Suid-Afrikaanse Rugby-unie se transformasie-plan, wat vandag deur die Sondagblad Rapport onthul is, internasionaal beveg.

AfriForum sê die transformasie-plan sal beveg word as deel van ‘n klag teen die rassekwotastelsel in Suid-Afrikaanse rugby, wat AfriForum se regspan tans namens ’n groep van ses 0/16-rugbyspelers en hulle ouers voorberei.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sal die klag eersdaags by die Internasionale Rugbyraad (IRR) ingedien word. Kriel sê dit sal ook by die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie in Lausanne (Switserland) verder gevoer word, indien die IRR nie bereid sou wees om die rassekwotastelsel in Suid-Afrikaanse rugby te verbied nie.

Kriel sê dit is ʼn skande dat SARU met die nuwe transformasie-plan bereid is om rugby en spelers se belange op te offer ter wille van politieke gedienstigheid aan die ANC se rasse-ideologie. “AfriForum sal daarom geen moeite of geld ontsien om SARU se transformasie-plan hand en tand te beveg nie,” het Kriel bygevoeg.

In die klag wat AfriForum namens die 0/16 rugbyspelers gaan indien, sal aangevoer word dat die kwotastelsel tot gevolg het dat daar onregmatig, op grond van ras, teen wit spelers gediskrimineer word.

Kriel sê die IRR en Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se regulasies verbied uitdruklik enige vorm van rassediskriminasie. “Die klag sal spesifiek verwys na die bepaling, wat tydens die 0/16 interprovinsiale Grant Khomo-week geld, dat daar ten alle tye agt swart spelers op die veld moet wees, asook die kwotavereistes op ander vlakke in rugby, wat die potensiaal het om die spelers in die toekoms te benadeel.”

Volgens Kriel sal die klag ook daarop geskoei wees dat die regering se politieke inmenging in die kies van rugbyspanne, ’n oortreding is van die IRR se regulasie wat politieke inmenging in rugby verbied. “Die besluit om ’n klag by die IRR in te dien, kom nadat SARU geweier het om gehoor te gee aan AfriForum se amptelike versoeke om van die kwotastelsel afstand te doen.”

AfriForum kan volgens Kriel nie stilsit en toekyk hoe jong mense se drome en sportloopbane vernietig word deur rasbehepte politici en sportadministrateurs nie.

Kriel het daarop gewys dat die klag oor kwotas in rugby bloot die eerste stap is en dat AfriForum na die afhandeling van hierdie saak, soortgelyke sake teen kwotas in onder meer krieket, netbal en hokkie sal voer.

Kriel het gesê dat AfriForum ten gunste van sportontwikkeling is, sodat almal die geleentheid kan kry om aan sport deel te neem. ’n Rassekwota-beleid dra volgens hom egter nie daartoe by om nuwe spelers te ontwikkel nie en benadeel talentvolle sportsterre.

“Talentvolle swart spelers word ook deur kwotas benadeel omdat die geldigheid van hulle opname in die spanne voortdurend onder verdenking is, terwyl kwotas talentvolle jong wit spelers van geleenthede ontneem,” het Kriel bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gert ·

As SARU nie wil luister nie, looi hulle by die ingangshekke. Dit sal net nodig wees om 1 wedstryd, tussen twee plaaslike spanne in Super15 (of hoeveel dit ookal gaan wees) totaal te boikot. Met plakaatdraendes buite die stadion kan ons wêreldwyd aandag trek tot die saak. So iets moet net spontaan ontstaan, sonder die naam van Steve of Afriforum of die EFF of wie ookal daaraan gekoppel. Iewers moet ons as minderheidsgroep, wat in rugby se geval eintlik ‘n meerderheidsgroep is, nou die streep trek.

Sjert ·

Uitstekende voorstel Gert!

Moet ons nie die eerste proeflopies gedurende die huidige Curriebeker wedstryde aan die gang sit nie? Wat die huidige betref, kan Pretoria en Bloemfontein moontlik die beste kandidate wees. Loftus se pryse is bowendien verby die absurde.

Hoe ookal, hoe gouer ons – die betalende kykers en ondersteuners van rugby – ons rue styf maak teen die sotlikhede vanuit SARU geledere, hoe gouer kan die boodskap deursyfer dat ons nie SARU en die ANC se politiekery gaan duld nie.

Baie dankie ook en alle sterkte aan Afriforum se ysters!!!

david ras ·

Ek steun Gert se mening ten volle. Wat nou hier gebeur is dat ‘n persentasie posisies in ‘n span gereserveer word vir swart spelers. Dus, waar “Reserved for Whites” ‘n aarts sonde was, is “Reserved for Blacks” nou heeltemal aanvaarbaar. ! Dis nou SWART APARTHEID.
Ek wonder of die ouers van skoolgaande seuns wat VERANTWOORDELIK is vir die WELSYN van hulle kinders meen dat om sy kind aan SARU se rassisme bloot te stel tot sy geestelik welsyn strek ?
Ek is hoeka al op rekord dat na my mening SA verteenwoorigende spanne niks minder as “politieke uitnodigingspanne” is nie. Die politici beveel HOE gekies moet word, maar is te lafhartig om te beveel watter individue gekies moet word.
Dit is tyd om hulle bluf bloot te stel—
Moenie net praat nie Kallie Kriel–druk die IRB in ‘n blik. Stel dit duidelik dat as hulle nie gaan optree teen SARU nie, gaan julle hof toe (in Engeland) om hulle te dwing om hulle grondwet uit te voer.
Ten minste sal so ‘n saak nie voor ons getransformeerde Hof dien nie.

coenraad ·

“Talentvolle swart spelers word ook deur kwotas benadeel omdat die geldigheid van hulle opname in die spanne voortdurend onder verdenking is, terwyl kwotas talentvolle jong wit spelers van geleenthede ontneem,” het Kriel bygevoeg.

*Hulle* velle is so dik dat ek nie dink die stigma onstel hulle te veel nie. Buitendien, so ‘n stigma is rassisties in hulle wêreld.

Paplepel ·

Miskien is dit nou die regte tyd om onsself te bekeer en weg te draai van die rugbygod, die geldgod en die Supersportgod. Hulle kon nog nooit vrede bring nie. Dis altyd ‘n baklei en opswepery.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.